US internasionaal vereer vir Covid-19-navorsing

Foto bloot ter illustrasie: (CDC / Unsplash)

Die Sentrum vir Epidemie-reaksie en -innovasie by die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs internasionale erkenning ontvang vir sy werk om Covid-19-variante te identifiseer en na te spoor. Die MIT (Massachusetts Institute of Technology) se Technological Review in die VSA het dié sentrum se werk as een van die tien tegnologiese deurbrake van 2022 aangewys.

Die jaarlikse lys beklemtoon die tegnologiese topdeurbrake wat in die toekoms die grootste invloed op die wêreld sal hê. Die tydskrif se verslaggewers en redakteurs ondersoek jaarliks ’n wye reeks onderwerpe en kies dan deurbrake wat mense se lewe glo beduidend sal beïnvloed.

Die bio-informatikus prof. Tulio de Oliveira is aan die stuur van dié sentrum wat hom beywer vir die waarneming van patogeengenomika om biomediese ontdekkings aan te vul en doeltreffend op epidemies te reageer.

Die universiteit sê in ’n verklaring dat dit juis dié soort waarneming is wat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes gehelp het om die Beta- en Omikron-variante van SARS-CoV-2 na te spoor en die res van die wêreld te waarsku.

“Ons voel baie geëerd om as die hoofgroep aangewys te word wat aan die voorpunt van genomika-waarneming van Covid-19 in die wêreld staan, asook om op MIT se lys van tegnologiese deurbrake vir 2022 te verskyn. Ek glo MIT dra heelwat kennis van baanbreker-tegnologieë,” het De Oliveira gesê.

Prof. Kanshu Rajaratnam, direkteur van die US se skool vir datawetenskap en rekenaardenke, sê die US het doelbewus begin om multidissiplinêre oplossings vir groot probleme te verskaf.

“Hierdie eer is ’n wonderlike voorbeeld van uitkomste danksy die multidissiplinêre omgewing waarin prof. De Oliveira werksaam is. Die Sentrum vir Epidemie-reaksie en -innovasie gaan in ’n multidissiplinêre ruimte werk om Afrika met sy toekomstige reaksie op epidemies by te staan.”

As deel van sy ondersteuningsprogram aan die Afrika-sentrums vir Siektebeheer en Voorkoming (Africa CDC) en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), verleen die sentrum ook hulp aan ander Afrikalande om hul kapasiteit te vergroot.

“Daar word in die vooruitsig gestel dat die sentrum die grootste genomika-fasiliteit in Afrika sal wees en genote uit 21 Afrikalande is reeds verwelkom om in genomika, bio-informatika, groot data en die ontleding van kunsmatige intelligensie opgelei te word. Die sentrum se laaste oproep om genote het tot meer as 200 aansoeke gelei,” lui die US se verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Navorsing…. Weer hul nou nog nie dat dit ‘n mensgemaakte virus is en waar en hoe dit ontstaan het nie ? Foei tog.

Nico ·

Gaan kyk waar kom die virus vandaan, gaan maak dan julle somme. Die Internasionale Geldmagte sit agter alles net om die werêld te vernietig. Gaan lees Matt. 24, daar word al hierdie gebeure beskryf. Vraag is? waarom is daar altyd ‘n nuwe variasie, hierdie entstof is niks anders as ‘n “experimental drug” waarmee mense ryk word. Siektes kom nie van Jesus Christus af nie Hy het aan die kruis met Sy bloed storting alle siektes vernietig asook met geseling van 39 houe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.