Trok se brieke gee glo in net voor N12-ongeluk

(Foto: Verskaf)

Ná ’n ondersoek oor die groot ongeluk Woensdagmiddag by die aansluiting van die N12 en Edenvaleweg in Rietfontein, Ekurhuleni, is vasgestel dat die ongeluk plaasgevind het nadat die betrokke vragmotor se remme vermoedelik ingegee het.

Altesaam 53 mense is beseer nadat dié vragmotor, ’n bus en talle motors in die botsing betrokke was.

Die ondersoek deur die Ekurhuleni- metropolitaanse munisipaliteit dui daarop dat die vragmotor op die N12-afrit onderweg was na Edenvale toe sy remme vermoedelik onklaar geraak het. Die vragmotor het teen verskeie voertuie gebots voordat dit teen ’n metrobus vol passasiers tot stilstand gekom het. Die bus is regoor die pad gestoot.

Teen Donderdag is vasgestel dat daar 53 beseerdes na verskeie hospitale vervoer is. Die beserings het gewissel van kritiek tot lig van aard.

Vier van die beseerdes was in ’n kritieke toestand en is per helikopter na hospitale gehaas.

Van die pasiënte het egter geweier om na hospitale geneem te word en hulle is eerder per bus vervoer.

Die munisipaliteit se ramp- en noodbestuursdienste, asook Edenvale en Bedfordview se brandweer- en reddingspan was op die toneel om bystand te verleen.

Beamptes van die energiedepartement is ook ontbied om te help met ’n verkeerslig en ’n straatlig wat in die slag gebly het. Vonke vanuit die ligte se elektries gelaaide drade is onder beheer gebring om sodoende ’n brand te verhoed.

Die plaaslike metropolisie sal die saak verder ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nico ·

Dit is mos maklik, vermoedelik onklaar geraak het, die bestuurder moes inspeksie gedoen het voordat hy gery het, nou gaan dit die vervoer maatskappy se skuld wees. Dit kan ook met opset gedoen gewees het, het hierdie bestuurdes ooit ‘n bestuurs lisensie of PDP bevoegdheid gehad. Sulke dinge is nie altyd die maatskappy se skuld nie. die oorsaak kan ook wees, moegheid en alkohol.

Racheltjie Debeer ·

As die Ekurhuleni Metro Polisie ‘n bietjie meer sigbaar is op die snelweë en hul werk sal doen in plaas daarvan om net by OR Tambo lughawe rond te hang, sal daar minder ongelukke wees.
Ek ry elke dag vanaf Isando na Springs en dit is elke dag ‘n nagmerrie. Taxis, en gewone motors wat in die noodbaan ry, mense wat tot by die afrit/oprit jaag in die verkeerde baan en doodeenvoudig indruk, mense wat oor sperstrepe ry, mense wat verkeersligte en stoptekens blatant ignoreer, maar nêrens is ‘n EMPD voertuig of offisier te sien nie. Dis NIE net trokke wat ongelukke veroorsaak nie. Dit is algemene wetteloosheid wat dit doen want niemand word verantwoordelik gehou nie. As die Metro ook net die groot kruisings kan beman tydens beurtkrag, sal dit ook baie help. Maar ons betaal ons dood aan belasting sodat die Metro Polisie agteroor kan sit en boggerol doen.

Cindy ·

wat my altyd omkrap is wanneer hulle WEL op die snelweg is en “spoedtoepassing” doen, word daar nie gekyk na spoed onder 120kph nie – volgens my kennis mag trokke net 80kph ry, maar ek word gereeld van agter gedruk deur groot trokke terwyl ek 120kph ry! Taxi’s praat ek nie eens van nie

Ronél ·

Öns paaie wemel van onpadwaardige trokke…………veral die R565 tussen Matooster en Rustenburg

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.