Valke gaan moord op Kaapse landdros ondersoek

Bheki Cele praat met Van Rooyen se broer en pa (Foto: SAPD)

Die Valke gaan die moord op Romay van Rooyen, ʼn Kaapse landdros, ondersoek.

Bheki Cele, minister van polisie, het dit Woensdag bekend gemaak toe hy Van Rooyen se broer en pa besoek het.

Hy het gesê ʼn aanval op enige lid van die regbank is ʼn direkte aanval op die staat.

ʼn Familielid het Saterdag omstreeks 16:15 op die 50-jarige Van Rooyen se liggaam in haar huis in Marina da Gama afgekom.

Tasswell van Rooyen, Romay se broer, het tydens Cele se besoek aan die media gesê dat sy suster haar lewe aan die staatsdiens gewy het.

Tasswell van Rooyen (Foto: SAPD)

Van Rooyen het haar loopbaan in 1997 as ʼn aanklaer begin en het in die distrik- en streekhof gewerk voor sy as staatsadvokaat in die Wes-Kaapse landdroshof begin het.

Sy het in 2016 ʼn waarnemende landdros geword en by verskeie howe in die provinsie gewerk, voor sy in Oktober verlede jaar permanent as landdros in die Vredenburg-landdroshof aangestel is.

Volgens Tasswell glo die familie nie dat roof die motief vir Romay se dood is nie aangesien alles steeds op hul plek was in die huis nadat haar liggaam gevind is.

Landdros Romay van Rooyen (50) is die naweek in haar huis in Kaapstad vermoor. (Foto: Facebook)

Romay se liggaam is in die gang naby haar slaapkamer gevind. Haar selfoon is in die huis gevind en dit was net haar motor wat weg was.

Tasswell vermoed die moordenaar (of moordenaars) het net ʼn wegkommotor nodig gehad. Die motor is sedertdien in Mitchells Plain opgespoor. Daar is volgens Tasswell ook niks uit sy suster se motor gesteel nie.

Die polisie het nie gereageer op ʼn navraag oor die kwessie of die motief vir die aanval moontlik met Van Rooyen se werk as landdros verband hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Daar is ongelukkig GEEN wet en order meer in die land nie. Onskuldige mense sterf daagliks vir goed soos selfone en ‘n paar rand. Families se lewens word uitmekaar geruk met al hierdie moorde en die korrupte regering sit net agteroor. Innige meegevoel aan har familie en vriende. Kan myself net indink hoe moeilik dit sal wees vir my om te verwerk as dit my familie was. Hoop van harte die skuim word gevang

SjN ·

Hoedeman hap na wind, hy moet die pak vat, een moord is een te veel, sterkte aan die naasbestaandes.

Althes ·

Roof is maar net ñ rookskerm in baie moorde.
Die geveg teen geweldsmisdaad sal suksesvol wees indien ons nie met ‘recycled ministers’ sit wat sleg presteer keer op keer nie .

domheks ·

ou cele rits die land vol – maar geen verbetering in moorde nie.

Scholtz ·

Aangesien sy geen beserings van enige aard gehad het nie, moet hulle eerder wag vir die staatspatoloog se bevinding van oorsaak van dood. Tien teen een is sy aan natuurlike oorsake dood of ‘n oordosis dwelms. Die voertuig se verwydering was moontlik maar ‘n daad van opportunisme deur iemand wat haar eerste dood aangetref het.

Marcello ·

Wow!!! Dit is vir my skrikwekkend, want my kind is ook in die Regsberoep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.