Twee vas voor hulle ietermago kon smous

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Facebook/Umoya Khulula Wildlife Centre)

Twee vermeende ietermagostropers het Woensdag in die Atamelang-landdroshof op aanklag van onwettige handel in wilde diere verskyn.

Ben Khosietsile (54) en ʼn 17-jarige seun is op borgtog van R2 000 elk vrygelaat.

Die Valke het hulle Dinsdag naby Setlagole in Noordwes in hegtenis geneem.  Die saak teen hulle is tot April vir verdere ondersoek uitgestel.

Die ietermago is ʼn kleinerige soogdier wat ʼn groot uitdaging die hoof moet bied. Die hoogs bedreigde diere, wat as ʼn “eietydse dinosourus” beskryf word, word tans tot op die rand van uitwissing gestroop.

Hoewel alle vorms van handel in dié diere sedert 2016 plaaslik en wêreldwyd verbied word, is die ietermago amptelik die dier waarmee daar die meeste op die swartmark gesmokkel word.

Van die agt verskillende spesies kom vier in Asië en vier in Afrika voor, meestal in die Kalahari-streke van Suider-Afrika, asook die Bosveldgebiede van die oostelike streke van die land.

Meer as 10 000 ietermago’s word jaarliks gesmokkel; dít in teenstelling met die sowat duisend renosters en 200 tiere met ʼn soortgelyke lot.

In 2019 is daar in Singapoer op 14 ton skubbe (gelykstaande aan 36 000 gestroopte ietermago’s) beslag gelê. Vier jaar later is daar ook op ʼn ton skubbe in Bangkok, Thailand, beslag gelê. Die skubbe word onder meer gebruik om alles van asma tot hoë bloeddruk te behandel, ondanks die gebrek aan bewyse dat dit enige mediese voordeel inhou.

Elektriese heinings, die uitbuiting van die dier en die groter aanvraag van Asiese markte hou verdere gevare vir die voortbestaan van dié diere in.

  • Bykomende bronne: Esri, SANBI, WWF

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.