Twee Rage-byeenkomste gekanselleer

Foto: Ballito Rage/Facebook

Die Plett Rage in Plettenbergbaai en JBay Rage in Jeffreysbaai is gekanselleer.

Die Plett Rage-saamtrek sou van 29 Januarie tot 6 Februarie plaasvind, maar volgens die organiseerders is dit gekanselleer ná inagneming van plaaslike owerhede se aanbevelings, openbare druk en ʼn versoek van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) rakende die Ballito Rage-gesondheidskwessie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Sondag gesê die Ballito Rage-byeenkoms wat van 27 November tot 4 Desember in Ballito plaasgevind het, was ʼn sogenaamde superverspreider-byeenkoms. Matrieks wat die byeenkoms bygewoon het, is versoek om vir tien dae te selfisoleer en Covid-19-toetse te ondergaan.

Kort daarna is aangekondig dat alle Rage-byeenkomste vir matrieks wat binnekort in Johannesburg, Jeffreysbaai en Plettenbergbaai sou plaasvind, tot verdere kennisgewing uitgestel is.

Die organiseerders van die Plett Rage het egter bevestig dié byeenkoms is nou heeltemal van die baan.

“Dit is vir ons duidelik dat die koronavirus onbeheerbaar is ongeag die voorsorgmaatreëls wat ons getref het om die veiligheid van ons deelnemers te verseker. Die risiko wat dit vir u, ons personeel, ons verskaffers, kunstenaars, asook die groter gemeenskap inhou, regverdig nie die voortsetting daarvan nie.”

Die kansellering van die Plett Rage raak volgens die organiseerders ʼn groot aantal mense, onder wie diegene wat by die fees sou werk en ook vooraf aan die feesreëlings gewerk het. Die Bitou-munisipaliteit en Plett Toerisme ondersteun die besluit om die byeenkoms te kanselleer.

Die organiseerders het gesê hulle bevind hulle in ʼn uiters moeilike posisie rakende terugbetalings. “In die aanloop tot die geleentheid het ons reeds aansienlike koste aangegaan.” Die organiseerders sou graag aan almal al hul geld wou teruggee, maar kan dit eenvoudig nie bekostig om meer as 50% terug te betaal in ooreenstemming met die huidige bepalings en voorwaardes nie.

Vanjaar se kaartjies sal ook geldig wees vir volgende jaar en kan verkoop word wanneer kaartjieverkope volgende jaar open – teen volgende jaar se prys sodat mense 75% kan terugkry.

Die JBay Rage is ook vroeër die week gekanselleer en die byeenkoms se organiseerders het gesê daar sal in die komende dae inligting verskaf word rakende terugbetalings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Onnie ·

So kan die wat matriek gedop het volgende jaar hul kaartjies gebruik!

JohanR ·

Dit moet baie baie moelik wees om matriek te dop! Ek het vir drie maande elke Maandag ‘n teorie eksamen geskryf, en moes 75% kry. As jy nie 75% gekry het nie dan het jy Woensdag weer ‘n kans gekry, en as jy weer onder 75% kry dan is jy uit. Na drie maande is ons bos toe vir twee weke om teorie en prakties te doen. Weer eens was dit 75% of uit. Na 14 weke het ek my twee korporaal strepe gekry. Dit was tough in die Rhodesie Army om ‘n medic te word. Sou rerig soeveel makliker gewees het as ek net 30% moes kry!

Jacobus ·

Stem volkome saam dat die Rage byeenkomste ondeurdag sou wees. Sonder om af te wyk van die onderwerp – tot watter mate is deelnemers aan die Brackenfell Rage ook getoets – of pas dit nie die heersende politieke narratief en stewel-teen-nek maatreëls .

Ferryman ·

Ek stem saam dat die organiseerders van die Brackenfell Rage verantwoordelik gehou word. Na my mening is die EFF verantwoordelik vir die styging in Covid gevalle in die Oos Kaap en Wes Kaap.

Pierre ·

Hie kom hofsake, die verkoop van die kaartjies is n kontraktuele ooreenkoms tussen die verkoper en koper om op n bepaalde dag n diens te verskaf, as die verkoper nie die diens kan lewer nie moet die koper vergoed word siende dat die verkoper hulle kant van die ooreenkoms verbreek het, sterkte met die besluit.

JanSt ·

Die organiseerders se hulle sal terugbetaal vir die wat geld wil terughe of die kaartjie kan volgende jaar gebruik word.

Ferryman ·

Dit is ‘n moeilike tyd vir almal en ons moet almal opofferings maak. As almal saamwerk sal die pandemie vinniger verby wees en dan kan ons weer aangaan soos normaal.

Jaco ·

Darem 1 voordeel van inperking. Ek het al “horror stories” gehoor van wat alles by die post matric rage parties aangaan. Het self een jaar met vakansie in Plettenbergbaai gesien wat alles daar aangaan. Beslis nie dinge wat ‘n posetiewe invloed op die kinders se toekoms het nie.

Misky ·

n Vriend van ons het n gastehuis in Plettenbergbaai en hy het gesê hy en meeste ander B + B’s, gastehuise ens, is vol geboek tot einde Januarie. Die mense kanselleer nie en het reeds deposito’s betaal. Alhoewel die rage partytjies afgestel is, gaan mense steeds in honderdes daar wees. Hulle gaan steeds party en tekere gaan en dit word maar net nie meer “rage” genoem nie

JohanR ·

Hulle moet maar aan party. Kan sien ons gaan terug na Vlak 4 toe kom Januarie.

Grassie ·

Dit is goed dat die byeenkomste afgelas word. Dit is iets wat wêreldwyd plaasvind en gewoonlik kwaai handuit ruk. Ek was ‘n tyd gelede in Perth, Australië aan die einde van ‘n jaar toe ‘n matriek rage gehou was. Al die matrieks gaan na ‘n eiland wat daarvoor gereserveer word. Die plaaslike regering laai ‘n sleepwaentjie vol kondome daar af -baie duisende. Dit word dan een reuse orgie, drie dae lank. Ek het gehoor hier by ons gaan dit nie veel beter nie. Ag nee wat, sies!

Alet ·

Ja en oor vier jaar (of hoe lank ookal ‘n dominee studeer) staan Dominee voor die gemeente en dan was die helfte van sy gemeente saam hom op die rage. Dit moet interessant wees.

Alet ·

Kan iemand vir die ou vrou verduidelik wat is die doel van “rage”? Jy kan op jou ma se stoep ook suip en pangelang as jy wil. Want smaak my dis al wat daar aangaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.