Tronkstraf vir SA’ner in Singapoer wat renosterhorings smokkel

Sommige van die stukke renosterhoring wat die owerhede in Singapoer by die Suid-Afrikaner gekry het. (Foto: NParks/AFP)

ʼn Hof in Singapoer het ʼn Suid-Afrikaner twee jaar tronkstraf opgelê vir die smokkel van renosterhorings. Dit is die swaarste straf wat nog ooit in dié stadstaat opgelê is vir die onwettige handel in wildleweprodukte.

Die smokkelaar word in hofdokumente geïdentifiseer as Gumede Sthembiso Joel. Hy is in 2022 op Singapoer se Changi-lughawe in hegtenis geneem nadat die owerhede hom met 20 renosterhoringstukke, wat sowat 34,7 kg geweeg het, in sy bagasie betrap het.

Snuffelhonde het die items in sy bagasie opgespoor toe hy onderweg van Suid-Afrika na Laos deur Singapoer gereis het.

Die stukke is sowat R16 miljoen werd en is die grootste vonds renosterhoring wat Singapoer tot dusver gemaak het.

Die 33-jarige Joel is gevonnis nadat hy skuldig gepleit het aan twee aanklagte van die besit van renosterhorings sonder ʼn geldige permit terwyl hy in transito was.

“Dit is die swaarste straf wat tot dusver in Singapoer opgelê is vir ʼn saak wat verband hou met die smokkelary van wildleweprodukte,” het Singapoer se Nasionale Parkeraad (NParks) Vrydag in ʼn verklaring gesê.

Ná ʼn deeglike forensiese ontleding is vasgestel 18 van die horingstukke is van verskillende witrenosters afkomstig, terwyl nog twee stukke van ʼn enkele swartrenoster afkomstig is.

Distriksregter Eddy Tham het tydens die oorweging van ʼn gepaste vonnis gesê hy moet ook die “uitwerking oorweeg” wat smokkelary op die betrokke renosterspesies het.

“Die skade wat veroorsaak word, is ooglopend groter,” het hy bevind.

Renosters word beskerm ingevolge die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (Cites) en internasionale handel in renosterhoring is verbode.

Suid-Afrika, die tuiste van byna 80% van die ganse renosterbevolking ter wêreld, is ʼn stroperybrandpunt met aanvraag wat uit Asië gedryf word.

In 2022 is 448 renosters in Suid-Afrika gestroop, net drie minder as ʼn jaar tevore en ondanks verskerpte pogings om die diere te beskerm.

Renosterhorings word as ʼn statussimbool beskou en in sommige dele van Asië word daar ook geglo dat dit medisinale eienskappe het. Die horingstukke word ook in juweliersware en huishoudelike items soos kamme, knope en gordelgespes ingewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.