Tshwane kap terug oor fietsren

(Argieffoto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die Tshwane-metroraad het teruggekap na die organiseerders van die Tshwane Classic-fietsren, wat die naweek op die nippertjie gekanselleer is, en sê daar was in die eerste plek nooit toestemming daarvoor gegee nie. Die organiseerder beweer die toestemming is teruggetrek nadat hulle enkele dae tevore nog die versekering gekry het dat alles op dreef is.

Die gevolg is dat ʼn hele paar fietsryers – én metropolisiebeamptes – Sondag voor dooimansdeur te staan gekom het.

Grandi Theunissen, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, sê dit is nie waar dat die toestemming ter elfder ure teruggetrek is en die byeenkoms daarom gekanselleer moes word nie. “Die waarheid is dat die stad deur die gesamentlike operasionele komitee vir byeenkomste (JOC) en die metropolisie in deurlopende verbinding met die organiseerders was.

“ʼn Gebrek aan optrede en die onvermoë van die organiseerders om te voldoen aan regulasies en vereistes, veral dié oor die Wet op die Veiligheid van Sport- en Ontspanningsbyeenkomste, het die stad met geen ander keuse gelaat as om toestemming te weerhou nie,” sê Theunissen.

Hy sê ten spyte van herhaalde waarskuwing en besprekings dat die byeenkoms nie aan regulasies voldoen nie, het die organiseerders “tot op die nippertjie gewag in ʼn klaarblyklike poging om die stad te dwing” om toestemming te verleen.

Volgens Theunissen kon die organiseerders ook nie die geld betaal vir die dienste wat die metropolisie tydens die byeenkoms sou lewer nie.

“Gegewe die stad se finansiële uitdagings en die meegaande maatreëls om koste te beperk, kan die stad nie hierdie uitgawe absorbeer nie.”

Theunissen sê hy het ʼn laaste poging aangewend om die organiseerders tegemoet te kom, maar hulle kon steeds nie bewys lewer dat hulle aan alle vereistes sal voldoen nie.

Mauritz Meyer, verbonde aan Hectic Promotions wat die fietsren organiseer, sê hulle het in Januarie al met die metroraad begin onderhandel omdat Kaapstad, Johannesburg en Durban almal met groot wedrenne spog, maar die fietsren in die hoofstad klein is.

Meyer sê die roete vir die Tshwane Classic is in samewerking met Noord-Gauteng-fietsry aangepas sodat dit veiliger as tevore sou wees en deur Centurion en nie die middestad nie sou kronkel. Die ren sou by die Voortrekkermonument begin en ook weer daar eindig.

Volgens Meyer het die Tshwane-metropolisie aanvanklik ʼn bedrag van R1 miljoen gevra vir dienste wat beamptes sou lewer en dat dit later tot R600 000 verminder is. Volgens hom is dié bedrag ook geskrap omdat die verkeersbeamptes naweke moet werk en hul skofte so ingedeel sou word dat die fietsren deel van hul pligte sou uitmaak.

Hy sê ten spyte van hul beste pogings om alle deelnemers betyds te laat weet dat die fietsren opgeskort moes word, het ʼn groep ryers tog Sondagoggend vroeg aangemeld. Hulle het egter groot begrip vir die omstandighede gehad, sê Meyer.

Meyer sê hulle het enkele dae voor die wedren nog die versekering gekry dat alles in plek is vir die byeenkoms om voort te gaan. Hy bestempel dit ook as vreemd dat ʼn groep metropolisielede op motorfietse Sondag douvoordag by die monument aangemeld het, en oënskynlik nie ingelig is dat die byeenkoms opgeskort is nie.

Die Tshwane-metropolisie het Vrydag op sy Facebook-blad nog inligting oor die fietsren gedeel en aangedui watter strate geraak sou word.

Fietsryers het van oral oor – selfs uit die buiteland – vir die ren ingeskryf.

“Ons het die wedren so goedkoop as moontlik gehou omdat die ekonomie ook die ryers knyp,” sê Meyer.

Geld wat nie vir wedren-uitgawes soos die huur van toilette en die maak van medaljes gebruik sou word nie, sou boonop aan liefdadigheidsorganisasies geskenk word.

Meyer sê hy is onseker wat die toekoms nou vir die fietsren inhou.

Volgens Theunissen betreur die stad die kansellasie van die geleentheid en die ongerief wat dit vir deelnemers – wat groot kostereëlings aangegaan het – veroorsaak het, maar dat die regulasies geld vir almal wat byeenkomste in die metrogebied reël.

“Nienakoming van enige byeenkomsregulasies stel die organiseerders, deelnemers en die stad in die gevaar en as ʼn verantwoordelike koalisieregering kan ons nie skikkings oor veiligheid en sekuriteit aangaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Waarnemer ·

1 miljoen rand vir n klomp spietcops om op n Saterdag hulle werk te doen!Belaglik….ons het dit op ons dae as deel vannons dkof taak gedoen SONDER addisiondle betalings…..

Adriaan ·

Om aan te sluit by bg kommentaar, in die verlede kon jy ook tuinafval in die munisipale asblik gooi en dis verwyder. Nie meer nie, as die “verwyderingsbeampte” dink daar is te veel blare of gras in jou asblik, word dit nie leeg gemaak nie. Tog probeer die DA almal wysmaak hoe goed dienste in DA beheerde stadsrade is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Inwoners gooi hul tuinafval in enige leërige asblikke. Dan krap die rommelgaarders ook alles om.

Marius ·

Julle is baie vinnig om toestemming te gee vir n klomp om af te breek en brand met n optog maar nie vir n goeie saak nie. Nee wat julle is n klomp narre.

Treurwilger ·

Hoe teleurstellend!
SA het nog altyd uitgeblink in die aanbied van groot, gewilde fietsrenne, iets wat min ander lande kan sê.
Hoop dié is ‘n uitsondering op die reël!

Sarel ·

Wie was reg..
Wie was verkeerd..
Weereens bewys van gebrek aan Kommunikasie.
Gedurig negatiewe nuus oor Tswsne..
Wanneer hoor ons ‘n slag iets positiefs..

Ferryman ·

Dit is wat van Tshwane word onder Randall Williams. Hy probeer so veel geld spaar dat veiligheid op die Tshwane Mark selfs na gelaat word.

Rooikoos ·

Fiets wedrenne behoort verban te word in stede. Die sluit van paaie en strate is ‘n groot kopseer vir Jan Alleman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.