US gaan nie aansoek om inligting oor ondersoek teenstaan

Stellenbosch-University

Universiteit Stellenbosch (Foto: Cair.za.net)

Die Universiteit Stellenbosch (US) sê hy gaan nie Leon Schreiber en die DA se hofaansoek om toegang te kry tot inligting oor sy ondersoek na die gedrag van sy rektor teenstaan nie.

Die DA het die US hof toe gesleep oor sy weiering om die bewyse wat gebruik is om sy rektor, prof. Wim de Villiers, onskuldig te bevind, openbaar te maak. Na bewering het De Villiers op onvanpaste wyse probeer om Cameron te oortuig om die nuwe kanselier te word terwyl Cameron die hofsaak teen die US se taalbeleid om Afrikaans prakties af te skaf, aangehoor het.

Die universiteit het ʼn ondersoek, onder leiding van afgetrede regter Burton Fourie, na De Villiers begin nadat ʼn klag in dié verband ontvang is. Die ondersoek het De Villiers van enige blaam onthef.

“Na oorweging van die hofaansoek en ondersteunende verklarings, asook verwante omstandighede, het die US besluit om nie die aansoek teen te staan nie. Hierdie besluit impliseer nie dat die US die applikante se sienings en bewerings gelyk gee nie,” het die universiteit in ʼn verklaring gesê.

“Die US is van mening dat die onafhanklike ondersoek van regter Fourie die bewerings deur dr. Schreiber en die DA weerlê. Die rekord van die Fourie-ondersoek, naamlik die transkripsies van mondelinge verrigtinge, geskrewe kommunikasie en ander dokumente waarin die applikante wil insae hê, sal ook regter Fourie se bevindinge ten opsigte van die rektor en afgetrede regter Cameron ondersteun.”

Die universiteit se raad het die Fourie-verslag in Desember verlede jaar aanvaar en ook aan die publiek beskikbaar gestel. Fourie het in sy verslag bevind dat daar nie meriete in die bewerings teen De Villiers óf Cameron was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tweeling ·

Hy word beskerm, sal die inligting wat saakmaak nie deurgee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.