UK-bib se bouwerk staan stil oor gebrek aan geld

Onmeetbare skade is aan die Jagger-biblioteek aangerig. (Foto: Lerato Maduna/www.uct.news.ac.za)

Deur Daniel Steyn, GroundUp

Die Universiteit van Kaapstad se Jagger-biblioteek, verwoes in ʼn brand wat op 18 April verlede jaar uitgebreek het, word “herverbeel”, maar van geld om die biblioteek te herbou – in watter vorm ook al – is daar in hierdie stadium geen teken nie.

Die Jagger-biblioteek is beskou as een van die belangrikste instellings in die land en die verwoesting daarvan word bestempel as een van die ergste erfenisrampe in onlangse Afrika-geskiedenis.

ʼn Omvattende openbaredeelname‑ en herverbeeldingsproses vir die biblioteek is aan die gang, maar die versekering op die gebou is nog nie uitbetaal nie weens hangende regstappe tussen die onderskeie versekeraars van die Universiteit van Kaapstad (UK), SANParke en die Stad Kaapstad.

Die biblioteek was onder andere die tuiste van die UK se Spesiale Versamelings wat ingesluit het een van die wêreld se omvangrykste versamelings van Afrika-boeke en ‑films, sowel as waardevolle argiefversamelings waarin sleutelgedeeltes van suidelike Afrika se geskiedenis opgeteken is.

Sestien maande ná die brand beweeg sake teen ʼn slakkepas. Afgesien van ʼn tydelike dak wat in Augustus opgesit is – dit het twee maande geduur – is daar konstruksiegewys nog nie aan die Jagger-gebou geraak nie.

Die universiteit se versekeraars het UK aangemoedig om SANParke hof toe te sleep oor ʼn vervalde kontrak tussen SANParke en ʼn kontrakteur wat veronderstel was om helikopters te ontplooi om die vlamme te blus. Hierdie regsgeding duur voort.

Elijah Moholala, woordvoerder van UK, sê hoewel die regstappe in die naam van die universiteit gedoen word, is dit wesenlik tussen die onderskeie versekeraars van die universiteit, die stad en die parke-owerheid.

Moholala sê hy kan nie veel sê oor die regstappe, die versekeringseise, óf die ondersoek na die brand nie en het navrae daaroor na ʼn SANParke-verslag verwys. In hierdie verslag voer die Tafelberg-  Nasionale Park aan dat helikopterkontrakteurs gepas en betyds gereageer het.

In die argiewe is pamflette van politieke en nie-winsgewende organisasies wat sleuteloomblikke in Suid-Afrika se geskiedenis dokumenteer. (Foto: Daniel Steyn/GroundUp)

Ujala Satgoor, uitvoerende direkteur van UK-biblioteke, sê die bou van ʼn nuwe Jagger-biblioteek gaan aansienlike finansiering vereis wat afhanklik is van die versekeringsuitbetaling en bykomende fondsinsamelings deur die universiteit self.

Intussen gebruik mense die tyd om die toekoms van die Jagger-biblioteek te herbedink. Voor die brand is ʼn proses van stapel gestuur om ʼn sogenaamde biblioteekmeesterplan saam te stel en Satgoor sê die brand het die geleentheid geskep om die reikwydte daarvan te vergroot.

Wêreldwyd verander die tradisionele idee van ʼn biblioteek baie vinnig, sê sy. Biblioteke word herdefinieer en klem word gelê op sogenaamde intellekteuele ondervindings. Die biblioteke van die toekoms gaan meer oop en innoverende ruimtes wees wat leer op verskillende maniere aanmoedig.

Terwyl die versameling van boeke en die stoor van harde kopieë van boeke en dokumente altyd ʼn belangrike funksie van ʼn biblioteek gaan bly, sê Satgoor sy beskou ʼn toekomstige biblioteekkompleks by die universiteit as iets wat ʼn “balans en mengsel van ruimtes” bevat en ʼn verskeidenheid dienste en ervarings bied.

Sommige mense wil egter sien dat die gebou na sy oorspronklike weergawe herstel word. Dit is waarskynlik ʼn eenvoudiger proses, veral wat betref toestemming van erfenisowerhede. Die Jagger-biblioteek is ʼn provinsiale erfenisterrein.

Politiek speel ʼn rol

Bewaringswerk aan die Herbert Baker-versameling duur voort. (Foto: Daniel Steyn/GroundUp)

Die debat is egter ook polities. In 2012 is die Jagger se leeskamer tot die oorspronklike herstel en aanbouings wat in die 1960’s en 1970’s gedoen is, is verwyder. Die universiteit is egter nie meer dieselfde instelling as wat dit destyds was nie.

“Ons almal weet [die] Fees Must Fall [-veldtog] het die fondamente van hoër onderwys soos ons dit ken, geskud,” sê Satgoor.

Daar was sedertdien talle vrae oor hoe om onderrig en leer meer inklusief vir jong mense uit diverse agtergronde te maak. Hoe gemaak met die Jagger-biblioteek hou ook verband met die voortgesette herdefiniëring van die UK as ʼn kontemporêre Afrika-universiteit.

David Gibbs, die UK se landskapsargitek en ʼn erfenispraktisyn, sê ʼn hervormde Jagger-biblioteek is versoenbaar met ʼn kulturele siening van erfenis as iets wat immer vorentoe beweeg en verander.

Politieke en praktiese oorwegings speel natuurlik ook ʼn rol. ʼn Naamsverandering word oorweeg en debatte oor die hertoewysing van UK se koloniale argitektuur duur voort.

Gibbs sê daar is nou ook ʼn geleentheid om die vloei en aansig van die pleinruimte rondom die biblioteek te verbeter. Die gebou self is nie ideaal vir die stoor van sensitiewe argiefmateriaal nie en die toekomstige gebruik van die biblioteek word bevraagteken.

  • Hierdie artikel is verkort en word met vergunning op Maroela Media geplaas. Lees GroundUp se oorspronklike artikel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Koos 100 ·

Die versekerings maatskappy doen nie hul werk nie. Hulle moet betaal om die herstel werk te doen en dan eis by eie hulle dink is verantwoordelik. Laat ons asb weet wie die maatskappy is. Ek wil nie met hulle sake doen nie.

Frank John ·

Ek kan sien dis poletiese gebeurtenis dat die plek afgebrand het, ‘n beplande aanval op geskiedenis van ons land se verlede.

Jaada ·

Dit is ‘n erfenis terrein, maw dit moet in sy oorspronklike vorm herstel word. Bou n nuwe een apart as jy nuwe idees het. Waarvoor moet die geskiedenis “afgebreek” word om ‘n nuwe te skep, sit die nuwe net by?

Swerwer ·

Waarom moet dit herbou word, dit dien geen waarde of doel nie, dit is mos die NUWE Suid Afrika se standaard morele waardes om alles te vernietig wat in apartheidsjare opgerig is.

Jaco ·

Ek weet nie waarom dit ‘n probleem is dat die biblioteek nie herbou word nie. Dit was dan al die jare ‘n simbool van kolonialisme, rassisme en apartheid. Ek het gedink die brand verlede jaar het alles ge-“decolonise”

AJ ·

Die vernietiging van die waardevolle
biblioteek is ‘n MISDAAD teen die nasie (mensdom?) waarvoor niemand aangekla en vervolg word nie?

WAAROM NIE?

FEES MUST FALL en hulle ‘meesters’ (EFF?) moet verantwoording doen! (BETAAL)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.