Veekoper kry nie borgtog ná moord op jong Vrystaatse boer

Jaco Botha (Foto: Facebook)

Jaco Botha (42) is in die Vanderbijlpark-landdroshof borgtog geweier in verband met die moord op Christian van Tonder (29).

Botha word aangekla van moord met voorbedagte rade en veediefstal. Hy is op 29 Augustus, byna twee jaar ná die moord op Van Tonder, in hegtenis geneem.

Die staat het Botha se borgtogaansoek teengestaan en getuienis van die ondersoekbeampte gelei dat daar ʼn waarskynlikheid is dat Botha met staatsgetuies kan inmeng. Die staat het verder aangevoer dat Botha ʼn ernstige oortreding begaan het wat die gemeenskap geskok het aangesien die oorledene en die beskuldigde albei in hul gemeenskap bekend is. Landdros Mila Kgobane het saamgestem dat die staat ʼn prima facie-saak teen die beskuldigde het.

Verder het Botha nie daarin geslaag om aan die hof te bewys dat daar buitengewone omstandighede was wat sy vrylating op borgtog regverdig nie. In sy beëdigde verklaring het hy aangevoer die staat se saak is swak, maar geen verdere bewyse verskaf nie. Die saak is tot 30 Oktober uitgestel.

Christian van Tonder (Foto: Facebook)

Van Tonder, ʼn jong boer van Lindley in die Vrystaat, se liggaam is op 29 November in die Barrage-omgewing in Gauteng gevind.

Van Tonder het glo 31 beeste aan Botha verkoop. Nadat die beeste oorhandig is, het Botha glo aan Van Tonder gesê hulle moet in laasgenoemde se bakkie na ʼn afgeleë plek naby die Theoville-kleinhoewes ry om die betaling te finaliseer.

Botha het Van Tonder toe glo in sy bakkie doodgeskiet. Daar is later dieselfde dag op die jong boer se liggaam afgekom en die polisie is ontbied. Van Tonder was nog in sy bakkie en sy selfoon is op die toneel gevind.

Die polisie het destyds ná die moord gesê Van Tonder het Botha vir ʼn sakevergadering in die omgewing ontmoet. Botha het aangevoer hy het Van Tonder ná 17:00 die laaste keer lewend gesien.

Van Tonder, ʼn derdegeslagboer, het in die Oos-Vrystaat met Drakensberger-beeste geboer en het die boerdery ná sy pa, Colyn, se dood oorgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Harley Davidson ·

Ons voed ons kinders op om God te dien en sy gebooie te eerbiedig, ek wonder wat het verkeerd gegaan in sy lewe?

Regine Martha Marie ·

‘n Skreiende skande, dat ons eie mense so laag daal! So blatant en berekend!

Niklaas ·

Die moord was deeglik beplan deur die Jaco – vent. Mag geregtigheidseëvier .

Thelsa ·

Die sussie Tarien dien tans tronkstaf uit weens die ontvoering van ‘n kleuter by ‘n skool in Vanderbijlpark. Hoeveel ellende nog in een gesin??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.