Valke moet sê oor Mbalula-gesinsvakansie

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: GCIS)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid gee die Valke tot 30 Mei om sinvolle terugvoer te gee oor ʼn korrupsie-ondersoek na Fikile Mbalula, die ANC-sekretaris-generaal en voormalige minister van vervoer, wat al sedert 2019 in die lug hang.

Indien lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, nie teen die spertyd reageer nie, sê die burgerregte-organisasie dat hy geen ander keuse sal hê nie as om die hooggeregshof in Pretoria te nader.

Die ondersoek hou verband met ʼn gesinsvakansie wat Mbalula in 2018 na Dubai onderneem het. Hy was in daardie stadium die minister van sport.

Die privaatvervolgingseenheid probeer sedert 2019, toe die saak deur Monique Taute, hoof van veldtogte by AfriForum, aanhangig gemaak is, om antwoorde van die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te kry.

“In plaas daarvan word die saak heen en weer tussen die polisie en die NVG gegooi,” het Barry Bateman, kommunikasiebestuurder van die eenheid, gesê.

“Die strafregtelike klag teen Mbalula spruit uit ʼn verslag van die openbare beskermer in 2018 oor die destydse minister van sport se gesinsvakansie na Dubai, wat die saak na die NVG verwys het “om te ondersoek of die fondse wat gebruik is om vir die reis te betaal nie die opbrengs van geldwassery was nie”.

“Alles dui daarop dat die NVG hierdie opdrag eenvoudig geïgnoreer het.”

Bateman sê die bewerings teen Mbalula is eenvoudig.

“Dit behels dat die Dockrat-familie, deur middel van gekoppelde maatskappye, na bewering vir die politikus se vakansie betaal het – in ʼn enkele transaksie met ʼn reisagent sonder enige ingewikkelde forensiese ontleding van finansiële rekords en bankstate wat vereis word.”

In ʼn brief wat adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, op 4 Mei aan Lebeya gestuur het, het Nel sy kommer oor die hantering van die saak benadruk.

“Op grond van ons ervaring in hierdie en ander sake voer ons met respek aan dat die land se ellende met die bekamping van korrupsie ʼn droom vir die Valke sal bly. Die rampspoedige ondersoek en vervolging van die Nulane Investment-aangeleentheid is ʼn treffende voorbeeld van die voortgesette onbekwaamheid van die Valke,” lui die brief.

Nel skryf voorts dat óf die onbekwaamheid van die Valke, óf die beskerming van sekere individue oënskynlik voortduur.

Hy haal daarop ook ʼn sin uit die skrywer George Orwell se boek Animal Farm aan: “All animals are equal, but some animals are more equal than others.”

“Namens die klaer herhaal ons ons ontevredenheid met die gebrek aan vordering en versuim om betekenisvolle terugvoer te verskaf. Nog belangriker, ons voer aan dat u versuim om ʼn voltooide saakdossier aan die Nasionale Vervolgingsgesag voor te lê sodat hulle oor ʼn vervolging kan besluit, en geloofwaardigheid verleen aan ons kliënt se bekommernisse oor vooroordeel,” het Nel verder in die brief gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Marius ·

Ek gaan ook op n gesinsvakansie , enige iemand wat n bydrae wil maak?
Miskien Mr. Fikile iets doen?

SjN ·

Laar Frikkie en Danny sommer ook se van die R10 milj omkoopgeld tov die wereld sokker aanbod!

JohanR ·

Een wil sommer hard uitbars van die lag want ons weet almal niks sal hier gebeur. Die Hawks is nie Skerpione nie!

Niklaas ·

Die agbare Min Mbulula is gewis nie die enigste in ons parlement met Dubai as vakansiebestemming nie. Vele meer van sy kollegas gaan gereeld soontoe glo ek , en dan koop hul sekerlik eenhede op daai Palm of World eiland

skurweberg ·

As die “kingpin” van jou fiets geslyt is kan jy nie trap nie. O wee!

Di ·

Daar is BAIE soos hy wat in die parlement sit. Nie een van hulle sal OOIT skuldig bevind nie, punt! Die NVG is ook onbevoegde ANC KADERS, daarom “ignoreer” hulle seker sake en met ander sake word hulle GEDWING om aksie te neem weens druk van Afriforum en Solidariteit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.