Verhoordatum vas ses maande ná Bokgabo se dood

Klein Bokgabo Poo. (Foto: Twitter)

Byna 200 dae nadat klein Bokgabo Poo se geskende liggaampie aan die Oos‑Rand gevind is, is daar uiteindelik ’n verhoordatum in dié moordsaak vasgemaak.

Die verhoor van Ntokozo Khulekani Zikhali sal op 31 Augustus in die Benoni-hooggeregshof begin.

Zikhali staan tereg op aanklagte van ontvoering, verkragting, moord en die skending van die vierjarige Bokgabo se lyk.

Zikhali was ten tyde van die moord uit op borgtog in ʼn ander saak waarin hy van die verkragting van ʼn negejarige meisie aangekla word.

“Ons hoop dat hierdie saak die kollig sal laat val op en verandering sal teweegbring in die toestaan van borgtog vir veroordeelde of beweerde kinderseksoortreders,” sê Tshepi Mmekwa, aksiesentrumkoördineerder by Action Society.

Bokgabo is op 10 Oktober verlede jaar as vermis aangemeld nadat sy nooit van ʼn park in Wattville, Benoni, teruggekeer het nie. Daar is later op twee afsonderlike plekke op van haar liggaamsdele afgekom.

Dit word beweer dat Bokgabo die betrokke dag saam met ʼn maat by die park in Wattville gaan speel het toe Zikhali hulle na bewering genader het. Zikhali het die maatjie glo geld gegee om suigstokkies te gaan koop voor hy Bokgabo na ʼn onbekende plek gelok het.

Bokgabo se ouers het haar later as vermis aangemeld voordat ʼn inwoner van die gebied op haar liggaampie afgekom het.

Maroela Media het vroeër berig die vrou was besig om haar erf te vee, toe sy ʼn been in die grond opgemerk en die owerhede ontbied het. Nog ʼn liggaamsdeel is daarna gevind.

Nog liggaamsdele is later in ʼn vlak graf in ʼn oop veld sowat 800 meter daarvandaan gevind.

Mmekwa sê Zikhali weier sedert sy inhegtenisneming om te verklap waar die res van die vermiste oorskot is.

Die DNS-agterstand en verskeie uitstelle het die saak tot dusver vertraag.

“Al kan ons Bokgabo nooit terugbring nie, hoop ons dat die verhoor ’n sprankie van hoop op geregtigheid vir Bokgabo se familie sal bring en eindelik tot ’n skuldigbevinding sal lei voor die eerste herdenking van haar wrede moord.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie ·

Die polisie en regstelsel moet hulle koppe sak in skaamte hulle faal die gemeenskappe in SA.

TRP ·

Dit kon verhoed gewees het as geweld teen vroue en kinders nie net lippetaal was nie. Genade waardeur moes hierdie arme kind gaan in haar laaste ure. Dit breek my hart. So jammer vir haar ouers.

Dandeleen ·

pedofiele verander nie!! Hoekom het hulle hom laat uit kom??? Sny af en los hom sonder hulp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.