Vaalharts-moordsaak vertraag ná verdagte eers bank besoek

Beskuldigde vier: Kgomotso Mpulwana (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die hofverrigtinge in die moordsaak van die Brand-gesin van Vaalharts in die Noord-Kaap is Maandag vertraag omdat een van die verdagtes eers ʼn bank wou besoek om geld te trek.

Die verhoor van Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepaone Melato (20) het verlede week in die hooggeregshof in Kimberley hervat.

Hulle staan tereg op aanklag van moord op Breggie Brand (73), haar man, Dan (83), en hul dogter Elzabie (54).

Elzabie, Breggie en Dan Brand (Foto: Verskaf)

Die Brand-gesin is op 26 Julie 2020 op hul kleinhoewe in Magogong, naby Hartswater, ontvoer en vermoor. Hul liggame is twee dae later op verskillende plekke in die Taung-omgewing gevind.

Reinette Liebenberg, DA-woordvoerder oor landbou in die Noord-Kaap wat ook die moordsaak dophou, het haar misnoeë te kenne gegee oor Mpulwana wat die hof laat wag het omdat sy eers banksake wou doen.

Die skuld vir hierdie vertraging lê volgens Liebenberg by beamptes van die departement van korrektiewe dienste (DKD), wat die beskuldigde bank toe geneem het wel wetende dat sy in die hof moet wees.

“Die saak is reeds vertraag omdat daar vir die DNS-uitslae gewag is. Ons kan nie verdere vertragings in die regstelsel duld nie. Die stelsel is reeds onder druk en daar is ʼn groot agterstand in sake,” sê Liebenberg.

Die vier beskuldigdes in die hof (Foto: Verskaf)

Die DA sal die saak na die nasionale kommissaris van DKD vir verdere ondersoek verwys.

“Met die korrektiewedienstestelsel reeds onder die soeklig ná die Thabo Bester-sage, kan ons nie so ʼn miskenning van die regsproses ongesiens laat verbygaan nie.”

Die beskuldigdes staan tereg op drie aanklagte van moord, een aanklag van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van ontvoering en drie aanklagte van dwarsboming van die gereg.

Seoleseng staan ook tereg op ʼn aanklag van ontsnapping uit aanhouding.

Alle aanklagte is in September verlede jaar teen ’n vyfde verdagte, Realeboga Manyedi (20), laat vaar. Hy is nou ʼn staatsgetuie.

Kapt. Hanlie Conradie, ’n selfoonanalis by die polisie, het Vrydag en Maandag getuig dat twee foto’s van Mpulwana op Elzabie se selfoon gevind is. Die foto’s is volgens haar getuienis die dag ná die Brand-gesin se verdwyning geneem.

Elzabie se selfoon is glo ook die middag van die gesin se verdwyning deur die beskuldigdes gebruik om oproepe te maak. Manyedi het daardie selfde middag ook ’n oproep van Elzabie se foon ontvang, het Conradie getuig.

’n Ontleding van die selfoonseine het die beskuldigdes ook naby die gesin se kleinhoewe geplaas.

Moeilike hofsaak

Johan Kloppers van AfriForum se trauma-eenheid saam met Dan en Breggie Brand se dogters, Trudie de Beer, Heidie Taljaard en haar man, Wikus (Foto: Verskaf)

Dan en Elzabie se ander dogters, Trudie de Beer (53) en Heidie Taljaard (48), woon sedert die aanvang van die verhoor die verrigtinge by.

Johan Kloppers, ʼn berader by AfriForum se traumaeenheid, ondersteun hulle tydens die saak en sê hulle “trek maar swaar”.

“Elke nuwe bewys ruk weer die seer oop,” sê hy.

“Ons is saam hoopvol vir geregtigheid en ek stap die pad saam met hulle.”

  • Lees die vorige berig oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Goldy ·

Regsisteem het mal geword en is deur kriminele gekaap. Howe raal almeer ongeloofwaardig.

JvR ·

Ek mag dalk verkeerd wees. Maar dalk was een van die verdagtes n werknemer? Dit sal nie die eerste keer wees. Ek het familielede verloor in 1994 toe hul twee werkers hul vermoor het. Warkers wat hul op die hande gedra het. Selfs gehep het met skool opleiding vir hul kinders.

Althes ·

Skokkend dat ñ gevangene die reg het om geld te onttrek by die bank. Ek stem die DKD maak hul rug oop vir ontsnappings.

Carl ·

Die feit dat ‘n beampte van die DKD dit toegelaat het, beteken net een ding – daai geld het nie na die beskuldigde gegaan nie.

Di ·

Kyk ek het nou al alles gehoor maar DIE EEN vat die koek! Wat op dees aarde gaan aan met “sekeres” in die land??? ABSURD

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.