Twee in hof oor transitorooftog

Zacharia Magopa (links) en Bongumusa Jele (Foto verskaf deur die Valke)

Twee mans het in die Vaalbank-landdroshof in Mpumalanga verskyn in verband met ʼn transitorooftog waartydens drie veiligheidswagte oorrompel is.

Die twee mans, Bongumusa Jele (34) van Eswatini (Swaziland) en ʼn polisiekonstabel Zacharia Makgaolane Magopa (38), het Donderdag saam in die hof verskyn, het kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê. Hulle saak is tot 17 Februarie uitgestel vir ʼn formele aansoek om borgtog. Hulle bly in aanhouding.

ʼn Groep gewapende mans het op 2 Februarie drie veiligheidswagte oorrompel wat besig was om kitsbanke te hervul in Moutse West naby Marblehall in Limpopo. “Die veiligheidswagte is ontwapen en springstof is gebruik om die kluis in die vragmotor oop te blaas. Die verdagtes het met verskeie voertuie en ʼn onbekende bedrag kontant van die toneel verdwyn,” het Sekgotodi bygevoeg.

ʼn Mercedes-Benz, Audi Q3 en Audi A4 is later op verskillende plekke verlate gevind.

Magopa is ʼn paar uur ná die voorval in hegtenis geneem.

“Inligting is ook van Nelspruit-misdaadintelligensie ontvang oor een van die verdagtes en beamptes van die Pienaar-reaksiespan het vinnig die inligting opgevolg en Jele is op 6 Februarie in Kanyamazane buite Nelspruit in Mpumalanga in hegtenis geneem. Tydens die soektog is daar beslag gelê op kontant, wat vermoedelik tydens die voorval gesteel is.”

Genl.maj. Zodwa Mokoena, provinsiale hoof van die Valke, het die multidissiplinêre benadering deur die polisie in die provinsie geloof. Sy maan die publiek om inligting aan die beamptes te verskaf oor die verdagtes wat nog gesoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Flip ·

En nou wonder ek so by myself waar het hulle die springstof gekry. Ek sal graag wil hoor dat die besigheid wat die springstof “verloor” het ook vasgevat en betrek word by die roof…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.