Vakbonde aanvaar afleggingsvoorwaardes by SAL

(Argieffoto)

Meeste vakbonde by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het ingestem tot afleggings waar ongeveer 2 700 personeellede afgelê sal word terwyl die departement van openbare ondernemings poog om ʼn sakereddingsplan aanvaar te kry vir die lugdiens.

Die departement het gesê die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse kajuitbemanningsvereniging (Sacca) het uiteindelik ingestem tot ʼn skeidingspakket, alhoewel die Vlieëniersvereniging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (Saapa) hom nog verset.

“Die partye het ingestem dat ‘hulle geen beswaar het teen die aanbod van ʼn vrywillige skeidingspakket aan individuele werknemers soos voorgestel deur die departement van openbare ondernemings nie’,” het die departement gesê en bygevoeg die ooreenkoms gee momentum aan die aanvaarding van ʼn sakereddingsplan deur die krediteure.

Die ooreenkoms van die twee sleutelvakbonde volg ná die sakereddingspan ʼn skedule van wysigings aan die reddingsplan vir die lugdiens gepubliseer het. Dit bevestig dat die koste van afleggings en voordele nie meer as R2,2 miljard sal wees nie.

Die posisie van die vlieëniersvereniging is egter steeds onduidelik. Die vakbond is van voornemens om direk met die sakereddingspraktisyns te konsulteer.

Die vakbonde was instrumenteel om ʼn geskeduleerde stemmery oor die plan, wat deur die sakereddingspraktisyns Les Matuson en Siviwe Dongwana voorgelê is, na 14 Julie uit te stel.

Die departement het gesê personeel, wat vrywillige skeidingspakkette aanvaar het, sal die uitbetalings ontvang sodra die krediteure die plan goedkeur. Minstens 75% van krediteure moet ten gunste van die plan stem voor die aanvaar sal word.

Wat betref die sakereddingsvoorstel sal 1 000 van die lugdiens se personeel behoue bly en 1 000 personeellede sal vir ʼn jaar lank op ʼn aflegging-opleidingskema geplaas word. As hulle ná die einde van die periode nie ʼn pos aangebied word nie, sal hulle ʼn skeidingspakket aangebied word.

Wat betref die wysigings sal alle bestaande kontrakte vir SAL-personeel tot ʼn einde kom, insluitend kollektiewe ooreenkomste en nuwe bepalings en voorwaardes sal onderhandel word, in lyn met huidige marktoestande.

Die wysigings verbind SAL om enige “meer billike en uitvoerbare herstruktureringsplan” te ondersteun, wat die leierskap-kompakforum mag voorstel, op voorwaarde dat dit nie ʼn groter finansiële las op die lugdiens plaas nie.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het openlik die plan ondersteun om die SAL om te keer ná verliese van miljarde rand die afgelope twee dekades, eerder as om dit te likwideer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adam ·

Min Gordhan sal moet leer dat die “comeback” wat Lazarus gemaak het, nie vir die SAL beskore is nie. Likwidasie is was en sal altyd die enigste sinvolle oplossing gebied het.

Jerry ·

As of die vakbonde n keuse gehad het, hoe gee jy iets van niks!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.