Valke-speurder, privaat ondersoeker verdink van bedrog van R4 miljoen

Slang Maangwale, ondersoeker vir die privaatvervolgingseenheid; Juandre du Toit, Samac se finansiële en verkrygingsbeampte; Jurita van Zyl, Samac se administrasie en operasionele bestuurder; en Andrew Leask, hoofondersoeker vir die privaatvervolgingseenheid.

’n Valke-speurder en ’n privaat ondersoeker is die verdagtes in ’n beweerde onwettige en bedrieglike geheime operasie wat Macadamia Suid-Afrika (Samac) minstens R4 miljoen gekos het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Samac-verteenwoordigers vandag na die Nelspruit-polisiestasie vergesel waar korrupsie-, bedrog- en diefstalsake teen die twee verdagtes geopen is. Die strafregtelike klagtes identifiseer ook twee senior offisiere in die Valke as moontlike verdagtes vir hul beweerde versuim om op te tree toe hulle bewus gemaak is van die beweerde onwettige aktiwiteit. Die beweerde misdrywe strek so ver terug as 2016.

Samac beweer dat die privaat ondersoeker in samewerking met die Valke-speurder tussen 2016 en 2020 die indruk geskep het dat hulle wettiglik ’n geheime operasie van die Valke uitvoer om lede van ’n sindikaat wat in gesteelde makadamias handel dryf te identifiseer, in hegtenis te neem en te vervolg.

Samac het die koste van hierdie operasie deur die private ondersoeker gedra – daar is vir hulle gesê dat hierdie befondsing die wettige, geheime operasie sal bevorder. Verder word beweer dat die private ondersoeker en die Valke-speurder die organisasie gefaktureer het vir reiskoste en selfs vir vergaderings wat bygewoon is. Samac beweer dat hulle ook toerusting moes aankoop wat nou spoorloos verdwyn het.

Ná herhaalde leë beloftes van inhegtenisnemings het Samac die privaatvervolgingseenheid om hulp genader. Geen bewyse kon gelewer word van die “wettige geheime operasie” wat na bewering deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gemagtig is soos deur die wet vereis nie.

Die privaatvervolgingseenheid het in Oktober 2021 met die Valke, die speurder en ’n verteenwoordiger van die NVG vergader waar al hierdie aspekte bespreek is.

Ná die vergadering het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, ’n skrywe aan die polisie gerig. Hy meld onder meer dat Samac die ekstra myl geloop het om die Valke te help in die stryd teen georganiseerde, gesindikeerde misdaad in die makadamiabedryf net om dan deur die onthullings in die vergadering teleurgestel te word.

Adv. Nel het verder versoek dat die aantygings behoorlik ondersoek moet word ten einde die skuldiges aan te spreek. “Samac is die slagoffers van ’n multimiljoenrandse wanvoorstelling van ’n fiktiewe polisieondersoek. Dit terwyl die onus op die Valke is om ernstige, kommersiële misdade soos dié te verhoed, te ondersoek en te beveg.”

Ná die vergadering het die Valke se teen-korrupsie-eenheid die privaatvervolgingseenheid genader vir ’n beëdigde verklaring, maar doelbewus en aanhoudend inligting weerhou wat Samac sou bemagtig om hul strafregtelike klagte behoorlik te formuleer.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê daar is genoeg bewyse om die saak teen die Valke-speurder en die privaat ondersoeker te staaf.

“Ons het ’n sterk vermoede dat die verdagtes Samac bedrieg het deur valse eise vir terugbetaling van ondersoekdienste in te dien terwyl hulle goed weet dat die speurder ’n dienende polisieman was. Hy was nie geregtig op betaling van die private sektor vir die uitvoering van polisiëringspligte nie. Ons vermoed verder dat die verhouding tussen die privaat ondersoeker en die SAPD in hierdie ondersoeke ’n sterk vermoede van korrupte aktiwiteite vestig, en dat die private ondersoeker na bewering Samac bedrieg het om die verhouding te finansier,” voeg Bateman by.

“Die optrede van die senior beamptes het ernstige vrae oor die Valke-bestuur laat ontstaan. Hulle het hulle moontlik skuldig gemaak aan regsverydeling en mag moontlik as medepligtiges aan die beweerde misdrywe beskou word. Ons wil hê die polisie moet hierdie aspek ondersoek. Die stelsel het werklik gefaal toe die mense wat getaak is om ernstige en georganiseerde misdaad te ondersoek moontlik self betrokke raak by sulke aktiwiteite, skynbaar met die medewete van hul bevelvoerders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

melaney ·

Baie teleurstellend dat ons selfs nie lede van die Valke kan vertrou nie. Wat het van hierdie land geword?

Di ·

Dis skokkend dat korrupsie so diep gewortel is in elke denkbare organisasie in ons land! Lyk my baie van die mense se mindset het verander na “If you can’t beat them, join them” Die SA regering wat ‘n voorbeeld moet stel, setel die meeste korrupte skelms.

Casper ·

Ja dit is nogal tragies as ons nie eers sommige lede van die valke kan vertrou nie en nog erger die feit dat senior lede bewus was daarvan en niks gedoen het nie.

Christine ·

Korrupsie is nou oral te bespeur. Teleurgesteld in ons land se mense wat hul morele kode en etiese waardes heeltemal oorboord gooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.