Van laslappies tot trourokke, Moses doen dit stik-stik

Moses Makhondwane (Foto: Verskaf)

Met net sy kleresak en Empisal‑naaldwerkmasjien het Moses Makhondwane en die gewilde skrywer Dana Snyman se paaie vir die eerste keer in 2009 in Kaapstad gekruis.

Sedertdien het die lewe se kronkelloop telkens vir Dana en Moses uitmekaar gedwing, net om later weer deur omstandighede saamgegooi te word. Byna soos ʼn lappieskombers. Dit is juis Moses se handgemaakte lappieskomberse wat hom so gereeld op Dana se Faceboekblad laat verskyn.

Moses (34) is ʼn kleremaker van Tsetse in Mahikeng, in die Ngaka Modiri Molema‑distrik in Noordwes. Hy woon tans by Dana in Kaapsehoop, op die platorand in Mpumalanga.

Moses was 11 toe hy skoene begin regmaak het. Die Tsetse-gemeenskap het toe al gesukkel. Hy het gou besef dat die werk hard op sy hande is en het begin om naaldwerk te doen. Hy het homself geleer. Vandag ontwerp hy selfs trourokke en is in Tsetse as die plaaslike kleremaker bekend.

“Wanneer jy van iets hou, groei dit daagliks op jou. Jy kan nie eers slaap nie,” verduidelik Moses sy passie vir naaldwerk.

“Hy is bloot ʼn natural,” sê Dana, met ʼn swaar Afrikaanse aksent.

Tussen Moses se lappieskombersbestellings wat voor Kersfees moet klaar en Dana wat gereeld landswyd reis, is dit nogal ʼn missie om gelyktydig met die twee te gesels. Ons kry dit wel reg en hulle gesels met Maroela Media via ʼn video-oproep uit Kaapsehoop.  Moses glimlag vol en blymoedig.

Baie ken Moses van Dana se Facebookblad af, veral vir sy meesterlike handewerk tydens die Swarthond-projek. Die projek, wat sowat vyf jaar gelede in die kusdorpie Yzerfontein gebore is, kweek bewusmaking oor depressie. Moses se taak was om laphonde te maak. Die laphonde verwys na die simboliese swart hond wat depressie voorstel. Hy het ook materiaalsakke en sonhoede ontwerp.

Meer onlangs, ken ons vir Moses en die Singer.

In Julie het Dana ʼn nederige versoek op sy Faceboekblad gerig: Moses benodig ʼn naaldwerkmasjien. Die reaksie was oorweldigend. Dit was nie lank nie of Moses was op pad na Dana in Kaapsehoop met ʼn Singer as metgesel.

Moses (Foto: Verskaf)

Reeds voor die ontstaan van die Swarthond-projek, was Moses deel van Dana se stories. Maroela Media wou weet wie Moses is en hoe hy en Dana se paaie gekruis het.

“Dit is ʼn lang storie,” sê Moses. En Dana voeg by: “Dit is eintlik ʼn lang, laaaang storie.”

Die storie

Moses en Dana het in 2009 aan die Weskus ontmoet.

Dana het in Jacobsbaai saam met Johannes en Lettie Bogosi gewoon. Johannes het lank by Dana se pa op Ventersdorp gewoon. Nadat sy pa oorlede is, het Dana vir Johannes en sy vrou, Lettie, na sy huis in Jacobsbaai gebring.

“Hulle is soos familie,” beskryf Dana die verhouding.

“Nou, Lettie het vir my pa ʼn lappieskombers gemaak,” vertel Dana. Toe Lettie op Jacobsbaai geen werk gehad het nie, het hulle besluit dat sy komberse gaan maak. Dana adverteer en nie lank nie, toe trek die bestellingslys naby aan 300 komberse. Lettie het die naaldwerk met haar hande gedoen en gou besef sy gaan nie die komberse alleen kan maak nie.

Lettie vertel vir Dana van haar broer in Tsetse wat kan klere maak. Hy kan kom help.

Dana was skepties: ʼn 20-jarige man uit Mahikeng wat naaldwerk kan doen? Nietemin, daar is ʼn buskaartjie gekoop en Moses was op pad met sy kleresak en Empisal-naaldwerkmasjien.

Hulle stik en las om voor te bly met die lappieskomberse.  Met die opbrengs kon Lettie vir haar en Johannes ʼn huis in Ventersdorp bou.

Moses se naaldwerktalent het hom al telkemale uit netelige situasies gehelp. Wanneer die lewe se seer, armoede en gesukkel vir Moses plattrek, is dit naaldwerk wat hom optel.

 

Die afgelope twee jaar was só ʼn plattrek‑seisoen: Sy vriend het selfdood gepleeg, sy ma is oorlede en geldgewys het dit swaar gegaan. Moses het antwoorde in die bottel probeer vind.

Toe sê Dana vir Moses dat hy na hom toe moet kom in Kaapsehoop. Hulle sal iets uitwerk.

Skaars vyf maande later en hulle kan nie voorbly met bestellings nie. Moses se lappieskomberse word al internasionaal verkoop.

Hy stuur geld aan sy familie in Mahikeng. Polelo Kgosithebe is sy vriendin. Hy het ook twee seuns, wat onderskeidelik twaalf en agt jaar oud is en ʼn dogter van 15 maande.

“Ons kan enige iets bereik, rêrig,” sê Dana, in reaksie oor wat die land kan bereik wanneer ons kies om na mekaar uit te reik.

“Dit is nie net romantiese praatjies nie,” verduidelik Dana, wat sonder om twee keer te dink altyd sy huis, beursie en hart vir Johannes, Lettie en Moses – of enige iemand – oopmaak.

Maar die “Afrikaner se verkramptheid” laat hom nie altyd toe om grense oor te steek nie, meen Dana.

“Ek leer so baie by Moses. Nie net van sy kultuur nie, maar ook musiek. Dit is goed om uit jou gemaksone te leef.”

Dana en Moses lag wanneer hulle dink aan die musiek waarna hulle saam luister. Dit wissel van Frederick Gwala, Bruce Springsteen tot Rebecca Malope, Suid-Afrika se Queen of Gospel. En Moses maak ook graag kos. “Hy maak die beste hoenderlewertjies in die land,” getuig Dana.

Dit is egter met skeppende kunste waar hulle mekaar “vind”. Moses sê naaldwerk maak hom gelukkig. Dit help hom om in homself te glo, probeer hy verduidelik.

“Moses is ʼn baie sensitiewe persoon,” help Dana in Engels. “Hy is ʼn bietjie soos ek, jy weet. Ons is geneig om depressief en melankolies te wees. Wanneer jy iets kreatief skep, maak dit jou beter voel”.

“Ja, jy raak weer gelukkig,” stem Moses saam. En daar is baie wat Moses nog wíl skep.

Hy wil sy huidige handgemaakte reeks sakke en lappieskomberse uitbrei en hard werk om ander mense te kan ondersteun. Verder wil Moses sy familie in ʼn veilige omgewing laat woon. Hy droom ook van ʼn klerefabriek waar hy werksgeleenthede kan skep.

ʼn Nuwe jaar bring nuwe geleenthede en Dana is vasbeslote dat Moses iewers ʼn internskap in ontwerp sal voltooi. Dit is sy Nuwejaarswens.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.