Untu gaan staak oor spoorwegstelsel

Argieffoto

Die United National Transport Union (Untu) het sy lede asook alle Suid-Afrikaners versoek om aan sy nasionale protes vandeesmaand deel te neem wat hoop om druk op pres. Cyril Ramaphosa te plaas om voorsiening te maak vir veilige en betroubare passasierspoordienste vir alle Suid-Afrikaners.

Dié versoek volg kort nadat ʼn trein Dinsdag vroegoggend naby Boksburg in Ekurhuleni, Gauteng, ontspoor het.

Volgens Steve Harris, sekretaris-generaal van Untu, dobbel die president met Suid-Afrikaners se lewens. “Hoe kan hy ʼn droom van treine vanaf Johannesburg tot in Musina skep wanneer die polisie nie eens kan verhoed dat die skroewe gesteel word wat die dwarsbalke bymekaar moet hou op die slegte spoorwegstelsel nie?” het Harris Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Harris het gesê die ontsporing van die trein kon voorkom gewees het as die president net aan die vakbond se herhaalde oproepe gehoor gegee het om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) te ontplooi om spoorweginfrastruktuur te beveilig.

Harris het gesê Untu is wel dankbaar dat niemand tydens die voorval beseer is nie en het ook  sy medelye betoon met die familie van die tienerseun wat die afgelope naweek uit ʼn trein in Soweto in Johannesburg geval het.

Maroela Media het vroeër berig paramedici is Sondagmiddag na die toneel naby die Merafe-treinstasie in Tsamaisostraat in Naledi ontbied waar ʼn seun, vermoedelik 13 jaar oud, glo uit die trein waarin hy elders op pad was, geval het.

Die seun het ʼn kopbesering gedurende die val opgedoen en is op die toneel dood verklaar.

“Sy dood kon voorkom gewees het as die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), operateur van Metrorail, destyds voldoen het aan die uitspraak van ʼn vol bank in die konstitusionele hof wat in 2004 beslis het dat Prasa ten volle aanspreeklik is vir passasiers se veiligheid en dus aanspreeklik kan wees vir siviele en strafregtelike optrede indien hy sy pligte versuim,” lui die verklaring.

Volgens Harris is Prasa tot dusver ook toegelaat om die konstitusionele hof se uitspraak van 2015 te ignoreer wat destyds bevind het dat treindeure gesluit behoort te wees wanneer treine in beweging is. Die hof het bevind dat operateurs wat oop deure in beweging toelaat, skuldig is aan nalatigheid en vervolg behoort te word.

Luidens die verklaring deel die vakbond die sentiment van Thembinkosi Mkhaliphi, hoofdirekteur van die departement van arbeid en lid van die stuurkomitee van die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings-en-arbeidsraad (Nedlac), dat alle werkers, ongeag of hulle pendelaars of werknemers van Prasa is, veilig behoort te voel wanneer hulle per trein reis.

“Selfs as net een mens sterf, is dit een mens te veel,” het Mkhaliphi tydens ʼn vorige geleentheid gesê.

Nedlac het intussen Untu se geaffilieerde federasie asook die vakbondfederasie Fedusa toestemming gegee om op 26 Julie tot wettige protesaksie oor te gaan.

“Dit laat enigiemand toe om deel te neem aan ons beplande staking aangesien enige protesaksie beskerm sal word.

“Saam kan ons die regering sover kry om die swak diens wat deur Metrorail verskaf word, asook sy verouderde infrastruktuur, veiligheidsaspekte wat tot sterftes lei, aanhoudende aanvalle, gesondheids- en veiligheidsgevare asook brandstigtingkwessies te verbeter wat Untu- én Fedusa-lede en alle ander pendelaars elke dag op die treindiens in wanhoop laat,” het Harris gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

danie ·

Kyk die verskil tussen Afrika en die beskaafde wereld. Ek dink nie Afrika se mense is gereed om in `n ontwikkelde wereld tet leef nie. Ek kan nie verstaan hoekom hulle als wat met moeite tot stand gekom het vir hulle self toe eien en dan geen waarde daarin kan sien nie. Wanneer sal hulle ooit beskaafd genoeg raak om `n verandering in hul eie lewens aan te bring en lewens en ander goed van waarde te respekteer?

John ·

Dan moet ‘n noodtoestand nou maar ingestel word… as ‘n permanente maatreèl, want die Weermag moet reeds ons grense en wild bewaak, riviere skoonhou, ons damme en kragsentrales beveilig. Ons skole en hospitale is onder beleg en politieke partye vermoor daagliks lede. Om nou ook elke 5 treè van ‘n spoorlyn ‘n weermaglid te stasioneer om die skroewe te tel, gaan ‘n mega-army vra… wat dalk die werkloosheid kan aanspreek, maar ons finansminister in ongevalle plaas en ons weet hoe lyk dit daar. Binnekort het SA ‘n militère-opperraad van oud-MK’s met die gem ouderdom van 21 jaar. (Ons kan dan die verjongingsmiddels uitvoer saam met hemp en cannabis.)

Leon ·

Privatiseer PRASA en Transnet Freight Rail. Privatiseer die spoornetwerk. Dan sal ons puik diens kry want dan is die regering nie meer betrokke nie. Dit werk briljant in die buiteland.

Frikkels ·

Die weermag moet hulle bepaal by hulle pligte. Die ou spoorweg polisie moes nooit ontbind het nie. Bring hulle terug, en die probleme sal op ñ end wees!

marous ·

Nou moet ek my werkgewer in die tande skop ? As julle versoek dat daar honderde duisende aan die parlement en unie geboue se deure ruk terwyl die papperds binne sit , sal werkgewers met graagte hulle deure sluit en saam gaan . So reel dit Harris

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.