Verdagte vas ná Bronkhorstspruit-plaasaanval

Waldi en Cynthia van Zyl (Foto: Verskaf)

ʼn Verdagte is vasgetrek in verband met die aanval op Waldi en Cynthia van Zyl op hul plaas digby Bronkhorstspruit in Gauteng.

Ses mans het die egpaar Sondag vermoedelik tussen 17:00 en 18:00 op hul plaas, Spitskop, oorval en gemartel.

Volgens konst. Munyadziwa Ramovha, woordvoerder van die Bronkhorstspruit-polisiestasie, is die verdagte in die besit van een van die Van Zyls se selfone gevind.

“Hy is nog nie deur die slagoffers geïdentifiseer nie.”

Hy sal na verwagting volgende Vrydag in die hof verskyn.

Vasti Mills, koördineerder van die Bronkhorstspruit-veiligheidinligtingsnetwerk (BVIN), is in verbinding met die Van Zyl-egpaar se familie en sê die 64-jarige Waldi is tans in ʼn stabiele toestand. Cynthia (53) is Woensdag ontslaan en vorder goed onder omstandighede.

“Ons wag nog op terugvoer van die neurochirurg [wat Waldi ondersoek het]. As hy stabiel bly, sal hy ʼn prosedure ondergaan om die beskadigde weefsel op sy arm te verwyder sowel as ʼn operasie aan die wond aan sy been.”

Waldi sal waarskynlik ook gesigrekonstruksie moet ondergaan om sy oogkasse en kakebeen te herstel.

Hy het onder meer gesig- en skedelfrakture en wonde aan sy been opgedoen en moes die aand van die aanval ʼn noodoperasie ondergaan. Cynthia het ʼn kopwond opgedoen en het kneusplekke oor haar hele lyf en snye aan haar bene.

Waldi was die aand in sy werkswinkel op die plaas besig toe hy skielik deur die ses mans oorrompel is. Ten minste een van hulle was met ʼn vuurwapen gewapen.

Hy het om hulp geroep en Cynthia het ondersoek gaan instel en op die aanvallers afgekom terwyl hulle besig was om haar man aan te rand. Sy is daarna ook aangeval.

Die egpaar is glo met houtplanke en pype geslaan. Een van Waldi se bene is glo met ʼn hoekslyper gesny en Cynthia is met ʼn skroefbek aangerand.

Die aanvallers het ʼn groot bedrag geld geëis.

Die aanvallers is met twee vuurwapens, juwele, selfone en ʼn klein bedraggie geld en ander huisware vort. Hulle het hul buit op Waldi se wit Toyota Hilux-bakkie gelaai en in die rigting van die R104 gevlug. Van daar is hulle moontlik in die rigting van Bronkhorstspruit of Witbank.

Die Van Zyls se seun het kort ná die aanval by die huis aangekom. Cynthia het intussen haarself losgewikkel en hom geroep, waarna die nooddienste en die polisie ontbied is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Persheks Adri ·

Polisie kan gerus harder werk, maar nee mense sonder maskers is belangriker! Bring net kommando terug en wees paraat ten alle tye en dra jou wapen!

Sterkte aan die oom en tannie ons bid vir julle!

Annettest ·

Gaan die ANC-regering verantwoordelik gehou word vir hierdie slagoffers se mediese kostes? Ek stel voor dat persoonlike eise deur slagoffers van plaasaanvalle teen Ramaphosa en Cele ingestel word

Pieter ·

En wie gaan betaal vir die mediese onkostes vir die Van Zyls? Indien die misdadiger seerkry betaal die belastingbetaler die mediese onkostes.

Jack ·

Ek kan nog steeds nie verstaan dat boere nie na die statistiek tov aanvalstye deur die terroriste kyk nie. Sondae is hul geliefkooste tyd vir moord pleeg. Wapens word gebuit sonder dat die slagoffers skynbaar nie weet wat die doel van die wapens is nie. Dra dit op jou en skiet as jy bedrwig word. Jou vrou is n belangrike skakel in die verdediging van jou lewe en die gesin. Die mense kom nie die pad vra nie. Hulle soek jou dood en jou goed. Word wakker en leef langer of slaap voort en betaal die prys. Jammer maar die werklikheid kan nie weggebid word nie.

Nico ·

Nou moet die twee mense wat so erg aangerand is self die mediese onkostes betaal en die verdagtes is nog op vrye voet, weereens gaan hierdie saak sloer en staats gemors word. Die twee mense wat aangerand is lê in die hospitaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.