Veiligheidswagte glo by hospitaal aangeval

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Veiligheidswagte wat by Middelburg se provinsiale hospitaal aan diens was, is Donderdag glo deur veiligheidswagte van ’n ander maatskappy aangeval.

Een wag is vir beserings in ʼn hospitaal behandel nadat hy deur rubberkoeëls getref is. Hy is egter kort daarna ontslaan. Nie een van die ander wagte is in die hospitaal opgeneem nie.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het die voorval glo tussen 14:00 en 15:00 plaasgevind.

Die saak is by die polisie op Middelburg aangemeld en vyf verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem. Hulle sal binnekort in die Middelburg-landdroshof verskyn. Die verdagtes is almal tussen 26 en 40 jaar oud.

Hulle word deur verskeie aanklagte in die gesig gestaar, insluitend die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die polisie ondersoek ook bewerings dat koeëls benewens rubberkoeëls tydens die voorval afgevuur is.

“Die motief vir die voorval moet nog vasgestel word,” het Mohlala Vrydag gesê.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die verdagtes se gedrag ten sterkste veroordeel aangesien veiligheidswagte die verantwoordelikheid het om die vrede te bewaar.

“Die gedrag wat by die hospitaal vertoon is, kan nooit geduld word nie – veral nie deur veiligheids- of wetstoepassingsbeamptes nie. ”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.