Twee in hof ná Celvin se dood: ‘Hulle het my seun se lewe gesteel’

Charlotte en Celvin Seaborne (Foto: Facebook)

Twee mans is reeds in hegtenis geneem in verband met die dood van Celvin Seaborne (21), maar vir sy ma, Charlotte, is dit geen troos nie, want dit gaan nie haar seun terugbring nie.

“Hulle het my seun se lewe gesteel. Hy was net 21 jaar oud. Ek hoop hulle kry die ergste straf denkbaar,” het ʼn emosionele Charlotte Seaborne gesê.

Celvin is in die vroeë oggendure van 9 September dood ná ʼn vuisgeveg in ʼn parkeerterrein van ʼn vulstasie oorkant die pad van die Langarm-nagklub in Mountain View in Pretoria. Volgens Charlotte het Celvin haar kort ná 04:00, nadat die nagklub toegemaak het, laat weet hulle is op pad huis toe. Hulle het eers ʼn vriend daar naby afgelaai voor hulle terug in die rigting van die nagklub is om nog iemand af te laai. Hulle het gesien daar gaan iets aan by die vulstasie en Celvin het daar stilgehou.

Beeldmateriaal wat van die vulstasie se kringtelevisiekameras bekom is, wys volgens Charlotte hoe haar seun kort nadat hy stilgehou en uit sy motor geklim het, deur ʼn man bygedam en herhaaldelik geslaan word. Dit lyk dan of iemand hom van die kant af duik en vashou voor ʼn ander man kom en Celvin op die keel slaan.

Donovan Trotskie (29) is Donderdag in die Pretoria-landdroshof op borgtog van R2 000 vrygelaat. Hy en Gerhard van der Merwe (27) is onder verdenking vir Celvin se dood. Van der Merwe is reeds op 13 September op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die twee moet in November weer in die hof verskyn.

“Ons vermoed hy het versmoor, want sy lippe het blou geword en hy was later potblou in die gesig. Sy vriendin en my susterskind het nie gedink hy was dadelik dood nie, want sy oë was nog oop, maar hy het gesukkel om asem te haal.”

Celvin Seaborne en sy vriendin (Foto: Facebook)

Charlotte het kort ná 05:00 ʼn oproep ontvang dat daar ʼn voorval by die nagklub was en dat Celvin geslaan is en sy soontoe moet kom. “Die persoon het gesê Celvin is koud. Ek het nie dadelik besef wat vir my gesê word nie. Toe ek by die hek uitry, toe besef ek my kind is dood. Toe ek daar aankom en uit die motor klim, toe skud ʼn vriend van Celvin net sy kop. Ek het begin skree en mal gegaan.”

Celvin se liggaam is volgens Charlotte eers ná 10:00 van die toneel verwyder en daar is baie lank op die polisie gewag. Hierna het Charlotte 45 minute lank net in haar motor gesit, want sy het nie geweet wat nou nie. “Ek het gedink wat doen ek nou. Dis my kind. Hy het by my gebly. Hoe gaan jy nou aan?”

Charlotte se man en Celvin se pa, Trevor, is 10 jaar terug dood nadat hy vermoedelik van agter gestamp is terwyl hy op sy motorfiets gery het. “Celvin het sy pa se liggaam gesien en het sedertdien ʼn moeilike pad gestap. Sy pa was sy ‘hero’.”

Volgens Charlotte het Celvin weer geluk gevind nadat hy sewe maande terug met sy vriendin begin uitgaan het. “Hy het een aand vir my gesê hy gaan met haar trou. Hy wou kinders saam met haar gehad het. Ek het uitgevind hy wou haar Desember vra om te trou. Hy het altyd geglimlag – hy was net gelukkig saam met haar.”

Celvin is verlede Vrydag ter ruste gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.