Uitspraak verwag in Tazné van Wyk-moordverhoor  

Moyhdian Pangkaeker tydens een van sy verskynings in die hof. (Foto: Eunice Scholtz)

Uitspraak teen die man wat aangekla word van die moord op die agtjarige Tazné van Wyk in 2020, word Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gelewer.

Moyhdian Pangkaeker staan tereg op 25 aanklagte, waaronder moord, verkragting en ontvoering. Hy het op al die aanklagte skuld ontken.

Pangkaeker is op 17 Februarie in Cradock in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat die polisie hom as ʼn verdagte in die ontvoering van Tazné beskou het. Sy het op 7 Februarie uit haar ouershuis in Elsiesrivier verdwyn en haar liggaan is later in ʼn stormwaterpyp buite Worcester in die Wes-Kaap gevind. Pankaeker was in dié stadium uit op parool.

Verskeie getuienislewerings het tussen Mei en Augustus vanjaar in kamera plaasgevind omdat minderjariges betrokke was of volwassenes wat tydens die beweerde oortreding minderjarig was.

Kringtelevisiemateriaal, wat die staat as bewysstukke in die hof ingedien het, plaas Pangkaeker in die teenwoordigheid van Tazné op die dag waarop sy as vermis aangemeld is.

Die beeldmateriaal wys hoe Pangkaeker en Tazné ʼn petrolstasie buite Worcester skuins voor middernag te voet verlaat.

In sy eedverklaring voor die hof het Pangkaeker volgehou dat hy en die slagoffer die Vrydagmiddag sáám deur vier buitelanders – drie mans en een vrou – in Ravensmead ontvoer is.

Ravensmead is sowat 4 km van Connaught Estate, waar Tazné se familie haar laas gesien het.

Volgens Pangkaeker het die beweerde ontvoerders hom en Tazné in Worcester afgelaai, maar hulle vir ʼn tweede keer ná middernag naby Hexpark, ʼn uitbreiding van Worcester, ontvoer.

Dit is ook dieselfde groep mense, volgens Pangkaeker, wat Tazné vermoor en hom vrygelaat het.

Tydens kruisondervraging wou die staat weet waarom Pangkaeker niemand omtrent die ontvoering verwittig het toe hulle die eerste keer vrygelaat is nie. Die staat wou ook weet waarom hy nie probeer het om Tazné se ouers te kontak en in te lig dat hulle kind veilig is nie.

“Ek het vir haar gesȇ ek sal haar huis te vat. Ek het haar belowe,” het Pangkaeker aangevoer.

Pangkaeker het ná sy inhegtenisneming die polisie gewys waar haar liggaam is.

Tazné is verkrag, doodgeslaan en haar een hand is met ʼn stomp voorwerp verwyder.

Pangkaeker se DNS is onder die slagoffer se naels gevind.

Senior staatsaanklaer, adv. Lenro Badenhorst, het aan Pangkaeker die volgende gestel: “Die rede waarom Tazné jou DNS onder haar naels gehad het, was omdat jy haar aangerand het en sy haar teen jou verdedig het.”

Verdere getuienis in kamera deur Pangkaeker se dogter, wie se naam weerhou word, het onthul dat die verdagte tussen 2016 en 2019 ʼn seksuele verhouding met haar gehad het.

‘n Plakkaat en kers in die Van Wyk’s se sitkamer vir Tazné.

Die staat voer aan die verhouding tussen pa en dogter het weens intimidasie en geweld voortgeduur.

Pangkaeker plaas die skuld op sy dogter.

Volgens hom het sy dogter hom een aand ná werk op pad huis toe oorrompel en verkrag.

Ten spyte van sy sterk fisieke gestalte in 2016, het sy dogter dit skynbaar reggekry om hom – en haarself – te ontklee en haarself op hom af te dwing.

Na dié voorval het ʼn seksuele verhouding van drie jaar tussen Pangkaeker en sy dogter ontstaan wat later daartoe gelei het dat hy ʼn kind by haar verwek het.

Die staat het Pangkaeker egter in sy slotbetoog daarop gewys dat sy getuienis opgemaak en deurtrek is van teenstrydighede.

Pangkaeker het daarop reageer met: “Hou op om te sê ek vertel leuens. Hou op asseblief.”

Saleem Halday, Pangkaeker se regsverteenwoordiger, het in sy slotbetoog die hof gevra om sy kliënt op 22 klagte vry te skeld weens “wesenlike teenstrydighede” en onbetroubare staatsgetuies.

Volgens Halday het die staat slegs omstandigheidsgetuienis op aanklagte wat met die moord van Tazné verband hou, na vore gebring.

Hoewel Pangkaeker volhou hy is onskuldig, het hy tydens kruisondervraging erken dat hy opsetlik sy parool ontwyk het.

Pangkaeker het twee keer sy paroolvoorwaardes verbreek sedert hy op 13 April 2013 op parool vrygelaat is. En terwyl die moord op Tazné tot sy uiteindelike inhegtenisneming gelei het, het hy 22 van die 25 beweerde klagte teen hom, glo tydens sy parool gepleeg.

Pangkaeker is in 2001 in die Bellville-streekshof skuldig bevind aan ontvoering en manslag, nadat hy sy destydse vrou, Rosetta Petersen, se tweejarige seun van haar af weggeneem het.

Die tweejarige, wat nie Pangkaeker se biologiese kind was nie, is tot so ʼn mate aangerand dat hy drie maande ná sy ontvoering gesterf het.

Pangkaeker is ʼn vonnis van tien jaar gevangenisstraf opgelê. Hy het teen die uitspraak geappelleer, maar die aansoek het misluk en hy het tot en met 2013 sy vonnis uitgedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Dis maar n siek spul daar in die suide waar klein meisies verkrag en vermoor word en dit stop net nie.Dalk gangster mentaliteit.

Veronika ·

Sit hom terug in die tronk en smyt die sleutel weg!! Hy is n gewetenlose misdadiger!!

Sarel ·

Vraag: indien die Vent nie op Parool vrygelaat was nie, kon
die kind dalk nog geleef het…
SA Parool stelsel is Pateties..

Shakespeare ·

Smeerlsp en n verskoning van n mens. Hoort in isolasie die res van sy lewe maar………kriminele is n bewaarde spesie en strek vd parlement tot die munisipale werknemer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.