Veldgids sterf toe olifant hom bestorm

David Kandela (Foto: Facebook/Nyson Unruly Mawere)

David Kandela, ʼn 36-jarige veldgids van die Gondwana- private natuurreservaat naby Mosselbaai, is Sondagmiddag omstreeks 15:00 dood toe ʼn olifant hom bestorm en vertrap het.

Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, dui voorlopige ondersoeke daarop dat die oorledene probeer het om ʼn trop olifante van ʼn restaurant in die reservaat weg te keer toe hy deur een van die olifante aangeval en vertrap is. Die werker was ʼn Zimbabwiese burger.

“Die KwaNonqaba-polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek begin en die ondersoek duur voort,” sê hy.

Jeanette Botha, algemene bestuurder van die Gondwana- private natuurreservaat, sê Kandela was ʼn gerespekteerde en gewaardeerde veldgids en die reservaat is in rou gedompel oor sy ontydige dood.

“Die voorval het plaasgevind toe een van Gondwana se olifanttroppe vreedsaam deur die reservaat se Eco-kamp geloop het. Die trop, gewoonlik vriendelik van aard, was byna reeds deur die kamp toe Kambela die laaste olifant teëgekom het. Hy is toe deur hierdie olifant aangeval en doodgetrap,” vertel sy.

Kambela het glo op 8 Desember verlede jaar by Gondwana se veldgidsspan aangesluit.

David Kandela (Foto: Facebook/Nyson Unruly Mawere)

“Hy het moeiteloos by die gemeenskap ingeskakel en ʼn diep passie vir sy werk getoon.”

Sy meen daar is ʼn inherente risiko om met wilde diere te werk, “en die werklikheid van so ʼn voorval wat die verlies van ʼn kollega tot gevolg het, is baie hartseer”.

“Sy ontydige heengaan laat ʼn groot leemte binne die Gondwana-familie, aangesien hy nie net ʼn kollega was nie, maar ook ʼn bron van warmte en kundigheid onder sy vriende.

“Ons harte en gedagtes is by sy familie en vriende in hierdie uiters moeilike tyd en Gondwana onderneem om almal te ondersteun wat deur hierdie tragiese voorval geraak is,” sê Botha.

David Kandela (Foto: Facebook/Maxton Kanhema)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Olive ·

Die Olifante het binne sy reg opgetree. Diere trek altyd aan die kortste end:(

Niklaas ·

Ek het ‘n tydjie gelede gesien hoe gemaklik en vreesloos is die gidse op ons daaglikse wildbesigtigingsritte in een van die groot Kruger se reservate . Mens moet altyd weet dat wilde diere onvoorspelbaar is en moet nooit te mak met hul raak nie. Hul bly steeds wild.

Bolandse Nooi ·

Die feit dat die olifant die laaste een in die trop was, laat my wonder of dit nie ‘n jong bul was wat in “musth” was of wat dalk op die punt was om uit die trop geskop te word nie. Hulle is dan mos maar ‘n bietjie “wild en woes”. Maar – in ieder geval – dis jammer van die man se dood.

Surfer ·

Jammer om te hoor. Sulke slim diere. Seker maar n slegte bui gewees, Stormer ondersteuner. RIV David.

Karoo ·

Dis ‘n jamerte dat so’ n jong man sy lewe so moes verloor. Ek hoop nie dat hulle die die van kant gaan moeg maak nie. Dit bevraag teken ook die opleiding en bestuur van personeel. Die ondersoek sal sekerlik meer inligting oplewer. Sterkte aan die Familie en Vriende.

Fritz ·

Videos en sosiale media skep die indruk dat enige “brawe” mens ‘n olifant kan afskrik maar al wat nodig is, is dat die betrokke olifant die afgelope paar ure ‘n slegte ervaring gehad het.

piet ·

Olive – sal jy daarvan hou as ek so iets se soos wat jy se as iemand van jou familie die slagoffer was hier. Genade maar party mense het nou maar eenmaal geen empatie vir ander mense nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.