Tshwane weer na arbeidshof oor stakende werkers

Tshwane House (Foto: Jacques Naude/African News Agency/ANA)

Die Stad Tshwane het 41 briewe van moontlike skorsing aan stakende munisipale werkers verbonde aan die vakbond vir munisipale werkers, Samwu, gestuur nadat dié versuim het om gehoor te gee aan die tussentydse interdik wat die metro verlede week bekom het.

Die metro gaan nou ook weer die arbeidshof in Johannesburg op ’n dringende basis nader – hierdie keer vir minagting van die hof.

“Die stakende werkers het die hofbevel verontagsaam en is dus skuldig aan minagting van die hof,” sê die metro.

“Die stad het daarom besluit om vandag weer die arbeidshof te nader vir die afdwinging van die tussentydse interdik, wat die polisie sal bemagtig om die stakende werknemers en die leierskap van Samwu in hegtenis te neem.”

Die Tshwane-metroraad het reeds einde verlede week ʼn tussentydse interdik bekom om ’n stokkie voor Samwu se voortslepende (en onwettige) staking te steek. Dié interdik is noodgedwonge bekom om stakende munisipale werkers te dwing om die staking op te skort, en om die intimidasie van nie-stakende werkers en die beskadiging van eiendom te staak.

En hoewel die meerderheid van munisipale werknemers sedertdien weer vir werk aanmeld, word dienste steeds plek-plek ontwrig weens diegene wat nie vir werk opdaag nie en hul kollegas verhoed om die pligte uit te voer waarvoor hulle betaal word.

Maroela Media het verlede week berig Samwu se lede is ongelukkig oor die loon- en salarisverhoging van 0% vir 2023‑’24 wat die stadsraad in Junie goedgekeur het.

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, het dit egter duidelik gestel dat die metro finansieel in die moeilikheid is en eenvoudig nie enige salarisverhogings kan bekostig nie.

“Ek wil bitter graag in ’n situasie wees waar ek die burgemeester is van ’n stad wat salarisverhogings vir werkers kan bekostig,” het Brink verlede week aan Samwu gesê. “Ons is nie vyandiggesind nie. Ons kyk net na die finansies,” het hy verduidelik.

Altesaam 15 werknemers van die Stad Tshwane is tot op hede in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld vir hul beweerde aandeel in die onwettige staking en ʼn interne dissiplinêre ondersoek sal ook ingestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Truman Burbank ·

Cilliers probeer hard Maar ons lewe in n wereld waar wette minder werd is as die papier waarop dit geskryf is.

Heila Isabella ·

Sterke vir Ciliers Brink ek haal my hoed af vir hom ons hoop hy kan Tswane regruk die mense moet hom asb ondersteun

efjy ·

Dankal die stakendes af en stel mense aan wat wil werk. Moenie verder onderhandel nie. As julle geen strafmaatreels toepas nie,blyk dit dat julle niks kan doen nie en maar uiteindelik aan hul vereistes sal voldoen.

Ryan ·

Ek stel voor dat, vir elke week in die maand wat die vullis nie verwyder word nie, 25% van die vullisverwyderingsfooi weerhou word van die stadsraad.

August ·

Dit sal ongelukig nie gebeur nie. Maar ek stem hoekom betaal as dit nie gelewer word nie?

Sê maar net ·

Feite is feite. Jammer vir die werkers maar as die geld nie daar is nie, is dit nie daar nie. Sterkte vir mnr. Brink.

August ·

En intussen is dit die gemeenskape wat daar onder ly, hulle moet se muur af gedank word. Die reg van die belasting betaler word vertrap vir die reg om te staak. En of daar nou diens gelewe word of nie, moet ons betaal. Gaan daar vir ons korting gegee word vir die diens wat nie gelewe is nie????

nieskynheilig ·

Dieselfde strategie wat De Ruiter laat bedank het. Dit is alles beplande optredes.

Anna-marie ·

Stem saam. Cilliers Brink sal op die ou einde ook maar opeindig soos De Ruyter. Net handoek in gooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.