Twee toeriste dood tydens kanovaart op Krokodilrivier

Die Krokodilrivier by Hartbeespoortdam. (Foto: Lynn Greyling/Pixabay)

Twee toeriste van Singapoer is dood nadat hulle as deel van ʼn groep en saam met gidse ʼn kanovaart op die Krokodilrivier onderneem het.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het die groep van 20 toeriste en ses gidse Sondagmiddag tussen die Leeupark en die Hartbeespoortdam geroei toe die voorval plaasgevind het.

Vier van die kano’s, met agt toeriste op, het omgeslaan. Die gidse het die toeriste te hulp gesnel en noodbehandeling op ʼn man en ʼn vrou toegepas. Paramedici het die noodbehandeling oorgeneem, maar ondanks uitgebreide pogings is hulle op die toneel dood verklaar.

Die NSRI moes ses toeriste en twee gidse uit die water help. Die twee gidse was bewusteloos en is op die toneel gestabiliseer voor hulle na ʼn hospitaal gehaas is vir behandeling.

ʼn Geregtelike doodsondersoek word deur die polisie gedoen. Die NSRI het sy meegevoel met die oorledenes se families en vriende betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Die rivier is so besoedel net om in aanraking met die water te kom kan jy ernstig siek word,en noord van harties het krokodille al dood gegaan oor die water besoedeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.