Verkeersman sterf toe taxi deur padblokkade ploeg

Moses Nose Mathebula. (Foto: Verskaf)

ʼn Verkeersbeampte het in ʼn hospitaal aan sy beserings beswyk nadat ʼn taxi deur ʼn padblokkade op die R551 geploeg en hom getref het.

Pinkie Numa, woordvoerder van die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê Moses Nose Mathebula was verbonde aan die Vereeniging-streekkantoor.

Mathebula en verskeie van sy kollegas het Woensdag ʼn padblokkade op die R551 beman waar voertuie se padwaardigheid onder meer nagegaan is.

Luidens ooggetuieverslae was die taxi in die tou voertuie op pad om deur die padblokkade te beweeg, toe die taxibestuurder glo versuim het om spoed te verminder – na bewering omdat sy remme gefaal het.

“Die taxibestuurder het glo tot op die linkerskouer probeer uitswaai om ander stilstaande voertuie in die tou te vermy, het weer op die pad beland en die beampte getref,” sê Numa.

Ander beamptes het met Mathebula na die Clinix Naledi-Nkanyezi- private hospitaal gejaag, maar hy is by sy aankoms daar dood verklaar.

“Die [taxi]-bestuurder is in hegtenis geneem en by die De Deur-polisiestasie in Sedibeng aangehou. Hy sal teregstaan op aanklag van roekelose en nalatige bestuur, die bestuur van ʼn onpadwaardige voertuig en strafbare manslag.”

Faith Mazibuko, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die provinsie, het gesê Mathebula het die hoogste prys in ʼn tragiese ongeluk betaal terwyl hy die veiligheid van Gautengse padgebruikers probeer verseker het. “Sy onbaatsugtige diens moet ander wetstoepassers inspireer om voort te gaan om hul werk nougeset en met toewyding te doen,” het sy gesê.

“Ons doen ʼn beroep op alle padgebruikers, ook diegene wat van openbare vervoer gebruik maak, om wetstoepassers te help om padveiligheidsmaatreëls af te dwing deur roekelose en nalatige bestuurders en onpadwaardige voertuie op ons paaie aan te meld.

“Ons wil ook ʼn beroep doen op taxibestuurders om te verseker dat hul voertuie padwaardig is wanneer hulle met ʼn reis begin,” het Mazibuko gesê.

Die LUR het ook haar medelye met Mathebula se familie, vriende en kollegas in die wetstoepassingsgemeenskap betuig. Maatskaplike hulp en berading is ook vir sy familie aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Di ·

Dis nie strafbare manslag nie, dis moord. Raak ontslae van al die Taxi’s in die land want nie een van hulle volg die padreels, hulle besit mos die land en die ANC. Soveel onskuldige mense al dood weens taxi ongelukke.

Vonkprop ·

Hou op om ‘n versoek te doen en tree op. Die taxis maak net soos hulle wil, want hulle is mos verhewe bo die wet.

Misky ·

Darem ‘n vreeslike lank beskrywing (skuld ontkenning) oor hoekom die ongeluk plaasgevind het. 95% van die taxis in Durban ry so en almal dan seker daai remme probleem. Kom kyk maar self Ms. Mazibuko

Karen ·

Hoe het hulle dit reg gekry om hom in hegtenis te neem as sy brieke nie gewerk net nie, nonsens man, hy het net eenvoudig gery en al die reëls versuim.

Androclus ·

Stem =hy het net eenvoudig gery en al die reëls versuim.

Anoniem ·

Word daar OOIT enige gehoor gegee aan dié “versoeke” ???

RB ·

Gewoonlik is taxibestuurder werknemer van taxi-eienaar. Neem diè ook in hegtenis. Hy is medepligtig.

Jammer vir die beampte se familie.
Ek kry werklik meeste van diegene jammer wat taxi’s as enigste vervoeropsie het. As passasiers is hul lewens meestal in gevaar die oomblik wat hulle inklim tot hul weer uitklim.

Swerwer ·

Weereens ‘n Taxi. Verwyder die vervloekte doen van ons paaie.

Mary ·

As hulle jou af trek staan hulle in die pad. Glo hy was in die pad. Toe taxi hom stamp.

JohanR ·

Sy remme het gefaal. Seker laas in 1952 na gekyk, of die remskoene is met draad vas gemaak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.