Verkiesing en betoging op dieselfde dag is dom, gevaarlik

Pretoria (Foto: Clayton Majona/Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie het ernstige besware oor die besluit deur die speaker se kantoor in Pretoria om ʼn munisipale raadsvergadering te belê om ʼn burgemeester te verkies op dieselfde dag as wat ʼn beplande ANC-betoging na Tshwane House gereël word.

Die vergadering en die optog is albei vir Vrydag geskeduleer.

“Dit blyk ʼn berekende besluit te wees om politieke voordeel te gee aan die ANC-EFF-koalisie voor die hoogs bestrede verkiesing,” sê Jacqui Uys, voorsitter van die DA Tshwane-koukus. “Geweld, intimidasie en misdadigheid is reeds deel van vergaderings in die Tshwane- munisipale raad. ʼn Verkiesing van die speaker moes hierdie week weer gehou word toe ANC- en EFF-raadslede op die kiesarea afgestorm het en die stemboks gegryp het.”

Beeldmateriaal wys hoe die DA se Shane Maas, die party-agent in die verkiesing vir speaker, van agter aangeval is en deur ANC-raadslid Joel Masilela geskop is. “Daar is al sedert 2016 verskeie aanklagte van aanranding teen Masilela aanhangig gemaak teen mederaadslede. Alles is deur die Suid-Afrikaanse Polisie geïgnoreer.”

Die ANC-EFF-kandidaat vir speaker is as die wenner verklaar ná 69 stemme vir sy opponent, Kholofelo Morodi van Action SA, as “bederf” verklaar is deur die OVK. “Indien die 69 stemme nie as onreëlmatig verklaar was nie, sou Morodi gewen het.”

Toe die uitslag aangekondig is, het die OVK se toesighoudende beampte, Rosina Mkhondo, aan die munisipale raad gesê haar besluit om die 69 stemme ongeldig te verklaar, sal nie enige noemenswaardige impak hê op die uitslag van die verkiesing nie. “Dit is ʼn bisarre en valse verklaring.”

Alhoewel die DA, ActionSA en die Vryheidsfront Plus formeel beswaar aangeteken het teen die OVK se besluit, het nie een van dié party-agente al ʼn reaksie op die beswaar ontvang nie.

“Tot watter mate die geweld, intimidasie en misdadigheid in die raadsaal ʼn invloed gehad het op die besluite van die OVK, is nie duidelik nie. Wat wel duidelik is, is dat ʼn burgemeestersverkiesing op dieselfde tyd en perseel as ʼn optog van die ANC teen die DA, nie gunstige omstandighede is vir ʼn vry en regverdige verkiesing nie,” voeg Uys by.

Die DA se koukusleier in Tshwane, Cilliers Brink, het die kantoor van die speaker skriftelik versoek dat die burgemeestersverkiesing eerder na ʼn geskikte dag volgende week uitgestel word. “Ons sal ook formeel strafregtelike aanklagte van aanranding aanhangig maak teen ANC-raadslid Masilela en prokureurs opdrag gee om seker te maak dat die saak dié keer behoorlik ondersoek word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rooi rissie ·

Mag hulle mekaar maar aanvat en mekaar uitroei sodat ons die regte mense kan kry om ons land suksesvol te bestuur en maar weer die stukke optel en reg maak soos qat ons oor al die dekades doen. MM verwyder my kommentaar as dit nie geskik is nie maar ek glo miljoene mense voel soos ek. Ons almal smag na n beter land en toekoms vir ons kinders en kleinkinder is ons eens mooi land.

Jaco ·

Hoekom kies die EFF ‘n dag ná ‘n naweek en voor ‘n openbare vakansiedag? Die helfte van mense gaan Maandag verlof vat, 4 dae langnaweek hou, weggaan of by die huis rondlê.

Pannies ·

EFF sal aanspraak maak dat almal wat nie Maandag by die werk is hulle ondersteun.

Pannies ·

Lyk my hulle betoog nou teen hulleself.
Dit is regtig nou n sirkus.
Geen orde, respek en gesonde oordeel nie.

Kokerboom ·

Dis so ironies. Die ANC lewer nie enige dienste maar wil betoog om hul nie dienste lewer??Hoe dom en arrogant is die skepsels?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.