Verband tussen entstof, maandstonde laat vroue dalk huiwer

‘n Swanger vrou in Nicaragua wys haar inentingskaart. Suid-Afrika se kommissie vir geslaggelykheid waarsku dat mense se regte nie ten gunste van verpligte inenting vertrap moet word nie. (Foto: Oswaldo Rivas/AFP)

Die Kommissie vir Geslagsgelykheid waarsku werkgewers dat verpligte inentings nié die Grondwet vervang nie en dat mense ingevolge daarvan steeds die reg het om self oor voortplanting te besluit, die reg op beheer oor hul eie liggaam het en nie sonder hul ingeligte toestemming onderwerp mag word aan mediese of wetenskaplike eksperimente nie.

“Die kommissie is bekommerd dat werkers wat nie teen Covid-19 ingeënt word nie, se kontrakte deur werkgewers opgeskort kan word as daar toegelaat word dat entstofmandate voortduur sonder dat werkers se menseregte in ag geneem word,” sê Javu Baloyi, woordvoerder van die kommissie.

Die kommissie is ook bekommerd dat ingrypende stappe teen werkers gedoen kan word as hulle kies om nie nou ingeënt te word nie.

Die waarskuwing volg nadat ʼn navorsingsverslag in die Amerikaanse vaktydskrif Obstetrics & Gynecology gepubliseer is na aanleiding van navorsing oor die uitwerking van die entstof op vroue se menstruele siklus. Die navorsers het bevind vroue wat een dosis van die Covid-19-enstof tydens ʼn enkele menstruele siklus kry, se siklus is ʼn dag langer in vergelyking met vroue wat nié die koronavirusentstof kry nie.

“Die toename in die lengte van die siklus – ʼn langer tyd tussen bloeding – is nie verbind met ʼn verandering in die getal dae van menstruasie nie,” lui die navorsers se bevinding.

Die navorsers het bevind menstruele siklusse wissel gewoonlik effens van maand tot maand en die verandering wat hulle opgemerk het, val binne normale vlakke. Hulle sê egter meer navorsing is nodig om die moontlike uitwerking van die Covid-19-entstof op ander menstruele eienskappe, soos gepaardgaande simptome van byvoorbeeld pyn en ʼn verandering in bui, asook die eienskappe van bloeding, byvoorbeeld hoe swaar dit is, te bepaal.

“Dit is gerusstellend dat die navorsing slegs ʼn klein, tydelike menstruele verandering onder vroue opgemerk het,” sê dr. Diana W Bianchi, verbonde aan die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Gesondheid.

“Die bevindings skep vir die eerste keer die ruimte om vroue raad te gee oor wat om van die Covid-19-entstof te verwag, sodat hulle daarvolgens kan beplan.”

Die navorsing vorm deel van breër navorsing om die moontlike verband tussen Covid-19-entstowwe en menstruele veranderings te ondersoek en die meeste vroue wat aan die navorsing deelgeneem het, het die Pfizer- en Moderna-entstof ontvang.

Gemiddeld is die eerste entstofdosis verbind met ʼn 0,71-dag toename in die lengte van die siklus en die tweede dosis met ʼn 0,91-toename. Diegene wat oor twee menstruele siklusse ingeënt is, het ʼn toename van minder as ʼn dag in elk van die siklusse ondervind.

Daar was ook geen verandering in die getal dae wat menstruele bloeding in elk van die menstruele siklusse ondervind is nie. Die navorsers het geen beduidende verlenging in die siklus van diegene wat nie ingeënt is nie, opgemerk nie.

Die navorsers het ook bevind dat die langer siklus waarskynlik tydelik is.

Kommer oor uitwerking op vroue wat werk, studeer  

Suid-Afrika se Kommissie vir Geslagsgelykheid sê hoewel gesondheidskenners nie die bevinding as “klinies noemenswaardig” beskou nie, het vroue die reg om self oor hul liggame te besluit.

Talle sakeondernemings het reeds verpligte inenting ingestel en baie meer kan binnekort dieselfde doen.

Die land se kleinhandelsektor neem ʼn groot getal jong vroue as kassiere en skoonmakers in diens en talle van hulle is in geen posisie om met ʼn werkgewer te probeer onderhandel as hulle nie ingeënt wil word nie.

“Die handhawing van openbare gesondheid, die bereik van kudde-immuniteit en die voorkoming van Covid-19-variante is eerbare doelwitte, maar dit behoort nie bereik te word deur die basiese menseregte in die Grondwet te vertrap nie,” sê Baloyi.

“Wanneer navorsers ʼn verband tussen Covid-19-entstof en vroue se voortplantingsgesondheid vind – soos met hul maandstonde – kan talle vroue dalk ongemaklik voel om entstowwe te neem weens die langtermynuitwerking daarvan.

“Dié vroue se besluit om inenting uit te stel behoort gerespekteer te word binne die konteks van ons land se verbintenis tot menseregte.”

Die kommissie het terselfdertyd ʼn beroep op instellings van hoër onderwys gedoen om dieselfde respek aan studente en werkers wat verkies om nie ingeënt te word nie, te betoon.

Verskeie universiteite het die afgelope ruk aangekondig dat toegang tot kampusse beperk is tot diegene wat ingeënt is. Diegene wat nie ingeënt is nie, moet ʼn negatiewe Covid-19-toets kan toon.

“Weens ons land se nalatenskap van onderdrukking, ekonomiese ongelykheid en beperkte toegang tot inligting, is talle studente nie bemagtig om met groot maatskappye of instellings te onderhandel nie. Die kommissie het hom lankal reeds verbind tot die bevordering en beskerming van die seksuele en voortplantingsgesondheidsregte van meisies, vroue en mans.

“Daar moet erken word dat Covid-19 ʼn betreklik nuwe pandemie is en dat navorsers in Suid-Afrika en die res van die wêreld nog die langtermynuitwerking van die entstof moet bepaal.

“Dit is baie belangrik vir vroue wat hul menstruele gesondheid, voorbehoeding en seksuele voorplanting as deel van hul voortplantingsgesondheid moet bestuur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Swerwer ·

Belaglik. Hoeveel vroue wat reeds ingeent is, het nagevolge wanneer hul swanger geraak het. Die probleem is die voorvadergeeste wat nou weer rondloop en hul allerhande dinge wys maak.

Heinrich ·

Nee wat Swerwer, gaan soek maar na ‘VAERS’ op die internet; daar is ‘n hele databasis van reaksies veroorsaak deur die eksperimentele doepa, maar hierdie feite maak net nie deel van die naratief nie.

MakersMark ·

Waar is die databasis of word dit deur die toordokter bewaar ?

MakersMark ·

Algemene stories wat deur antivaxers in die gemeenskappe versprei word.

ENFM ·

Is dit regtig effektief om mense te etiketteer en name te noem?
Al wat jy daarmee regkry is om Suid Afrikaners te verdeel en rusie te veroorsaak tussen vriende en in families.
Intussen word alles duurder en ons betaal al hoe meer belasting, sodat die wat al hulle vertroue in ‘n inspuiting plaas, ‘n gratis inspuiting kan kry elke paar maande, wat moet voorkom dat hulle hospitaal toe gaan met griep of doodgaan van griep. Almal gaan een of ander tyd doodgaan. Jy kan steeds siek word en ander aansteek.

Trotse Boervrou ·

Maw en in soveel woorde…
Navorsing rondom dit is nog nie afgehandel nie maar werkgewers maak dit verpligtend?

MakersMark ·

Ja en hoe gouer hoe beter. Geen mediese redes om dit verder uit te stel nie. Genoeg bewyse van amper skadelose nagevolge asook hoë effektiwiteit van die 6 biljoen mense reeds ingeent.

Robert ·

Dit bly ‘n keuse en is bly dat die Komissie die reg van keuse ondersteun.

Jacob ·

Dit is nie net die vertrap van grondwetlike regte van die wat gedwing word om sogenaamde entstowwe te neem nie, maar ander wetgewing word ook totaal verontagsaam soos bv die wet op etiketering MEDICINES AND RELATED SUBSTANCES ACT, 1965 (ACT NO. 101 OF 1965), AS AMENDED

Tweedens, die goed werk nie (sien Israel en etlike ander lande) behoorlik nie, met Omicron blyk dit glad nie, en elke sogenaamde kenner wat verkondig het dat die entstowwe die pandemie sal stuit, mense beskerm sodat hulle nie die virus opdoen nie en kudde immuniteit teweeg sal bring, ens, ens, het gelieg.

Die entstowwe is so dig soos ‘n vergiettes en “boosters” doen niks om langdurige beskerming teen die virus te verskaf nie. Derdens het die EU onlangs gewaarsku dat die herhaaldelike gebruik van “boosters” die immuniteit stelsel van mense kan beskadig, moontlik selfs permanent.

Dit wil voorkom asof Omicron elk geval ‘n fase van endemies in plaas van pandemies inlei. So waarom die goed in jou laat spuit?

Amelia ·

Selfbeskikking oor jou liggaam behoort ‘n reg te wees vir beide mans en vroue. Almal het voorheen so ‘n gewag daarvan gemaak, maar nou skielik hoor jy net kriekies kriek oor die onderwerp. Ek het besluit om Dischem te boikot omdat hulle hul werknemers van die reg ontneem om vir hulself te besluit. Ek spandeer letterlik duisende rande per maand daar so dit behoort wel ‘n klein impak te maak. Vir MTN kan ek nie boikot nie want ek is nie ‘n kliënt nie.

Johnny ·

Indien die inspuiting die gemeenskap beveilig het i.p.v. net die simptome van siek mense verlig, het jy dalk ‘n punt gehad. Maar jy wil dié nie hoor of glo nie.

Di ·

So die Grondwet bepaal dat jy steeds die reg het om self oor voortplanting te besluit wat die GROOTSTE rede is dat die bevolkingsaanwas so hand uit ruk! Hulle kan maar duisende kleintjies maak waarvoor baie nie eers kan sorg nie, maar ons moet verplig word om inentings te vat wat nie eers behoorlik getoets is nie

VaalDonkie ·

Die grondwet beskerm jou reg om nie teen jou wil op ge-eksperimenteer te word nie.

ENFM ·

Dit is regtig bitter moeilik om etiese goedkeuring te kry vir navorsing op swanger vroue en kinders. Dit is waarom, meeste medikasie aandui, dat swanger vroue dit nie kan gebruik nie en medikasie tydens die eerste trimester van swangerskap afgeraai word.
Hoe kan medikasie, waarvan die langtermyngevolge nog nie bekend is nie (sien voubiljet op CDC se webblad), afgedwing word op swanger vroue?
Vroue se risiko vir hipertensie is hoër tydens swangerskap. Daar word aangedui op die voubiljet dat swanger vroue, moet registreer op https://c-viper.pregistry.com. Weet hulle dit en weet hulle dat hulle bydrae om die langtermyngevolge van die gebruik van die inspuiting te bepaal? Beskikbare data is onvoldoende om die risiko vir swanger vroue aan te dui in hierdie stadium. J&J voubiljet p25.
Volgens J&J voubiljet is 15% van TTS (in kort bloedklonte) gevalle fataal (mense wat dit gekry het is dood). Die meeste van hierdie gevalle onder vroue tussen die ouderdomme van 30-49 jaar.

ENFM ·

Wie onthou dat J&J kort nadat daar met die inentingsveldtog begin is, gestaak is?
Wie het gaan kyk waarom en wat gedoen is aan die probleem wat daarmee ondervind was?

Dit het besonder baie bloedklonte veroorsaak by vroue tussen 30-49. Die oplossing, dui dit aan op die voubiljet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.