Trollip nou provinsiale leier by ActionSA

Athol Trollip. (Foto: Twitter)

Athol Trollip is die jongste hoëprofielpolitikus om hom by Herman Mashaba se ActionSA te skaar.

Die party het Woensdagoggend aangekondig dat Trollip voortaan die provinsiale voorsitter van ActionSA in die Oos-Kaap sal wees.

Trollip is ʼn voormalige voorsitter van die DA se federale raad en ʼn oudburgemeester van die Nelson Mandelabaaimetro. Hy is in die Oos-Kaap gebore en het diep politieke wortels in nie net die politiek nie, maar ook in boerdery.

Hy is ook ʼn voormalige lid van die Amathole-distriksraad, was ʼn leier van die opposisie in die Oos-Kaapse wetgewer en was die provinsiale leier van die DA in die Oos-Kaap.

“Die aankondiging is een van trots vir ActionSA. Dit verteenwoordig die voortgesette poging om ʼn dieper leierskapspan te bou en ActionSA se handelsmerk te diversifiseer,” sê Herman Mashaba, partyleier.

Trollip se betrokkenheid by politiek en die landbou het van hom ʼn bekende gesig in die Oos-Kaap gemaak, waar hy boonop vlot in Engels, Afrikaans en Xhosa met inwoners kan gesels.

“Heelwat wat van Athol ʼn bate vir ActionSA en die projek wat ons van stapel stuur maak, kan nie in ʼn résumé saamgevat word nie. Athol is ʼn dapper Suid-Afrikaner vir wie ek dadelik eerbied gehad het. Hy is beginselvas en eerlik en van daardie skaars mense in die politiek wat sê wat hy bedoel en bedoel wat hy sê,” sê Mashaba.

Hy sê in hul besprekings voor Trollip by ActionSA aangesluit het, was dit duidelik dat hulle ʼn gemeenskaplike doelwit deel om die ANC in 2024 uit die kussings te lig. “Ons het die waardes en beleid van ActionSA, sowel as ons planne vir die toekoms bespreek, en ons is verheug dat Athol ingekoop het in die bou van die politieke alternatief wat Suid-Afrikaners nodig het.”

Trollip volg in die voetspore van onder meer Bongani Baloyi, ʼn voormalige DA-lid burgemeester van die Midvaal-munisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JohanR ·

Van waar kom die ou se salaris as provinsiale leier by ActionSA? Word hy alweer deur die belastingbetalers betaal, of betaal ActionSA hom elke maand? Ek sou dink eenige betaling is net net ‘n bietjie nie…..altyd soe ses nulle agter die eerste nommer!

Samuel ·

Waarom so negatief? Het net Afriforum en die VF+ bestaansreg?

Chris dupreez ·

Wil my voorkom of dit een van die dae net john steenhuizen en n paar van sy vriende in die da gaan oorbly

Samuel ·

Ek is bly dat Athol Trollip hom by die Action SA skaar. Miskien kan hy daar sterk staan teen die ANC.

Vanwaar al die negatiwiteit?

Jr ·

Drie weke en hy en Mashaba will be at each others throats. Mark my words

annie ·

As almal wat kwaad is vir iemand of ‘n party by ActionSA aansluit gaan dit ‘n magtige tranedal vorm met die meeste lede wat diep in hul hart glo hul moes al leiers geword het, word dit ‘n gevaarlike waterstofbom ipv ‘n nuwe lewensaar wat positiewe groei besproei.

Wat op dees Aarde ·

Ek dink die opposisie partye moet begin oppas vir ActionSA. Herman Mashaba en almal wat hy aanstel het bleddie goeie “track records” waartoe hulle in staat is. Die DA is besig om vir hulself ‘n helse gat te grou met Helen Zille en John aan die stuur van sake. Ek hoop van harte dat ActionSA die ANC sal kan onttroon. Hulle is reeds ‘n baie goeie opposisie vir die ANC. Nuwe party wat al klaar in die Top 10 is in die land en nog nie eers behoorlik 2 jaar oud nie.

Hennie J ·

Is nou regtig nie n DA ondersteuner nie, maar dink nog altyd Trollip het iets bokant sy tande en as hy by Hermaans &kie aansluit dan moet daar iets goed in hulle wegkruip? Net bekommerd dat dr. Groenie ook iets goeds in Hermaans se groenes raaksien!

Catherina ·

Welgedaan Trollip. Een v d dae is daardie party die opposie

Carolina ·

Interresant hoe hierdie opens hulle sielle sal verkoop om op die belasting betalers se pay cheque te bly, ek is nie ‘n DA ondersteuner nie, maar wonder wat word hulle beloof in ‘n party wat ook BEE voorstaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.