Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê Sbusiso Sbu Chiliza (34) het op aanklagte van huisroof, verkragting en diefstal verskyn terwyl Khohlansane Sphamandla Duma (29) op aanklag van huisroof verskyn het. Die saak is tot 6 Mei uitgestel en hulle bly in aanhouding.
Volgens Naicker is die man en sy dogter, ʼn parapleeg, Dinsdagaand in hul huis in Park Rynie naby Scottburgh aangeval. Die pa het glo glas hoor breek en ondersoek gaan instel waarna hy in die gang deur twee mans oorval is. Hulle het hom aangerand en geld geëis. Een van die verdagtes het die bejaarde man gevat en die kamers deursoek. Die ander verdagte is intussen na die vrou se kamer. Nadat die verdagtes gevlug het, is die vrou kaal in haar kamer aangetref.
Naicker het gesê Duma is Donderdag by ʼn kroeg in hegtenis geneem nadat ʼn selfoon en ander items wat tydens die aanval gesteel is in sy besit gevind is. Chiliza is kort hierna in hegtenis geneem. Albei verdagtes kan moontlik ook aan ander misdade in die omgewing verbind word.