Uitmergelende wedren eerste keer in SA

Die Adventure Racing- wêreldkampioenskap word vanjaar in die Oos-Kaap aangebied. (Foto: Verskaf)

ʼn Wedren wat deelnemers tot hul uiterste druk, nege dae lank duur en oor meer as 700 km strek, word vir die eerste keer in Suid-Afrika aangebied – iets wat waarskynlik nooit weer sal gebeur nie.

Nagenoeg 600 fiksheidfanatici van regoor die wêreld gaan in Oktober op die Kouga -plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap toesak in die hoop om die Adventure Racing- wêreldkampioenskap te wen.

Die beste van die bestes sal waarskynlik hierdie uitmergelende wedren binne 105 uur, oftewel vier of vyf dae, voltooi en in die proses slegs ses tot agt uur in totaal geslaap het.

“Hierdie wedren gaan sonder ophou voort. As jy kan, hoef jy nie te slaap nie en net deurdruk,” sê Heidi Muller, uitvoerende hoof van die Adventure Racing World Series.

Heidi Muller, uitvoerende hoof van die Adventure Racing World Series. (Foto: Verskaf)

Muller is die mede-eienaar van Expedition Africa wat vanjaar se wêreldkampioenskap in Suid-Afrika aanbied.

Die wedren vereis van deelnemers om onder meer vir kilometers lank bergfiets te ry en berge uit te klim voordat hulle by die wenstreep kom.

Die enigste vangplek is dat deelnemers tot ʼn week voor die tyd nog nie weet hoe die roete lyk of presies watter dissiplines hulle sal moet baasraak om die wedren te voltooi nie.

Die wêreldkampioenskap word elke jaar in ʼn ander land, met verskillende terreine en klimate aangebied, en dit bepaal hoe die roete lyk.

“Die land se organiseerders beplan die roete, of dit oor berge, see of Karoo, of al hierdie terreine strek, en wat in elke been van die wedren gedoen moet word,” sê Muller.

Hoe dit werk

(Foto: Verskaf)

Die drie hoofdissiplines wat altyd in wêreldkampioenskappe voorkom is bergfietsry, loop/hardloop en roei. Na gelang van die terrein van die betrokke land kan ander dissiplines bygevoeg word, soos snorkel, seil en abseil.

“Die week voordat die wedren begin vind die deelnemers uit wat hulle gaan doen en hoeveel keer hulle byvoorbeeld gaan moet fietsry of hardloop. Hulle weet egter steeds nie wanneer in die wedren die dissiplines gedoen word nie,” sê Muller.

Die spanne mag nie enige eksterne hulp van iemand ontvang nie, wat beteken dat ʼn koeldrank nie eens deur ʼn ondersteuner aanvaar kan word nie.

“As die spanne wel verby ʼn klein dorpie ry en vir hulself iets koop is dit heel in die haak,” sê Muller.

Hulle kan boonop slegs met behulp van ʼn kaart hulself oriënteer tydens die wedren. Hulle mag geen tegnologie gebruik om die roete te volg nie. Elke individu word wel met ʼn opsporingstoestel toegerus om te verseker dat hulle ten alle tye opspoorbaar is.

Die spanne, wat uit vier amateurs bestaan, moet deurlopend as ʼn span beweeg en saam elke dissipline aanpak. Geen man of vrou mag agtergelaat word nie. Die spanne moet minstens een persoon van die ander geslag in hul span hê.

Sou die spanne egter basiese reëls tydens die wedren oortree, soos om nie die roete te volg soos dit ontwerp is nie, of meer as 50 m van mekaar af te ry, word hulle gepenaliseer.

“As spanne byvoorbeeld hulle opsporingstoestelle agterlaat, word ʼn minimum van ʼn twee uur lange straf opgelê,” sê Muller.

“Hierdie soort strawwe kan katastrofies wees vir die topspanne wat op elke minuut staatmaak. Die spanne moet boonop die straf by die laaste been van die wedren uitdien en sien hoe een na die ander spanne hulle verbysteek.”

Moeilik, maar nie onmoontlik

Heidi en Stephan Muller het self die roete beplan en voltooi. (Foto: Verskaf)

Heidi en haar man, Stephan, wat die direkteur van die wedren is, het self die roete beplan en voltooi.

“Elke tree wat die deelnemers gaan gee, is self deur ons gedoen,” sê sy.

“Daar was wel oomblikke wat ons gedink het dit gaan die einde van ons wees. Ons was in ʼn stadium sopnat, die son was besig om te sak, maar ons het deurgedruk. Al wat ons kon sê was ‘dankie Here’.”

Heidi sê sy en haar man het ná die tyd besef, sou hulle die noodknoppie op hul opsporingstelsel gedruk het, dit nie eens sou gewerk het nie.

“Niemand sou ons kom help het nie, want daar was nie op daardie deel van die roete enige sein nie,” sê sy.

“Maar dit was deel van die toets. Met die wedren weet ons nou waar die dooiepunte is en hoe om mense se veiligheid te verseker.”

St. Francis is die gasheerdorp van vanjaar se wêreldkampioenskap en die Cape St. Francis-oord sal as die gasheeroord optree waar al die deelnemers voor die wedren byeen gaan kom.

Die Cape St. Francis-oord sal as die gasheeroord optree. (Foto: Verskaf)

Heidi wou egter nie verklap watter uitdagings sy en haar man in die roete beplan het nie.

“Al wat ek kan sê is dat ek amper 50 jaar oud is, en as ék dit kan doen, kan enigiemand dit doen.”

Die roete strek oor 72 boere se private grond om te verseker dat die deelnemers deurlopend in ʼn gekontroleerde en veilige omgewing is.

“Veiligheid is baie belangrik in wêreldkampioenskappe omdat die wedren dag en nag lank duur. Spanne kan onder ʼn bos slaap as hulle uitgeput is, mits dit veilig genoeg is om dit te doen. So ons het lank gesoek na ʼn deel van die land waar dit veilig is,” sê Heidi.

“Weens die belangrikheid van veiligheid gaan hierdie wêreldkampioenskap waarskynlik die eerste en laaste wees vir Suid-Afrika.

“Die roete is wel so beplan om die mooiste van die land ten toon te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.