Veel meer nodig om SA se oseane te beskerm

Kampsbaai. (Foto: Sebastian Canaves/Unsplash)

Die kollig is vandeesweek opnuut op die gesondheid van die wêreld, en Suid-Afrika, se oseane geplaas met die aanvang van die Verenigde Nasies se Biodiversiteitskonferensie, oftewel COP15.

Kenners meen hoewel daar stappe gedoen word om die land se oseane te beskerm teen skadelike industriële aktiwiteite, habitatvernietiging, klimaatsverandering en besoedeling is dit duidelik dat nog meer gedoen moet word om beskerming aan die kwesbare seelewe te bied.

Natuurbewaarders meen indien beskermde gebiede nie vergroot word nie, waag ons ʼn groot biodiversiteitskrisis wat tot die ineenstorting van oseane kan lei, wat later ʼn ekonomiese katastrofe tot gevolg sal hê.

Lauren van Nijkerk, veldtogleier van die Wildtrust, ʼn niewinsgewende organisasie wat gefokus is op die bewaring van die natuurlike wêreld, sê ons onderskat net hoeveel ons staatmaak op ʼn skoon, florerende oseaan.

“Elke tweede asemteug is van die see afkomstig. Dit bied ons voedselsekerheid, ʼn florerende toerismebedryf, werksgeleenthede en dit reguleer ons weer. Ons kan nie bekostig om dit nie met net soveel ywer te beskerm soos wat ons daarvan afhanklik is nie.”

Vanjaar se COP15-konferensie het Woensdag in Montreal, Kanada, afgeskop, waar altesaam 196 lande, waaronder Suid-Afrika, na verwagting die globale biodiversiteitsraamwerk se teiken sal aanneem. Dit sal behels om 30% van die wêreld se oseane teen 2030 te beskerm.

Volgens Van Nijkerk kan Suid-Afrika help om dié teiken te bereik deur sy huidige beskermingspersentasie van 5,4% te verdubbel.

“Om 10%, of selfs meer, van ons oseane se habitatte en spesies te beskerm, sal nie net die land se oseane help nie, maar ook sy mense,” sê sy.

In Suid-Afrika is daar tans 42 beskermde mariene gebiede wat in ons eksklusiewe ekonomiese sones (EES) beskerm word. ʼn Mariene beskermde gebied (MBG) is ʼn geografies gedefinieerde gebied wat erken, aangewys en beheer word deur wetgewing of ander doeltreffende maatreëls om die langtermynbewaring van die natuur en sy verwante ekosisteemdienste te beskerm.

“ʼn MBG is ʼn beskermde streek waar seelewe in minder stresvolle toestande kan floreer in vergelyking met onbeskermde gebiede,” verduidelik Nico Booyens, mariene bioloog en hoofnavorser by die haainavorsingseenheid in Mosselbaai.

Op die hoogste vlak hou die departement van omgewingsake, bosbou en visserye toesig oor MBG’s. Die meeste MBG’s word by reeds bestaande natuurreservate ingesluit, en die beherende gesag van sulke reservate bestuur dan ook daardie MBG. Die Stad Kaapstad, CapeNature, SANParke en Ezemvelo KZN Wildlife is ʼn paar voorbeelde van sulke organisasies.

“Suid-Afrika se mariene beskermde gebiede beskerm 15,5% van ons EES en 5% van ons nasionale kuslynwaters. Slegs 0,43% van ons land se kuswaters is tot 2016 beskerm,” sê hy.

“Mariene beskermde gebiede kan egter help om die veerkragtigheid en gesondheid van die oseaan te herwin, asook om die gevolge van klimaatsverandering te versag, die grootte en oorvloed van visproduksie te verhoog, werk te skep en toerisme te ondersteun.”

Booyens is tog bekommerd oor die toestand van Suid-Afrika se oseane, veral wanneer daar gereelde instorting van skadelike stowwe in die see is.

“Ek dink net aan die toestande van strande in Durban. Die voortslepende hoë vlakke van die bakterie E. coli daar is ʼn groot bekommernis en bewys die mariene omgewing geen guns nie. Nie eens om te praat van giftige stowwe wat op ʼn gereelde grondslag via riviere in die see invloei nie.”

Korrupsie kniehalter dalk beskermingspogings

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Booyens meen ondanks die regulasies wat ingestel is om die land se natuurlike mariene hulpbronne en habitatte te bewaar, is daar steeds onvoldoende toepassing van sodanige regulasies wat aktiewe beskerming behels.

Dit kan moontlik te wyte wees aan korrupte bedrywighede wat pogings om die mariene lewe te bewaar en volhoubaar te benut, kniehalter.

“Voldoende veiligheidsmaatreëls is ʼn broodnodige element om mariene lewe te bewaar, maar so ook sal die instelling daarvan help om die land se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte te bereik,” sê hy.

“Sou die instelling in plek wees, sal die oseane- en mariene hulpbronne op ʼn volhoubare wyse gebruik kan word, terwyl genoegsame besoedelingvoorkoming gedoen en oorbevissing en ongereguleerde visvang bekamp kan word. Terselfdertyd sal ekonomiese voordele voortspruit uit die volhoubare gebruik van mariene hulpbronne.”

Booyens meen dat korrupte bedrywighede, veral deur wetmakers, ʼn groot uitwerking het op die onvoldoende instelling van veiligheidsmaatreëls en dus die uitgebreide beskerming van ʼn groter persentasie van die oseane stuit.

Van Nijkerk stem saam, maar sê ondanks die uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, is daar nietemin baie bereik om beskerming aan oseane te bied.

“Suid-Afrika het ongetyfeld nog ʼn lang pad om te gaan, maar sy suksesse in sistematiese bewaringsbeplanning en die vestiging van ʼn doeltreffende MPA-netwerk onder baie moeilike omstandighede, wys net die moontlikhede vir uitbreiding in Suid-Afrika, asook vir ander nasies binne Afrika (en verder) om sy model te herhaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Hoe gaan julle minister Mantashe sover kry om respek vir seelewe te ontwikkel… Wat nog van Shell (met sy tragiese naam)? Buiten die morsige Turkse kragskepe is see-bodem-ontwrigtings geensins probleme vir Samson nie. En as dit nie gou genoeg alles opdons nie sal nog Koeberge uitgerol word vir vinniger aksie. SA is ‘n uitstekende voorbeeld van hoe mense alles in ‘n japtrap kan vernietig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.