Tweejarige sterf in huisbrand

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Cullan Smith/Unsplash)

Die polisie in James Calata (voorheen Jamestown) in die Oos-Kaap doen ʼn geregtelike doodsondersoek ná ʼn tweejarige seuntjie by ʼn huis in ʼn informele nedersetting gesterf het.

Kapt. Ursula Roelofse, woordvoerder van die polisie, sê die ouma en die huiseienaar was Maandagoggend om 08:00 reeds werk toe, toe die 22-jarige ma van die seuntjie gou klere by haar sussie se huis – nie ver daarvandaan nie – gaan haal het.

Sy het die tweejarige seun in sy ouma se slaapkamer gelaat waar hy gelê en slaap het. ʼn Vierjarige seuntjie was ook in die huis.

Op pad terug huis toe, het die ma gehoor dat ʼn brand in die huis uitgebreek het.

“Toe sy by die huis aankom, het dit reeds in ligte laaie gestaan. In die huis het sy die tweejarige op die vloer aangetref. Die seuntjie is na ʼn hospitaal geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het.”

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

Die polisie waarsku die gemeenskap dat kinders onder geen omstandighede alleen by die huis gelaat moet word nie.

Brig. Asogran Naidoo, waarnemende distrikskommissaris, het sy innige meegevoel betuig met die familie wat die klein seuntjie in dié tragiese voorval aan die dood afgestaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

E ·

Vierjarige of tweejarige het dalk vuurhoutjies of ‘n vuuraansteker in die hande gekry.

Swerwer ·

Die oumense het altyd gesê, dit gebeur wanneer kinders kiners kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.