Verhoogde aksyns druk dolk dieper in hart van wynbedryf

Foto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Die enorme verliese en skade wat wynboere tydens die grendelstaat en droogte gely het, was nie die ergste wat hulle moet trotseer nie. Die verhoging in aksynsbelasting wat deur die nasionale tesourie ingestel is, kan heelparty van hulle die finale nekslag toedien. Dit is Vinpro, ʼn organisasie wat 2 500 wynboere verteenwoordig, se reaksie op Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede gister.

Voortaan kos ʼn 750 ml bottel wyn 26c meer en ʼn 750ml bottel vonkelwyn 86c meer.

“Die werklikheid is dat dié aksynsverhogings nie noodwendig die verbruiker se sak raak nie, maar afgewentel word na wyndruifprodusente,” sê Rico Basson, Vinpro se bestuurshoof.

“Van ʼn gemiddelde bottel wyn wat teen R45 verkoop word, het die regering voor die loon-, elektrisiteit- en aksynsverhogings R10,04 uit aksynsbelasting en BTW verdien, teenoor die wyndruifprodusent wat ʼn netto boerdery-inkomste van 77c per bottel verdien het.”

Verder sê Vinpro die produksiekoste op ʼn R45 bottel wyn is R4,85 en die geld wat na die kleinhandelaar, verpakking en logistiek gaan, R29,34.

“Dit volg op die rug van ʼn 16% loon- én 15% elektrisiteitsverhoging wat op plaasvlak geabsorbeer moet word. Ons is uiters teleurgesteld dat die regering weereens nie gehoor gegee het aan die pleidooi van ons bedryf nie,” sê Basson.

“Vinpro en ander bedryfsorganisasies het in gesprekke met die tesourie oor die afgelope paar maande die benarde posisie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf benadruk en versoek dat aksynsbelasting met nie meer as 50% van die verbruikersprysindeks (VPI) verhoog word nie.”

In plaas daarvan is die boere wat druiwe vir wyn, vonkelwyn en brandewyn produseer met ʼn bykomende 8% verhoging op hulle bestaande aksynsbelasting gestraf.

Volgens Vinpro se berekeninge word die boer se R4,85 produksiekoste per R45 bottel soos volg opgedeel: Die boer bestee R1,77 aan die kelderproduksiekoste (wat verliese insluit), en 78c aan depresiasie. Die dag tot dag uitgawes beloop R2,30. Daarvan moet hy 45c aan direkte koste, 92c aan arbeid, 43c aan meganisasie, 10c op vaste bates en 40c op algemene uitgawes bestee. Met die 16% loonverhoging gaan hy ʼn ekstra 12c aan arbeid bestee en met die 15% kragverhoging, nog 0,3c aan Eskom moet betaal. Hierdie uitgawes, tesame met die 26c aksynsverhoging maak ʼn baie diep gat in die 77c wat oorbly.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) hou wynboere met valkoë dop en sorg dat die keiser nie ʼn enkele rand verloor nie. Kwagga Boucher, ʼn wynboer en Saai se koördineerder in die Wes-Kaap sê: “Sodra ek my wyn gebottel en my etiket saam met die verpligte Suid-Afrikaanse wynbedryf-inligting en -stelsels(SAWIS)-merk opgeplak het, moet ek die aksynsbelasting betaal. Dit geld vir alle wyn wat my kelder verlaat en gestoor word,” sê Boucher.

“Ek moet noukeurig voorraad hou en die prosedure word elke maand deur die SAID geoudit.”

Boucher voer aan dat daar ʼn fundamentele denkfout oor wynaksyns gemaak word. “Wanneer ʼn verbruiker ʼn pynappel en gis in die supermark gaan koop om bier te maak hoef hy geen aksynsbelasting te betaal nie. Hoekom moet ʼn boer dan opdok as hy gis en druiwe bymekaarsit?

“Die verbruikers en die staat moet besef dat wyn eintlik nie ʼn alkoholiese produk is nie. Dit is ʼn landbouproduk wat net soos enige ander gewas seisoenaal geproduseer word. Dit is hoekom jy wyn in supermarkte kan koop.

“Boonop is dit verkeerd dat die staat die wynbedryf deur die bank blameer vir die hoë vlakke van alkoholmisbruik in die Wes-Kaap. Premium- en tafelwyne word eerder tydens ʼn Sondagete geniet, want dit is bloot net te duur om daardie wyn oormatig te gebruik.”

Dit is ʼn ander saak wanneer papsak- en “rooiprop”-wyne verbruik word, of wanneer wyn in die agterplaas verbou word, sê hy.

Hy sê daar is nou ʼn groep belanghebbendes in die wynbedryf wat ʼn finansiële uitleg van wynprodusente se kostes maak wat hierdie onrealistiese, hoë aksynsbelasting gaan beveg.

Wynboere sit nog met die vorige twee seisoene se oorskot wyn wat ʼn geraamde 270 miljoen liter is.

“Dit is nog nie eens ons huidige voorraad nie,” sê Boucher.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Is/was dit nie die plan al van 26ste Maart en selfs nog voor daai datum om die wit druiwe en wyn boere van die plase af te ry? Luister maar na Mmamoloko Kubayi-Ngubane ons geagte minister van toerisme op 17/02/2021.”Hierdie fonds sal ons gesamentlike pogings tot ekonomiese herstel en heropbou ondersteun, sodat ons die nalatenskap van kolonialisme en apartheid kan uitwis,” Draai nou die gesegte bietjie dan lees hy “”Hierdie verhoogte aksyns sal ons gesamentlike pogings tot ekonomiese herstel en heropbou ondersteun, sodat ons die nalatenskap van kolonialisme en apartheid kan uitwis,” Die ANC wil alles wat privaat is uitwis sodat hulle die Kommuniste Manifes kan instel.

Dirk Mostert ·

Nie alleen is die drankbedryf van inkomste ontneem deur inperkingsregulasies nie, nou word drank meer belas om die regering se gebrek aan inkomste, vanwee hul eie toedoen, gedurende die tydperk te verhaal. “Adding insult to injury!” Onwettige drankhandel was die enigste wenner.

Karpraat ·

Kan ons nie ons eie bottels na die plaas toe neem nie? Die boere hoef nie eers n etiket op te plak nie. Ek is seker ons sal op n prys kan ooreenkom wat hom en my pas. Dis mos so goed ek neem my melkkan na die melkboer en betaal hom daar!

Charl ·

Ek stem saam met Karpraat, ons is veronderstel om ‘n vryemark stelsel te hê, wynprodusente moet hierdie ketting van middelmanne geheel en al uitskakel, dis lagwekkend belaglik hoe die anc op élke denkbare wyse probeer (én regkry !) om ons blanke volkie te verneder en apartheid voor te hou as verskoning vir hulle absolute onbevoegdheid om ‘n (eens florerende) land te probeer regeer !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.