Tydraamwerk van skoolplasings ‘kommerwekkend’

Die bestaande skool is omskep in ‘n skool vir leerders met spesifieke behoeftes. (Argieffoto: Unsplash)

AfriForum se regspan gaan ’n skrywe aan die departement van onderwys rig om sy kommer te boekstaaf oor die wyse waarop die skoleplasingsproses vanjaar gaan verloop. Dit volg nadat Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, Sondag aangekondig het dat die skoleplasingsproses vanjaar in fases sal geskied.

Maroela Media het vroeër berig gr. 7-leerders wat tans in ’n openbare skool in Gauteng is en wie se besonderhede reeds op die departement se aanlyn stelsel is, sal tussen 10 Augustus en 3 September aanlyn kan aansoek doen vir die hoërskool van sy of haar keuse.

Aansoeke vir alle voornemende gr. 1- sowel as gr. 7-leerders wat nié tans in ’n openbare skool in Gauteng is nie, sal eers tussen 13 September en 8 Oktober geskied.

Die plasing van leerders wat tydens die eerste fase aansoek gedoen het, sal tussen 15 Oktober en 30 November plaasvind. Die res van leerders sal eers tussen 15 November en 30 November in skole geplaas word.

Dít, meen AfriForum, is hopeloos te laat, veral in die lig van die chaos wat vorige jare geheers het toe die proses veel vroeër begin is.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sê die ideaal sou wees dat skole self plasings hanteer soos die geval was voordat Gauteng die aanlyn plasingstelsel in gebruik geneem het. “Dit sal korrespondensie tussen skole en die departement vergemaklik, onduidelikheid by ouers oor aspekte soos hul keuses van onderrigtaal en spesialisvakke uitskakel en ook verseker dat kinders wat tans nie in openbare skole in die provinsie is nie, wel geakkommodeer word.”

Sy sê AfriForum sal die proses dophou om te verseker dat leerders se regte nie geskend word nie. “Ons moedig ouers aan om deeglik kennis te neem van die sperdatums, flink te reageer wanneer die plasingsprosesse open en seker te maak dat hulle alle nodige inligting en dokumentasie gereed het,” sê Bailey.

Intussen het die Federasie van Suid-Afrikaanse Skolebeheerliggame (Fedsas) ʼn klag ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) teen die Gautengse onderwysdepartement ingedien. Dit volg nadat die departement altesaam 11 507 gr.7-leerders, ouers en voogde van die Tshwane-Wes-distrik se persoonlike inligting versprei het.

Fedsas sê hy het reeds herhaaldelik versoeke gerig dat departemente die nodige stappe doen om persoonlike inligting van ouers en leerders te beskerm.

Die klag is reeds op 30 Junie ingedien.

Luidens die klagstaat wat Maroela Media onder oë gehad het, is ʼn Excel-dokument met inligting van die leerders, ouers en voogde per e-pos aan 100 ontvangers gestuur. Van die ontvangers sluit in talle skole in verskillende distrikte in Gauteng.

Die inligting sluit in leerders se name, vanne, geslagte, geboortedatums, ID-nommers, huistale en onderrigtale. Dit sluit ook ouers en voogde se name, vanne, ID-nommers, selfoonnommers en huisadresse in.

Volgens die klagstaat het ʼn amptenaar van die departement die inligting van die amptelike stelsel vir skoolbestuur en -administrasie (Sasams) verkry en per e-pos aan die ontvangers uitgestuur.

“Hierdie bekendmaking van persoonlike inligting is kommerwekkend en onaanvaarbaar, aangesien ons vertrou dat die departement bewus is van die feit dat die Popi-wet op 1 Julie in werking getree het,” sê Fedsas in die klagstaat.

Dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van Fedsas, sê Fedsas vra al vir bykans ʼn jaar dat provinsiale onderwysdepartemente en Sasams aan die Popi-wetgewing moet voldoen.

“Die wetgewing het nie uit die bloute in werking getree nie. Fedsas is reeds maande lank besig met opleiding vir beheerliggame om toe te sien dat daar aan die vereistes voldoen word,” het Deacon gesê.

“Sasams is duidelik nie ʼn veilige stelsel nie en bevat die persoonlike inligting van miljoene skoolgaande kinders en hul ouers of voogde. Die doel van Popi is juis om gestalte te gee aan individue se grondwetlike reg op privaatheid deur persoonlike inligting te beskerm.”

Die inligtingsreguleerder het op 20 Julie aan Fedsas bevestig dat hy die klag ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.