Vakansieoord ontruim oor brandgevaar

Brande by die Mabalingwe-natuurreservaat woed sedert Saterdagmiddag. (Foto: Facebook/ Heibrie Wolmarans.)

ʼn Veldbrand wat skynbaar buite beheer geraak het, dreig om die Mabalingwe-wildreservaat buite Warmbad in Limpopo te verswelg en vakansiegangers moes Sondagoggend inderhaas die gebied verlaat.

Die brand het Saterdagmiddag op die berg naby die reservaat ontstaan en teen Sondagoggend tot naby aan die oord se vakansie-eenhede beweeg. Alle brandbestrydingseenhede in die gebied het teen Sondagoggend saamgespan om die brand onder beheer te probeer bring.

Marco Brits, wat vir die langnaweek saam met sy vriendin by Mabalingwe gaan vakansie hou het, sê hulle het omstreeks 10:30 gesien hoe ʼn klomp motors met die heuwel af vanaf ontvangs aangery kom.

Die oord is teen ʼn berg gebou en baie van die wooneenhede is bo-op die berg geleë. “Ons het in die kar geklim en na ontvangs gery, maar op pad soontoe het van die motoriste gesê daar is ʼn brand en ons moet liewer wegbly van die vlamme af.

“Ons is terug na die eenheid en het begin pak. ʼn Paar minute later het ons ʼn SMS van die oord gekry wat gevra het ons moet die plek ontruim.”

Hy sê die ontruiming het rustig verloop. Hy het kort daarna vanaf die reservaat se hoofingang met Maroela Media gesels en sê dit lyk of die rook nader aan die oord beweeg. “Ek dink van die huise is beslis in gevaar om aan die brand te slaan. Alles is nog grasdak ook, so dit sal baie maklik brand.”

Posted by Lindy Van Greunen on Sunday, September 24, 2023

Die Zebula-gholflandgoed langs Mabalingwe het Sondag in ʼn plasing op hul Facebook-blad gevra dat besoekers nie dié naweek enige oop vure maak nie. “Die huidige winderige en ongelooflik droë toestande skep ʼn hoë risiko vir die ontstaan van gevaarlike veldbrande.”

Die aangrensende Mabalingwe-wildreservaat bestry tans ʼn reuseveldbrand en alle beskikbare brandbestrydingspanne is reeds gemobiliseer om die brand onder beheer te help bring.

Mabalingwe self kon nog nie in die hande gekry word nie. Maroela Media sal meer inligting plaas sodra dit beskikbaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.