Uitfasering van afsondering verwelkom, maar …

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: @KhuselaS/Twitter

Politieke partye en burgerlike organisasies het die aankondiging dat die afsonderingstydperk geleidelik uitgefaseer sal word, verwelkom, maar gevra dat daar dringend groter duidelikheid daaroor kom.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig die afsonderingstydperk duur nog tot 30 April voort, maar sal daarna geleidelik uitgefaseer word sodat ekonomiese aktiwiteit trapsgewys hervat kan word. Volgens Ramaphosa sal die land op 1 Mei van vlak 5-afsondering na vlak 4 beweeg.

John Steenhuisen, DA-leier, het gesê ʼn gefaseerde en risiko-aangepaste model, waar beperkings opgehef word wanneer gegewens daarop dui dat dit veilig is, is van sleutelbelang om kosbare werkgeleenthede te beskerm en te verseker dat die lewensbestaan van miljoene Suid-Afrikaners gered word.

John Steenhuisen. (Foto: David Ritchie/ANA)

“Ons wag nou vir verdere besonderhede oor hoe die model die verskillende sektore van ons ekonomie en samelewing sal beïnvloed. Dit is belangrik dat daar absolute sekerheid is rakende hierdie nuwe gefaseerde benadering. Die besonderhede moet dus duidelik en ondubbelsinnig wees. Ons kan nie verwarring hê weens teenstrydige verklarings van verskillende ministers nie.”

Die DA het weer versoek dat sekere beperkings onmiddellik opgehef moet word. “Alle winkels wat noodsaaklike items verkoop, moet toegelaat word om alle items te verkoop, insluitend elektroniese toerusting, skryfbehoeftes, boeke, skoonheidsprodukte en sigarette. Winkels wat nienoodsaaklike items verkoop, moet ook toegelaat word om onmiddellik te heropen ten einde afleweringsbestellings na te kom. Restaurante en kitskosplekke moet in staat gestel word om hul kombuise te heropen vir aflewering. Alle e-handel-winkels moet toegelaat word om sake te doen.”

Die Solidariteit Beweging het ook die proses van uitfasering van die staat van inperking verwelkom, maar glo dat die regulasies meer verslap moes word sodat mense wat gesond en veilig kan werk weer kon terugkeer werk toe. “Indien dit nie gebeur nie, is dit ʼn geval van ‘te min te laat’, en bestaan die gevaar dat die regering baie mense vanweë hongersnood kan laat omkom in sy poging om te keer dat die virus nie mense laat sterf nie.”

Flip Buys (Foto: Twitter/Solidariteit)

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê die grootste fout wat die regering maak is om te dink dat die staat in plaas van die privaat sektor die ekonomie weer aan die gang moet skop. “Die enigste oplossing is dat die privaat sektor bevry moet word om groot hoeveelhede geld in die ekonomie te pomp. Hierdie geld moet verkry word deur vir die volgende jaar belastings en regeringsregulasies dramaties te verlig, verliesmakende openbare ondernemings te verkoop, staatsuitgawes te besnoei en die armes se bestaanstoelae vir die volgende jaar te verhoog.”

Terselfdertyd moet die regering beleggersvertroue dringend herstel om kapitaal na die land te lok deur skadelike beleidsrigtings te laat vaar en staatskapers wat tot dusver skotvry rondloop, te vervolg.

“Die eerste drie weke van inperking was nodig om die verspreiding van die virus te keer en om die land se gesondheidstelsel op ʼn groot toename in siek mense voor te berei, maar baie van die inperkingsregulasies was onnodig en het die pandemiekrisis verder vererger.

Die VF Plus het ook Ramaphosa se aankondiging verwelkom, maar gesê dit is nou van die grootste belang om so gou en so deeglik moontlik die detail betreffende vlak 4 bekend te maak om die onlangse verwarring rakende regulasies te voorkom.

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê dit is belangrik om ʼn sinvolle balans te vind tussen die verspreiding van die virus en die ontsluiting van die ekonomie. Daar moet duidelike kommunikasie wees oor wat toelaatbaar gaan wees.

“Die detail ontbreek nog oor presies wat die verskillende vlakke van ontsluiting bepaal en watter sakesektore en watter regulasies op elke vlak herroep sal word. Wat die VF Plus betref, lê die moontlike angel hiervan in die detail. Die sukses van die geleidelike ontsluiting van die inperkingstydperk om die ekonomie te laat herleef, sal grootliks afhang van wanneer, waar en watter sektore toegelaat gaan word om te heropen.”

Dit is steeds van die allergrootste belang vir die VF Plus dat kleiner ondernemings soos eenmansake in ʼn posisie gestel word om so gou doenlik te begin werk en ʼn inkomste te genereer, het Groenewald gesê.

Die burgerregte-organisasie AfriForum meen dat die regering se reaksie op die Covid-19-pandemie nie gebalanseerd is nie en in sommige gevalle eerder groter krisisse as oplossings tot gevolg gehad het.

Ernst Roets. Foto: Facebook

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, het gesê die organisasie sal voortgaan om magsvergrype deur die staat te beveg en ook praktiese maatreëls voorlê om die staat van inperking verantwoordelik te verslap.

“Ons spreek ons sterk uit teen drakoniese maatreëls wat tans deur die staat afgedwing word, waaronder die departement van toerisme se gebruik van ras as maatstaf vir die toekenning van Covid-19-hulp aan toerisme-ondernemings; regulasies wat die staat mag gee om enigiemand te vervolg wat positief getoets het vir Covid-19 en weier om na ’n regeringsbeheerde kwarantynkamp vir Covid-19-pasiënte te gaan; én regulasies wat gemeenskappe verhoed om na hulle eie veiligheid om te sien deur middel van gemeenskapsveiligheidinisiatiewe soos buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Oubobbejaan ·

Die hele storie is soos ñ kind wat na bottel lekkers staan en kyk, jy mag net kry as dit of dat gebeur. Waar is die “our people organizations” soos blf en die eff manne, hoekom help hulle nie met kos voorsiening nie. Sover is dit net Solidariteit en VF+ wat in ons gemeenskap kos uitdeel, en ja hul gee tot vir ” our people” daar tot ñ pastoor wat sopkombuis hardloop.

Louise ·

In ons gemeenskap is ons plaaslike raadslid van die DA, en die arme dame werk so hard saam met die gemeenskap (wat alle partye se mense insluit), en hulle deel kos vir wit, swart, bruin, pienk, pers, groen, almal uit.

Michael 1 ·

Hy het niks insiggewend gesê nie ,die rokers kan weer sigarette koop en die fases beteken niks as daar nie n tydperk aan gekoppel word nie .Die ekonomie kan nie en sal nie voluit vorentoe beweeg as die uitgediende diskriminerende wetgewing teen wit jongmense nie onmiddellik geskrap word nie.

E ·

Korreksie – diskriminasie teen alle wit mense van alle ouderdomme, geslagte en ondervinding.

PH ·

Hier gaan weer ondeurdagte regulasies kom. “Bejaardes” mag nie die huis verlaat na 1 Mei nie.
Daar is baie bejaardes wat onderwysers is. Selfs ouer as 65 by privaat skole.
Ek twyfel of hulle dit in ag gaan neem en dat die polisie “common sense” gaan gebruik as sodanige onderwyser gestop gaan word.

Lorna ·

Ek is confused hy het baie gese maar niks maak sin nie
Maroela kan jul n uitlegging gee van wat gaan vir wat
Wie mag nou gaan werk
Ek sien vreeslik uit daarna om weer “vrylik” rond te beweeg maar OP my vloer is meer as 200 persone
En gaan ons wat baie naby mekaar sit dit regkry on verspreiding vry te spring
Ek bly maar ook is bang gaan die verslapping die korona vrye teuls gee
Ek werk by sars

Marisa W ·

Hi Lorna – julle by SARS kan maar vir eers by die huis bly – niemand maak geld nie so daar gaan binnekort nie meer belasting wees vir julle om in te vorder nie.

Drico ·

Genade mense. Dis haar werk nie haar besigheid of reels nie. Lorna, jy behoort die inligting van jou onmiddelike hoof te kry hoe julle tak die situasie gaan hanteer en beheer.

koos10 ·

CR het dit duidelik gesê dat een derde mag terug keer maar dat mense wat by die huis kan werk moet.

E ·

Vertel dit vir my voortuitstrewende maatskappy – hulle leef omtrent 50 jaar terug soos hulle personeel behandel. Ek wil van die huis af werk, maar twyfel of dit in hulle smaak sal val. Ons was gedwing om van die huis te werk, en moet baie prys gee die volgende. paar maande. Ek dink ons mtpy gaan vinniger sink as SAA.

Willem ·

Die vlakke beteken niks en is slegs n manier om die inperking te verleng. Vlak 4 kan baie lank aanhou. Die ANC stel glad nie belang in die ekonomie nie,hulle het mos nou geld. Lees gerus Piet Mouton se brief aan Cyril. Hoor op fb Cyril word lof toegeswaai ,wag maar

Drico ·

En so is die meerderheid van ons nogsteeds geknielhalter. Kan net bid tot Vader vir n uitkoms en dat hierdie gekheid tot n einde kom.

Simoné ·

Ek sou daarvan hou as daar meer regte vir die was wat reeds moet gaan werk. Ek verstaan heeltemal dat almal moet terugkeer werk toe, die ekonomie moet voortgaan, dit is tot voordeel van almal. Maar ek, ‘n Mamma van drie, moet nou terug gaan werk toe, en ek het absoluut niemand om na my kinders om te sien nie. My ouers en die res van my familie woon in ‘n ander provinsie, so dit is nie ‘n oplossing nie. Ek het NIEMAND om my te help nie, maar my werkgewer voel regtig ‘n veer. Ek verstaan sy punt, sy besigheid moet voortgaan, maar hoe gemaak? Ek is seker ek is nie die enigste ouer wat met hierdie probleem sit nie.

Michael 1 ·

Hierdie is n voorbeeld van die ondeurdagte reels wat die regering daar stel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.