Trane, teleurstelling ná operateur oorsese sporttoere oornag opskort

Beyneveldt sê hy het geen ander keuse gehad as om die Facebook-blad te sluit nie.

Nie net is tientalle ouers glo derduisende rande kwyt nie, hul kinders is ook platgeslaan deur die nuus dat ʼn toeroperateur oënskynlik oornag verdwyn het met die geld vir hul oorsese sporttoere.

“My kind se tas was klaar gepak,” het Elischa Fourie, wie se dogter Jenny van Blerk op ʼn hokkietoer sou gaan, gesê. “Sy moes die tas gisteraand terugsleep kamer toe. My hart het gebreek vir haar,” het dié ma van Secunda in Mpumalanga gesê.

Sy is een van talle ouers wat dieselfde stel afgetrap het met Vision Sport South Africa, ʼn maatskappy wat oorsese sport- en akademiese toere vir skoolkinders organiseer. Die meeste van hierdie kinders is tydens provinsiale toernooie gekies om aan die oorsese toere deel te neem.

Jenny moes aanstaande week op die toer na Nederland vertrek, wat ook ʼn besoek aan Frankryk en onder meer Disneyland in Parys sou insluit. Internasionale afrigters sou haar dogter, ʼn doelwagter, tydens die toer leiding gee. Hulle het boonop ʼn skarefinansieringsingsinisiatief begin om geld vir die toer te help insamel. Jenny was rasend van opgewondheid.

Gister het Fourie egter ʼn WhatsApp-boodskap van Michael Beyneveldt ontvang dat Vision Sport South Africa oornag gesluit is. In die WhatsApp-boodskap aan ouers sê Beyneveldt “dit was ʼn moeilike besluit om te maak, gegewe al die lewens wat deur die besluit geraak gaan word”.

In die boodskap sê hy ook dat hy met sy regspan sal vergader oor die proses wat nou gaan volg.

Die boodskap wat Michael Beyneveldt aan ouers gestuur het. Hy sê hy het dit gedoen omdat hy vrees vir sy lewe.

Beyneveldt het Vrydag aan Maroela Media gesê hy het die boodskap onder dwang gestuur, omdat hy gevrees het vir sy lewe. “Ek is met die dood gedreig. As ek nie gister my onderneming toegemaak het nie, sou iemand my geskiet het,” het hy gesê.

Fourie het gesê haar dogter is verpletter.

“Sy het baie gehuil gisteraand. Haar hart was bitter seer, maar geloofsgewys het ons baie hieruit geleer. Ek het besef daar is só baie mense wat in Jenny glo en vir my was dit ook ʼn geloofsproses. Die Here het ons elke keer gehelp,” het sy gesê.

Sy het haar bank gekontak om te hoor of sy enige van die geld kan terugkry, en is meegedeel dat die rekening waarin sy die geld inbetaal het, as “bedrieglik” gemerk is.

ʼn Klomp jong rugbyspelers is vroeër na bewering meestal by die Noordvaal-toernooi in Vereeniging gewerf en hulle sou op 30 November na Argentinië vertrek. ʼn Ouer van Noordwes het gesê haar seun se vertrekdatum is daarna tot 2 Desember uitgestel. Gister het sy dieselfde boodskap ontvang dat die toer daarmee heen is.

“Hy is baie teleurgesteld,” het die ma gesê.

Hulle het sowat R37 000 vir die toer opgedok. Haar dogter sou boonop saamreis en het die méér as R37 000 vir die toer uit haar eie sak betaal.

Die ma het gesê die gesin gaan nou regsadvies inwin en minstens probeer om die geld terug te kry.

Nóg ʼn ma het aan Maroela Media gesê hulle het verneem dat Beyneveldt nagenoeg twee maande lank in Japan vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi was. Van háár kind se droom op ʼn oorsese reis is daar in dié stadium egter nie veel oor nie.

Sy het gesê haar 16-jarige seun het bitter hard gewerk om die span te haal. Dit sou boonop sy eerste keer op ʼn vliegtuig wees.

“Hierdie geld was vir ons bloedgeld en nou is dit weg. Ek glo nie ons gaan enigiets terugkry nie.

“Maar erger nog, hierdie kinders se drome is heeltemal verpletter,” het sy gesê.

Van die korrespondensie wat Vision Sport SA aan ouers gestuur het.

Stephen Claassen, wie se seun ook na Argentinië sou reis, het gesê sy kind het die nuus baie swaar verwerk. “Hy is verslae. Stukkend. Ons het saam met hom om die tafel gaan sit en dit vir hom verduidelik en die volgende oomblik was daar trane.

“Hy het vir my gesê ‘dad, ek het so hard gewerk hierdie jaar…’. Hierdie is seker die realiteit, maar ek dink nie dis die soort realiteit wat ʼn 15-jarige hoef te verwerk nie,” het Claassen gesê.

Claassen sê hulle het ook meer as R37 000 vir die toer betaal. Dit sluit egter geen ander onkoste, soos paspoorte, visums, klere en inentings in nie.

“Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor die kinders. Ek kan nie vir jou die verslaentheid op my kind se gesig beskryf nie.”

Daar is glo ook skole wat reeds deposito’s aan Vision Sport South Africa betaal het vir toere aanstaande jaar.

Vision Sport South Africa se Facebook-blad was Vrydagoggend nog aktief, maar het later nie meer gewerk nie. Beyneveldt het bevestig dat hy dit gesluit het.

“Die ouers kruisig my. Daar word nou gesê dat ek skelm is. Ek wil graag hê my maatskappy moet nog voortbestaan, maar die mense is genadeloos.”

Volgens hom het ʼn groep ouers vanoggend selfs by sy huis opgedaag en gedreig om hom dood te maak.

Hy hou voet by stuk dat die toere gekanselleer is omdat die meerderheid ouers nie betyds daarvoor betaal het nie. In een geval is 71% van die geld uitstaande en in nog ʼn geval soveel as 89% van die toergroep se geld, het hy gesê. “Ons het geen ander keuse gehad as om die toere te kanselleer nie.”

In dié stadium word vier toergroepe, ʼn sokker- en rugbytoernooi en twee hokkietoernooie deur die besluit geraak.

Een van Vision Sport SA se boodskappe aan ouers.

Beyneveldt het gesê hy het by ouers gepleit om betyds die uitstaande bedrae te vereffen.

“Ek kan nie verstaan dat mense soveel klippe gooi omdat hulle laat is met hul betalings nie. Dit is verskriklik onregverdig. Maar ons moet die kontrak afdwing,” het hy gesê.

Volgens hom het hy reeds deposito’s aan onder meer die lugdiens, hotelle en ʼn oorsese agent betaal – geld wat hý sê hy nie weer kan terugkry nie.

Beyneveldt het ook gesê daar sal nou ʼn proses gevolg word om vas te stel wat billike terugbetalings sal wees. Reëlings daaroor sal met die betrokkenes getref word, het hy gesê. Hy win intussen regsadvies in.

Hy het gesê ʼn vorige toer wat onder soortgelyke omstandighede gekanselleer is, se geld is wel terugbetaal.

Beyneveldt het ook gesê hy gaan vandag nog met ouers kommunikeer en hulle op hoogte bring van die jongste verwikkelinge.

Mark Alexander, president van SA Rugby (Saru), het by navraag gesê wat betref die rugbytoere was daar geen toestemming van Saru daarvoor nie. “Dit is ʼn skande. Hier is individue wat op ouers teer en hul vertroue skend,” het hy gesê.

Hoewel Saru geen affiliasie met enige van die toere het nie, het hy steeds opdrag gegee dat die situasie ondersoek word, het Alexander gesê.

Hy het gesê Saru waarsku ouers jaarliks teen ongemagtigde toere wat aan hul kinders aangebied word.

Alexander het ook gesê wanneer ʼn toer onder Saru se vaandel onderneem word, is daar streng bepalings waaraan voldoen moet word. Tydens súlke toere word die Suid-Afrikaanse ambassade in die betrokke land byvoorbeeld daaroor ingelig, sou enige van die toerspanlede in die buiteland hulp benodig.

“Ons stel ondersoek in. As enige van ons unies betrokke is, sal ons optree,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

SM ·

Dit is skreiend! Maar hy kon 2 maande in Japan toer?? Dit maak mens woedend dat ouers en kinders so ingedoen word.

Jaques ·

Dit is wel ‘n jammerte dat ouers ingedoen word, maar as die ouers wel nie die toergelde teen die voorafbepaalde tyd betaal het nie kan al die skuld sekerlik nie voor die organiseerder se deur gele word nie.
Ek hoor van baie toere (binnelands) waar daar met ouers baklei word die week van die toer om hulle gelede te betaal. Die storie het altyd 3 kante.

Leon ·

En die ouers het nie betyds betaal nie. Nou wil hulle hom stenig. As jy nie bataal moet nie verwag dinge gebeur nie. Onthou dit net. Hy het gewaarsku.

Lava Lamp ·

Ek hoor wat julle sê Jacques, maar hulle lyk maar slapgat as dit kom by geld invorder… Jy stuur nie ‘n general mail uit vir almal nie, stuur ‘n persoonlike mail/oproep na die ouers wie se goed uitstaande is. Niemand reageer op ‘n general mail nie…

marita ·

Ons is deel van Noordvaal groep wat na Argentinie sou toer maandag. En ons gelde is betaal volgens die tydlyn wat gegee is. sy feite is glad nie reg nie. ons het ons bewyse. hy staan al op 11 toere waarmee hy die gedoen het. All bewyse is ook beskikbaar van oorsee verblyf, bus toere ens wat nie ‘n sent op betaal is nie. ook bewys dat sy kaar x3 keer decline het weens onvoldoene fondse, HY IS ‘n Skelm.

Xyx ·

Eks n afrigter wat op toer sou gaan!
September was die netbal geskanseller. Seker skole het steeds gegaan, maar nie vir die sport nie.

Daar is gesê ons gaan 2 Desember Mauritius toe! Ons ouers se gelde was tenvolle betaal. Ons gaan nie meer nie en ons ouers het niks terug ontvang nie.

brenda ·

Ons het R34890 vir een van ons hokkie leerders ingesamel by die skool want ma kon dit nie bekostig.Laasweek moes sy skielik R4308 meer betaal. Weet hy wat aan al die kinders gedoen het , het. Hy is n bedrieer . Hy het geen betalings gedoen .Ouers het pasportte laat maak. Vir visas betaal .Hoe slaap jy in die aand. Sies man.

Witbanker ·

Nou betaal die ouers se gelde terug wat wel betaal het. Met die atletiek toer is daar nie eers verblyf in europa bespreek nie.

Andrea Joubert ·

I’m a single parent and Witbank Primary School raised funds for my son Aiden Joubert to also go for the hockey tour and sadly last week Friday Vision Sport told us to pay the exchange rate ….and all of a sudden my son cannot go,this is unacceptable last minute disappointment as a parent we work hard for our kids future

Andrea Joubert ·

As j n ouer is wat op datum betaal het is dit regverdig,hoekom het hulle nie vroer kommunikasie uit gestuur oor d kanselasie van vlug

willem ·

noordvaal toer pa, alle gelde was betaal , Micheal is n leunaar, die ander rugby toer Apcam se gelde was ook alles betaal, Micheal het al die geld vermors en uitgelewe, daar is nie eers iets om die ouers met te betaal nie, moenie n woord glo wat Micheal beyneveld sê nie

Rugby ouer ·

Hy het sy kaarte baie mooi gespeel en met n fyn uitgewerkte plan gewerk. Nou is hy die slagoffer, glad nie die waarheid nie. Net jammer soveel drome is vernietig.

Noorvaal Pa ·

Michael vertel soveel leuns hy glo homself al. Het al die seuns se drome verpletter, ouers duisende rande gekos, en is besig om homself met mooi stories te probeer beskerm. Die waarheid sal nog uitkom. Bly ek is nie sy prokureur nie.

Sussie ·

Hy lieg lekker. Die gelde is betaal. Hy het geen gelde oorbetaal vir verblyf of vlug kaartjies nie.
Ouers het bewyse van inbetalings en het self navrae gedoen.

Sy kierangs gaan braai. Jy bedrieg nie so baie mense en kom skotvry nie.

Ouer en seun wat in dieselfde bootjie sit.

Marius ·

My seun was laas jaar op n toer Frankyk toe , en die verskonings is presies dieselfde. Die verblyf was nie dieselfde as wat hulle gese het nie, die program het ook verander.Die toer was R50 000 en ons moes inteendeel nog geld inbetaal omdat die “ rand dollar “ kamstig gewissel het.

Mary-Ann ·

Yip – hierdie selfde hokkie ouers wat se toer nou gekanselleer is, is laasweek in kennis gestel dat hulle nog gelde moes betaal as gevolg van die wisselkoers. Gelukkig het ons vriend gaan kyk en gesien dit is nie waar nie en geweier om ekstra te betaal aangesien hulle die volle fooie reeds betaal het. Hy het toe onraad begin vermoed en begin vra wat gaan aan.

Mary-Ann ·

Dit is n skande!!! Vriende van ons is deel van die toergroep wat se toer gekanselleer is. Hulle volle fooie is betaal en hulle het bewys van die agentskap wat die vlugte gereël het dat geen gelde of deposito’s betaal is vir vlugte nie so wat het hy met die geld gemaak??? Ek het die epos van die maatskappy self gesien wat hulle bevestig geen gelde vir vlugte is ontvang nie?? Iewers is n groot slang in die gras.

Joe ·

My seun ook laasjaar op toer Frankryk toe….van die ongeveer 4 wedstryde wat gespeel sou word, was net 1 gespeel. Die beloftes wat gemaak was oor verblyf en uitstappies was nie nagekom nie. Organisasie en kommu ikasie vooraf was pateties. Bloedgeld was betaal vir die toer. As ek tóé geweet het wat ek nou weet het ek hom nooit gestuur nie.

Seepbox ·

Ons as ouers is blind. Hierdie goed is uit en uit net geldmaakstories. Ons word om die neus gelei met allerhande “proewe” waar kamekastig “gelyke “ kanse gegee word…. kinders word gekeur tydens een spel op die veld miskien (Met krieket lagwekkend in die net). Te goed om waar te wees. Vra jouself af, het jou kind al so goed gespeel om n PROVINSIALE span se 3de rondte van proewe te haal? Nie? Hoekom skielik dan so goed dat (kom ons noem hulle “keurders” hom/haar sal kies vir n span en skielik oorsee stuur?? Bly ons was wakker genoeg en het logika gebruik om nie in so strik te val nie. So bitter jammer vir die kinders. So iets ruk hulle na die werklikheid, onnodig om hulle jong ouderdom. Hoe verduidelik jy dit aan n kind.

Ouervantoer ·

Dit is beslis nie n geval van wanbetaling nie – liewer wanbesteding
Ouers het die bewyse van gelde aan Vision Sport betaal

Coenraadt ·

Hy lieg. Hys het ons ook met die selfde verskoning gevang. Moes ook 2weke voor die toer vertrek nog R5000 betaal vir wisselkoers. Hy het gister in die apcon meeting gewys hy het niks geld in sy rekening nie. Kan ook nie wys waar is die fondse nie

JV ·

Skole reisagentskappe is van die grootste skelms wat daar is. Hulle laai vliegtuigkaartjie pryse met duisende rande, voorsien nie al die klere nie, bespreek goedkoper verblyf, wedstryde word gekanselleer. Die wisselkoers is kwansuis altyd die rede. Vision Sports is nie die enigste maatskappy wat dit doen nie. Op die plaaslike toernooie word jou kind gekies om SA te verteenwoordig, maar geeneen van die sports federasies weet eers van die toere nie. Sekere skole verbied hierdie maatskappye om hulle kinders te kies vir hierdie spanne. Ongelukkig neem meeste ouers lenings uit om hierdie toere te betaal en dan word hulle ingedoen. Het een keer in die strik getrap en sal nooit weer my kinders op so toer stuur nie.

Juffer ·

Mense…..niemand is dood nie. Dis wereldsgoed. Wees dankbaar dat jy nog jou kind by jou het vanaand. Leer jou kind iets hieruit en gaan aan met julle lewens….

Pampoen ·

Nee! Daar het heeltemaal te veel kinders seergekry. In sulke gevalle begin mens mob-justice verstaan.

Erich ·

Nee wat – hy het lekker wereldbeker gaan bywoon met julle geld. Skryf dit maar af.

Petrus ·

Volgens hom het ‘n vriend daarvoor betaal.
Ook was hy defnitief nie vir twee maande daar nie. 2 keer dalk maar nie maande nie

H ·

Ek het ook al opgetree as leier om vir n groep van ons as vriende toere te reël. Jou betalings voorwaardes kan nie so op die nippertjie gefinaliseer word nie. Is die maatskappy geregistreer as n opgeleide toeroperateur, indien nie dan weet hy nie wat reg is nie. Siviele hof toe met hom.

HP ·

Gaan soek die besigheid op Hello Peter se webwerf, en moet nie naïef wees.

Doelbewus ·

MI was daar was nooit ‘n intensie om te toer, gaan gerus die’ besprekings’ na wat oorsee gedoen sou wees, bv verblyf en hokkieklub reëlings.

Kraai ·

En as die gelde wat hy moes in vorder om al die goed te reel nooit in betaal is nie, wat moet hy doen hy kan mos nie betaal sonder dat ouers betaal nie dis mos logiese denke dat jy nie iets kan bespreuk sonder geld vir bespreukings nie

Elize ·

Ons het 2 jaar terug dieselfde stel met hulle afgetrap. Ons het R32000 verloor.

@kraai ·

Baie gate in jou argument maar net een punt ter illustrasie, hoekom betaal hy dan nie die geld terug?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.