Tydelike belastingverligting vir Jhb-skole

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

AfriForum en die respondente in die saak oor die verhoging van onderwysinstellings se eiendomsbelasting deur die Johannesburgse metroraad het Dinsdag in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg ooreengekom dat die saak hieroor in Oktober aangehoor sal word.

Die ooreenkoms is ’n bevel wat die hof gemaak het en die betrokke partye sal gesamentlik die adjunk-regterpresident of die registrateur vir ’n verhoordatum nader.

Die respondente in die saak is die raad, die munisipale bestuurder en uitvoerende burgemeester van die metroraad, die minister van samewerkende bestuur en tradisionele sake, die minister van basiese onderwys, die LUR vir onderwys in Gauteng en die minister vir hoër onderwys en opleiding.

Hierdie regsaksie volg nadat die metroraad weggedoen het met ’n eiendomskategorie wat vir onderwysinstellings gegeld het. Die gevolg is dat openbare instellings voortaan in die kategorie vir openbare dienseiendom aangeslaan sal word en private skole as ondernemings.

Die belastingkoerse in dié kategorieë is drasties hoër, ongeag of private instellings daarvoor kwalifiseer om as organisasies sonder winsoogmerk erken te word en dus vir verligting in aanmerking kom.

In die hofbevel word bepaal dat die Johannesburgse metroraad tot 1 November vanjaar geen kredietbeheeraksie sal onderneem met betrekking tot enige verhoogde tariewe vervat in sy 2022/’23-tariefbeleid soos van toepassing op enige private of openbare onderwysinstelling binne sy jurisdiksiegebied nie.

Onderwysinstellings, insluitend openbare en private skole, sal dus steeds vir die eiendomsbelasting wat hulle volgens die tariewe van 2021/’22 betaal het, aanspreeklik wees. Indien hulle egter nie die verskil tussen dié bedrag en die bedrag wat volgens die nuwe tariewe wat vir die 2022/’23 finansiële jaar van die Johannesburgse metroraad geld, kan of wil betaal nie, sal geen stappe in die drie maande teen hulle geneem word om hierdie bedrag in te vorder nie.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, word die tydelike verligting wat die ooreenkoms aan die instellings bied, verwelkom.

“AfriForum spreek die hoop uit dat die saak wat in Oktober aangehoor sal word, permanente duidelikheid oor die saak en verligting van die nuwe tariewe sal bring. Indien dit nie gebeur nie, bestaan die gevaar dat van die instellings op die gehalte van die onderrig wat hulle aanbied, sal moet besnoei of selfs hulle deure sal moet sluit – stappe wat tot nadeel van almal in die metrogebied en trouens, in die land sal wees,” het sy gesê.

“Hierdie herkategorisering en verhogings skep ook ’n gevaarlike presedent en AfriForum neem daarom sterk daarteen standpunt in om die belange van alle belastingbetalers te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.