Twee vas jaar ná moord by Durbanse gastehuis

Jacqueline (Jackie) Needham (Foto: Twitter)

Net minder as ’n jaar nadat die eienaar van die Glenwood-gastehuis, Jacqueline (Jackie) Needham, in Durban vermoor is, is twee verdagtes uiteindelik in hegtenis geneem in verband met die moord. Een van dié verdagtes het reeds sy betrokkenheid by die moord erken.

Needham (69) is op 10 Augustus verlede jaar in haar gastehuis in die omgewing van Umbilo beroof en vermoor.

Kapt. Carmen Rhynes, polisiewoordvoerder, sê die polisie se ondersoek het hulle na ’n verdagte (25) in Cato Manor in Durban gelei. Die verdagte is Woensdag in hegtenis geneem en ondervra en het sedertdien erken dat hy ’n aandeel in die beplanning en die pleeg van die moord op Needham gehad het.

Die polisie het dieselfde aand nog verdere inligting opgevolg en ’n tweede verdagte (30) is in die omgewing van Cato Manor in hegtenis geneem.

Die polisie het intussen beslag gelê op die klere wat die verdagtes gedra het toe hulle glo ná die moord kontant met Needham se bankkaart by ’n kitsbank onttrek het. Die verdagtes is tydens die onttrekking op kringtelevisiebeeldmateriaal vasgelê.

Die tweede verdagte se selfoon is ook forensies ondersoek en die polisie het vasgestel dat hy steeds dieselfde simkaart gebruik as wat hy gebruik het ten tyde van die moord. Dit plaas hom op die moordtoneel.

Die twee verdagtes sal na verwagting vandag in die Durbanse landdroshof verskyn. Die een verdagte sal van moord en roof sowel as regsverydeling aangekla word aangesien hy glo in ’n stadium ook ’n valse saak van motorkaping aangemeld het.

Die ander sal op aanklagte van moord en roof tereg staan.

Die polisie gaan intussen voort met hul ondersoek in die hoop om nog verdagtes in die saak te identifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

Nog ‘n sinnelose tragedie. Wat dryf een mens daartoe om ‘n ander mens se lewe te neem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.