Tussenverkiesing in Tshwane op regsadvies uitgestel

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Inwoners van Proklamasieheuwel, Wespark, Kwaggasrand en omliggende gebiede in die weste van Pretoria wat deel uitmaak van wyk 3 in die Tshwane-metro, kan op 11 November ʼn bietjie later slaap want hul tussenverkiesing is uitgestel.

Die tussenverkiesing word landwyd met belangstelling dopgehou want die DA het die wyk in 2016 met ʼn baie klein meerderheid teen die ANC gewen en sedertdien was dit nie eintlik ʼn tydperk van maneskyn en rosegeur vir die DA nie. Die verwagting is dus dat die ANC hierdie keer gaan wen.

Die rede vir die uitstel is ʼn regsmening wat deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bekom is dat daar nie ʼn verkiesing kan wees solank daar nie uitsluitsel deur die hof gegee is oor of Tshwane tans hoegenaamd ʼn metroraad het nie.

Die hofsaak ter sprake is die voortslepende een waarin die DA aanvoer die besluit deur die Gautengse LUR vir samewerkende regering, Lebogang Maile van die ANC, om die metroraad te ontbind, was ongeldig.

Die tussenverkiesing in wyk 3 sal dus plaasvind nadat die hof uitspraak gegee het oor of die metroraad tans bestaan, of tans ontbind is.

Intussen blyk dit uit navrae van Maroela Media aan verskillende politieke rolspelers in die Wes-Kaap dat verskeie van die tussenverkiesings wat op 11 November in dié provinsie plaasvind, interessante dinamika kan ontketen.

Waarskynlik is die ANC se beste kans om ʼn setel by die DA af te neem, die tussenverkiesing in die oorwegend bruin woonbuurt Laingville buite Vredenburg in die munisipaliteit Saldanhabaai.

Laingville is ʼn redelik maklike wyk om te wen (ʼn wye verskeidenheid partye het dit al sedert 2000 reggekry) en ʼn bykans onmoontlike wyk om te behou. Dit is die gebied waar ʼn tiener tydens die grendelstaat gedood is, klaarblyklik deur ʼn polisie-dwaalkoeël.

In Knysna, waar twee tussenverkiesings plaasvind, blyk dit veral ʼn plaaslike inwonersorganisasie te wees wat die DA opdraande gee in ʼn taamlike vuil en persoonlike stryd waarin die inwonersorganisasie sulke wilde aantygings maak teen die voormalige burgemeester van die dorp, Eleanore Bouw-Spies, dat die DA hulle in ʼn openbare verklaring gevra het om “op te hou lieg”.

Tussenverkiesings in George se oorwegend bruin gebiede is altyd ʼn luidrugtige stryd met die DA wat gewoonlik net-net wen.

In die Kaapse metro sorg die stryd in wyk 14 (Kuilsrivier en Happy Valley) vir die grootste belangstelling nadat daar ʼn klaarblyklike skeur ontwikkel het binne die plaaslike DA-strukture.

Een van die interessanter uitslae word verwag in ʼn baie verteenwoordigende plattelandse wyk in die Drakenstein-munisipaliteit. Die wyk omvat ʼn groot deel van die Agter-Paarl, insluitend Windmeul en die Slot van die Paarl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tanniepetoors ·

As ek nie gesien het dis Jan Jan Joubert se artikel nie sou ek dink MM agiteer nou vir die ANC

J ·

My boodskap is ‘gesensor’ !

Die skrywer het geen ooghare vir kritiek ANC op die ANC Rampokker regering, se OVK, nie.

Riaana ·

Sad, want DA bestuur Tshwane, en DA ‘City of Tshwane’ het Tshwabac (Ou Pretoria skougronde) gevat want wou kastig n ICU hospitaal begin, maar dit het nooit gebeur nie wat wel gebeur het is dat 47 werkers retrenched is deur wat DA gedoen het, die plek staan nou leeg soos n spook dorp en 47 gesinne slaap honger en party dakloos te danke aan DA… So ja dink mooi voor julle stem daar is nie n party om voor stem in SA want hulle almal is corrupt en dink net aan hulle self.

Johan ·

…en intussen sleep die Howe voete om te beslis oor Tshwane. Myns insiens skryf die ANC die Howe voor om vir tyd te speel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.