Universiteitskrisis het te make met gelykheid, vryheid

Argieffoto.

Argieffoto.

Die hedendaagse krisis wat hom tans afspeel by Suid-Afrikaanse universiteite het baie te make met die gedagte van gelykheid en vryheid, asook die rol van die wese van ʼn universiteit.

Dit was die mening van sprekers wat vandag tydens ʼn gespreksgeleentheid van die NP van Wyk Louw-sentrum by die Voortrekkermonument opgetree het. Die geleentheid is deur akademici van verskillende universiteite en tersiêre instellings, vriende van die FAK en lede van die publiek bygewoon.

Prof. Danie Goosen van Unisa het gesê dat anti-Afrikaanse kragte by universiteite tans gelykheid en ʼn gedienstigheid aan die staat nastreef. “Daar word ʼn totale toeganklikheid tot universiteite vereis en Afrikaans word as ʼn hindernis daartoe beskou,” het Goosen gesê.

Suiwer ekonomiese model

Volgens hom beteken dit in praktiese terme dat voormalige Afrikaanse universiteite omskep word in massa universiteite desondanks die negatiewe implikasies soos groter klasse wat die getalleverhouding tussen studente en dosente skeef trek. Verder is die onderwysstrukture volgens Goosen reeds disfunksioneel en die resultate hiervan is skokkend. “Ongeveer 60% eerstejaars druip en 55% studente slaag nooit daarin om ʼn graad te verwerf nie.”

Hy het gesê universiteite word alleenlik as uitnemend beskou as hulle aan die behoeftes van die staat voldoen en as ʼn suksesvolle onderneming bedryf word. “Uitnemendheid kan egter ook geknoop word aan die gedagte dat ʼn universiteit ʼn sin vir die geheel en die samehang van dinge by studente kan kweek. Ons wil tog nie net geleerde barbare die wêreld instuur wat nie veel van enigiets buiten hulle vakdissipline verstaan nie.”

Goosen het dit bepleit dat universiteite ruimte moet skep waar gemeenskappe tot hulle reg kan kom. “Die gedagte van vryheid is ontbrekend by die meeste universiteite, maar dit is nie vreemde ideaal nie, dit is eintlik hoe dit veronderstel is om te wees. Gemeenskappe het dikwels self universiteite van grondvlak af tot stand gebring. Universiteite is selde deur die staat gestig.”

Hoër doel van universiteite

Prof. Ad Verbrugge van die Universiteit van Leiden, Nederland, en prof. Hennie van Coller en dr. Johann Rossouw van die Universiteit van die Vrystaat se bydraes het aangesluit by wat die wese van ʼn universiteit is.

Die sprekers was dit eens dat ʼn universiteit benewens die rol van ʼn suiwer opleidings- en navorsingsinstelling, ook ʼn hoër doel het om mense te vorm en te kultiveer sodat studente as volwasse burgers aan die sake van ʼn gemeenskap kan deelneem.

Verbrugge het gesê selfs in Nederland word die universiteitswese ondersoek. “Globalisering dra die kwessie van die vervreemding van die eie, maar tog word daar gevoel dat universiteit ook ʼn groter verantwoordelik tot onderwys as geheel het.” Hy meen dat universiteite ook nie meer soewerein ten opsigte van die ekonomie en staat staan nie, en nog nooit vry van die tyd van die gees was nie.

“Ek stel voor dat die verskillende kante van ʼn tydgees ten volle benut word. Hoewel Afrikaans tans by universiteite gesien word as gelyk aan ongelykheid en diskriminasie, moet daar êrens iets gedoen word om Afrikaans as die dryfveer te gebruik om die belangrikheid van ander minderheidstale te beklemtoon. Natuurlik het hulle nie ʼn sterk akademiese geskiedenis nie, maar Afrikaans kan optree as verdediger van ander minderheidstale. Verder moet daar koalisies tussen minderheidstale gestig word. Ek glo ware universalisme lê in partikularisme,” het Verbrugge gesê.

Nie net Afrikaans praat nie

Van Coller en Rossouw het albei met die Universiteit van Vrystaat as agtergrond ʼn blik op die land se universiteitswese gegee. Albei is van mening dat Afrikaans se dae as onderrigtaal aan dié universiteit getel is, maar dat dit nie die einde van Afrikaans aan die universiteit hoef te beteken nie. “Volgens die jongste aanbevelings oor die universiteit se taalbeleid sal opvoedkunde en die landbouwetenskappe steeds in Afrikaans onderrig word omdat daar ʼn mark daarvoor is. Afrikaans is egter nie ʼn taal wat homself maklik laat onderkry nie,” het Van Coller gesê.

Saam met Rossouw het hy voorgestel dat Afrikaans op kreatiewe wyse by voormalige Afrikaanse universiteite benut word en behoue bly soos deur seminare en lesings in Afrikaans aan te bied en besprekings van boeke en flieks in Afrikaans te doen.

“Dit gaan nie net hier oor Afrikaans praat nie, maar oor die kultivering en verheffing van kennis,” het Rossouw gesê. “Taal is ʼn filter van kennis en dit is die voordeel van kleiner tale vandag. Die soort kennis wat ons in Afrikaans oordra moet ophef en verlei. Dit moet goed aan mense oordra wat uniek is en wat hulle nie op ʼn ander plek kan kry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

TTh ·

dit is nou sowaar ‘n klomp twak – die hoofdoel van die onrus by universiteite is om studiegelde te omseil en nog ‘n ‘spyker’ in Afrikaans in te dryf – die liberale bestuurslui sit met n dilemma in dat hul hul gegewe posisies by die universiteit kan verloor, indien hulle Afrikaans as onderrigmedium sou verdedig, alles te midde van die rassistiese aanslag teen blanke afrikaanse studente wat normaalweg fantasties presteer teenoor die nuwe affirmative groep wat ongeveer ‘n 80% dopsyfer handhaaf – Rossouw dit gaan alles oor Afrikaans praat en gebruik as onderrigtaal ten einde die fantastiese standaard van die Afrikaanse gemeenskap veral die blankes se kultuur en kennis te verbeter en uit te bou, al die ander taal en kultuurgroepe kan dieselfde he, maar NIE TEN KOSTE VAN AFRIKAANS EN AFRIKAANS SPREKENDE (INGESLUIT BLANKES) NIE !!!

Disselboom ·

As mens deur die hoë woorde sny, lyk dit of die konsep van die Nederlandse geleerde is dat Afrikaners nou die agterstalligheid wat die swart tale het om akademiese tale te wees, moet help inhaal. Nog werk vir die oorwerkte Afrikaner, en nog iets waarvoor daar nie waardering gaan wees nie. Die eise gaan oor wil ryk word, wil nie werk nie en maak die dinge stukkend wat my bedreig omdat my vermoëns nie daarby kan bykom nie. Die huidige universiteite is saam met die staatsdiens aan die ANC-regering en kie oorhandig in 1994 en ons moet dit begin inneem en verstaan. Dis die staat se eiendom. en wie aan bewind is, beheer dit.

Dis nie lekker as jou goed gesteel word nie, maar jy kan aanhou kerm en kla daaroor, of jou vermoë wat jy gehad het om dit op te bou, weer inspan. Om die instelling te verloor, beteken nie ons het die vermoë verloor om sulkes te bou nie! Of het ons?

Bekommerede ouer ·

Yip, dink ook hierdie is ‘n klomp twak. By TUT is die onderrig taal Engels en daar word steeds gestaak, afgebreek en verwag dat alles net gegee moet word.

Michael ·

Dankie tog dat daar nog ‘n instansie is soos Akademia waar Afrikaans sprekende studente kan leer en hopenlik groei hy so dat meer grade aangebied word.

BuzzBull ·

Hoekom vertolk ons nie meer films en sepies in Afrikaans nie, waar is die dae toe sepies vertaal was in Afrikaans, dit was die beste en komieklikste ooit. Vertaal films soos die Duitsers, Nedelanders en al die Arebierse lande maak. Dit skep werk en bevredeging tot Afrikaanse mark. Veg, behou en vergroot ons taal!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.