Tribunaal verwerp lang uitstel van regter se verhoor

Regter Nana Makhubele. (Foto: GroundUp)

Deur Daniel Steyn, GroundUp

ʼn Poging om die Regterlike Gedragskomitee se verhoor oor bewerings van wangedrag teen ʼn regter en voormalige Prasa-raadslid opnuut weke lank uit te stel, is van die hand gewys.

Die tribunaal na regter Nana Makhubele se gedrag is in 2021 op die been gebring, ná die drukgroep #UniteBehind in 2019 al ʼn klagte teen haar ingedien het.

Dit het verband gehou met haar besluit om as voorsitter van die Passasierspooragentskap (Prasa) aan te bly, ondanks die feit dat sy as regter in die Pretoriase hooggeregshof aangewys is. #UniteBehind voer aan dit was ʼn skending van die regterlike gedragskode.

Die verhoor is nou al etlike keer vertraag. Die jongste vertraging was weens ʼn dispuut oor Makhubele se regskoste – wat meer as R3 miljoen beloop – en waarvoor die belastingbetaler moet opdok.

Makhubele is boonop by die destydse kommissie na staatskaping genoem nadat sy glo haar invloed by Prasa gebruik het om die belange van die maatskappy Siyaya, wat ook by beweerde korrupsie betrek word, te bevorder. Sy is ook daarvan beskuldig dat sy Prasa se regspan omseil het en was glo instrumenteel in die ontbinding van die paneel prokureurs wat korrupsie by die agentskap moes ondersoek.

Adv. Vincent Maleka, wat Makhubele vantevore by die tribunaal verteenwoordig het, het Maandag gesê die staatsadvokaat het hom eers Vrydag ingelig dat die dispuut oor die betaling van die regskoste opgelos is en dat hy kan voortgaan om Makhubele te verteenwoordig.

Maleka het aangevoer hy het sedertdien nie genoeg tyd gehad om met Makhubele te konsulteer of behoorlik voor te berei nie en dat hy boonop nie hierdie week beskikbaar is nie. Hy het aangedui hy sal teen die einde van Februarie beskikbaar wees en het gevra dat die saak tot dan uitgestel word.

Dit het nou aan die lig gekom dat die staatsprokureur nog nie Makhubele se regspan vir die werk wat hulle tot dusver gedoen het, betaal het nie. Maleka sê egter die regslui moes inkomstebelasting betaal op grond van die fakture gelewer aan die staatsprokureur, terwyl BTW boonop aan die inkomstediens oorbetaal is.

“Ons het gesubsidieer vir die werk wat ons gedoen het,” voer Maleka aan.

Regterpresident Achmat Jappie, tribunaalvoorsitter, het egter gesê toe die tribunaal die laaste keer verdaag het, is daar ooreengekom dat die saak op 22 Januarie hervat sal word – of Makhubela nou regsverteenwoordiging het of nie.

Jappie het die verhoor tot Woensdag uitgestel sodat Makhubela ʼn kans het om “haar posisie uit te sorteer”.

Dit is egter onduidelik of Maleka sal voortgaan om haar te verteenwoordig.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp gepubliseer en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michael ·

Dit is die taktieke wat gebruik word stel uit tot dit afgestel word ,hoe lank gaan malema se sake al aan.

Marous ·

Waarom moet die belasting betaler altyd opdok vir hierdie mense se gemors ?

domheks ·

Zupta het die voorbeeld gestel – uitstel, uitstel tot piet kom.

JohanR ·

Hierdie nonsens moet stop gesit word. ‘n Regter moet net dood en voudig se dat ‘n saak nie langer as ses maande neem nie.

Di ·

Howe en regters net so onbevoeg soos die ANC regering. Mens kan duidelik sien wie het hierdie spul aangestel in hulle poste. Selfs die NVG is die grootste KLUGSPUL met die meeste ONBEVOEGDE lede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.