Tshwane se beroerde oudit wek kommer

(Foto: Zakysant via Wikimedia Commons)

ʼn Uitgelekte verslag van die ouditeur-generaal (OG), waarin ʼn negatiewe bevinding oor die stand van die Tshwane-metroraad se finansies gemaak word, wek groot kommer.

ʼn Negatiewe bevinding beteken die instelling se finansiële state bevat wesenlike wanvoorstellings wat nie tot spesifieke bedrae beperk is nie, of dat wanvoorstellings ʼn wesenlike gedeelte van die finansiële state verteenwoordig.

Die verslag handel oor die tydperk 1 Julie 2021 tot 20 Junie 2022.

Die OG het die verslag nog nie amptelik bekend gemaak nie, maar dit lui dat groot onsekerheid bestaan oor die munisipaliteit se vermoë om as lopende saak voortgesit te word. Die OG het onder meer bevind die munisipaliteit het tussen November 2019 en Oktober 2020 salarisse aan amptenare betaal vir werk wat nooit gedoen is nie, omdat behoorlike werwingsprosesse nie gevolg is nie en werk nooit aan die amptenare gegee is nie.

Indien dit nie herwin word nie, beloop die koste hieraan verbonde meer as R88 miljoen.

Weens ʼn berekeningsfout met amptenare se verlofbalanse en daaglikse vergoeding, is verlof van meer as R800 miljoen uitbetaal waarvoor die metro nie rekenskap kan gee nie, het die OG voorts bevind.

Die verslag lui ook dat daar nie behoorlik rekenskap gegee is vir lenings en verbande van meer as R800 miljoen by die metro nie.

Volgens die OG-verslag het die munisipaliteit nie korrek verantwoording gedoen vir ongemagtigde besteding in die betrokke boekjaar nie en dit het gelei tot ongemagtigde besteding wat met meer as R600 miljoen onderverreken is.

Wat betref onreëlmatige besteding, het die munisipaliteit nie ʼn behoorlike stelsel gehad om alle onreëlmatige besteding wat aangegaan is te identifiseer en bekend te maak nie. Dit staan volgens die verslag op meer as R10 miljard.

Randall Williams, burgemeester van Tshwane, sê dit is kommerwekkend dat die OG amptenare en raadslede uitgewys het wat by die verskaffingsproses gebaat het.

“ʼn Behoorlike ondersoek sal gedoen word na die lys van name wat die OG saamgestel het en gepaste stappe sal gedoen word om die geld te herwin en die skuldiges aan die pen te laat ry,” sê Williams.

“Daar is ook bevindings wat dui op finansiële wangedrag en ʼn wanvoorstelling van die Stad Tshwane se finansiële state en finansiële posisie rakende inkomste, bates, betalings en voorstelling in die algemeen.

“Die bevindings word hanteer met die erns wat dit verdien.”

Tshwane se hoof- finansiële beampte, Umar Banda, se kontrak is op 31 Desember verlede jaar beëindig en die stad stel tans ʼn nuwe hoof aan. “ʼn Verslag oor die gedrag van die voormalige finansiële hoof wat betref die samestelling van die finansiële state en die ouditproses sal ook aan die raad voorgelê word,” sê Williams.

Hy het die OG se negatiewe bevinding as ʼn “teleurstelling” bestempel en sê dit is nie ʼn uitkoms wat eens naastenby binne die raamwerk van goeie regering aanvaarbaar is nie.

“Ons het reeds begin om die stad reg te ruk. Ons werk nou saam met die nasionale tesourie en die OG om die bevindings te hanteer.”

Die nasionale tesourie het ook die dienste van twee voormalige finansiële hoofde beskikbaar gestel om die stad te help om die situasie reg te ruk, sê die burgemeester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Vanessa ·

Ja, ons budget is net so beroerd met die solar en battery stelsels wat ingesit moet word. Dit kos mens duisende rande en dan moet mens nog jou Tshwane rekening betaal tesame met kragopwekkers wat diesel/petrol vreet. Wie kry ons jammer!!!!

Perdeby ·

Net so terloops dit is nie Tshwane wat die loadshedding ingestel het nie, maar Eskom

Leonard ·

KORRUP, dekades al by korrupte ANC geleer. Jammer mààr 99% van Suid-Afrikaners lewe met oogklappe aan!

Republikein in die Wes Kaap ·

Jip, daai 99% is skape op pad na die slagpale.

Martie Smartie ·

Lekker gemors wat julle maak in Tshwane mnr Williams. Hoeveel jare het die DA nog nodig om die stad reg te ruk? Julle is n grap, die ANC bewind was beter as julle. Die ANC moet die plek maar onder administrasie plaas en die DA wegjaag.

Pietertjie ·

Geel ANC, blou ANC, rooi ANC, geen verskil. Almal werk saam.

Koos 100 ·

En dit van ‘n DA geleide koalisie. Jip, die verskoning gaan wees dat hulle dit van die ANC geerf het en dat die ANC werkers die stad saboteer. O ja, en dan ruk hulle die stad reg. Ek het nuus vir julle, Pretoria het nog nooit so sleg gelyk soos die afgelope 2 jaar nie. Ek weet nie wat julle regruk nie, maar hou asseblief op. Dit werk nie. Sorteer al die dinge uit waarop die OG verwys het uit, en hou die geskokheid maar uit die verslag uit. Al wat julle by die ANC geerf het is hoe om verskonings uit te dink en hoe om kaderontplooing toe te pas!

Bernard ·

Korrek – maar kyk hoe die koalisiemaatjies mekaar nou gaan beskerm. Die stad is ‘n varkhok en die strate verbrokkel. Daar’s minstens 15 000 passasiers op die ‘payrol.’

Perdeby ·

Wel ongelukkig is dit so. Jy ruk nie so ‘n groot besigheid ( instansie ) reg in ‘n jaar nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit is seker so Perdeby, maar intussen moet jy ook nie meer skade berokken nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Toe ek nog in Pretoria gewoon het was my een buurman ‘n senior bestuurder by die metro. Van Maandag tot Donderdag reeds 3 nm by die huis, en Vrydae om 1 nm. Die metro moet ‘n fees wees.

Koos 100 ·

Net een regverdige vraag. Hoe laat het die persoon begin werk? Ek is ook al 14:30 by my huis, maar ek is al 05:45 op kantoor.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hy is ‘n bestuurder in admin. Ek het konsultasiewerk van die huis gedoen en kon sien hoe hy net na 8 vm werk toe ry in sy blink SUV, gecollar en getie.

Henry ·

Die regte mense moet aangestel word wat finansiele kennis het en nie net mense wat geen idee het waaroor finansies gaan nie

Bernard ·

“Besig om die stad reg te ruk?” Eerder hard besig om die stad te vernietig.

Chris ·

Dankie Maroela
Ek wil net ook borduur op die verslag van Tshwane… Die feit dat hulle so in die rooi is , is normaal …. Hoekom ? … klein voorbeeld…..
Ons Is oor n 100 ! NB ! Pensioenarisse , wat nou al vir n ONBILLIKE ARBEIDSPRAKTYK , oor die 15 jaar baklei … : ONS SIEKFONDS- SUBDIDIE wat eensydig WEG GENEEM IS .. (gestop is, nb !) Ons het hoeveel hofsake gehad WAARVAN DIE KONSTITUNELE – HOF se uitspraak, ten laaste TSHWANE beveel het om die “fiasko” reg te stel … (Tshwane is tot gedreig met minagting van die hof????) ……Alhoewel hulle kamptig ingestem het , verlede jaar, om die “orgie!” reg te stel ….
SLEEP !!!!!!!!, HULLE NOU NOG VOETE !!????… So jammer , ons het met Tshwane geen SIMPATIE nie……. AMEN
Soet wees
Chris Pretorius

Harley Davidson ·

Dankie solidariteit vir die instandhouding van die sypaadjies en parke in die moot.

Richard ·

Kom ek help julle reg vir die wat die DA so sleg maak en hunker na die vorige anc bestel in Tshwane. Die top bestuur, MMC, Divisional heads ens. is vervang met DA lede/kaders noem dit soos jy wil, maar die oorgrote meerderheid Direkteure, adjunkte, bestuurshoof, tot op opsigter vlak is deurdrenk van anc kaders, wat net nie ‘n bloue duit omgee oor die DA koalisie bestuur nie. Dis basies sabotasie van onder af. En NEE dis nie so eenvoudig om van hulle ontslae te raak nie, agv ons streng arbeids wette en nog die despotiese Samwu unie ook nog tussenin. Onthou Tshwane is nie soos Kaapstad wat al jare lank hul DA mense in poste het nie. Ek weet, want ek ken genoeg mense wat vir Tshwane werk.

Astrain ·

Tyd om ontslae te raak van beleggings eiendomme in Pretoria….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.