Twee ma’s in hof ná hul vyf kinders doodbrand

(Argieffoto: AFP)

Twee vroue sal Dinsdag in die Atteridgeville-landdroshof verskyn op aanklagte van strafbare manslag in verband met die dood van vyf kinders, tussen een en sewe jaar oud.

Die kinders, twee meisies (een en sewe jaar oud) en drie seuns (twee, vier en ses jaar oud), is Sondag in die vroeë oggendure dood nadat hulle in ʼn plakkershut in die Itireleng- informele nedersetting naby Laudium in Pretoria toegesluit was en die plakkershut aan die brand geraak het.

Volgens die polisiewoordvoerder, kol. Dimakatso Nevhuhulwi, is twee vroue (37 en 38 jaar oud) in verband met die voorval in hegtenis geneem en sal hulle vandag in die hof verskyn.

Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddiens, het gesê die brandweer is om 04:26 na die toneel ontbied.

Met brandbestryders se aankoms op die toneel was verskeie plakkershutte aan die brand. Die liggame van die vyf kinders is in die puin van die uitgebrande hutte gevind.

Die vyf kinders is glo deur hul ma’s, wat susters is, in een van die plakkershutte vir die aand gelos terwyl hulle by ʼn taverne in die omgewing gaan kuier het.

“Die omstandighede rakende die oorsaak van die brand word nog ondersoek. Ons doen ʼn beroep op ouers en versorgers om te verseker dat kinders altyd in die sorg van ʼn volwassene en in ʼn veilige omgewing gelaat word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Grassie ·

Dit moet vreeslik wees om in ‘n kaia toegesluit te wees terwyl dit brand. Dit is ‘n stadige pynlike dood. ‘n Mens kan nagmerries kry deur net daaroor te dink.

ES ·

Watter tipe ma los sulke klein kindertjies alleen en gaan kuier by ‘n taverne?

Sê maar net ·

En dit gebeur gereeld! Met baie kindertjies…..so hartseer!

domheks ·

Die toelae wat hulle vir kinders ontvang gaan uit drink! Hulle moet vir MOORD aangekla word. Hoe los jy sulke jong kinders alleen?

Di ·

Ongelukkig is daar BAIE van hulle wat kinders kry maar nie ‘n veer voel vir hulle nie. Solank die grants betaal word vir hulle, is die Kaap weer Hollands

Jakes ·

Sluit hulle toe vir altyd. Geen verskoning vir sulke askuwelike gedrag nie.

Karoo ·

Ai, wat ‘n onodige dood en dit om te gaan kuier in’ n nes van onheil en gewaarborgde teenspoed. Mag daar geregtigheid vir die kinders geskiet. Sluit hulle toe sodat hulle nooit weer kinders kan baar wat hulle nie wilen kan beskerm nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.