Verkiesing moontlik in Schweizer-Reneke

stembus-stem-stemmery

Foto: The-declaration.org

Inwoners van die Mamusa-munisipaliteit in Noordwes, wat Schweizer-Reneke, Amalia en Glaudina insluit, gaan moontlik eersdaags na die stembus nadat die LUR vir samewerkende regering in Noordwes, Gordan Kegakilwe, gevra het dat die huidige raad ontbind moet word.

Dit sou beteken dat tussenverkiesings in al agt wyke sal moet plaasvind.

Die versoek moet nog deur ‘n volle sitting van die Nasionale Raad van Provinsies en deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, goedgekeur word voor dit kan plaasvind.

Tydens ‘n sitting van die raad se staande komitee oor samewerkende regering vandag was veral die ANC en EFF geesdriftig oor die moontlikheid van so ‘n verkiesing en die DA het gesê dis ‘n mors van belastingbetalers se geld, terwyl die VF Plus meen dis ‘n teken van ANC-onbevoegdheid.

Kegakilwe het ‘n verskeidenheid redes aangevoer waarom die raad ontbind moet word. Dit sluit in dat vullisverwydering nie plaasvind nie, dat hulle nie in staat is daartoe om hul begroting sinvol te bestee nie, dat watervoorsiening dikwels onderbreek word dat die munisipaliteit se motors ten gronde gaan en dat infrastruktuur nie in stand gehou word nie.

Pensioen- en siekefondsinbetalings word nie gedoen nie en ouditeurs weier al sewe jaar om ouditbevindings te maak weens swak boekhouding.

Die munisipaliteit se skuld beloop R230 miljoen en daar is geen eiendomswaardasierol nie, het Kegakilwe uitgewys.

Carin Visser, DA-LP, het gesê die DA het vandag alleen gestaan teen die ANC, EFF en VF Plus in die dien van die gemeenskap van die Mamusa-munisipaliteit se belange. “Die beplande ontbinding van die stadsraad is voortydig. Dit is onwettig want die vorige ingrypingsproses het nog nie eens afgeloop nie. Die administrateur wat aangestel is, is heeltemal onbevoeg en eerder as om die gemeenskap se geld verder te mors, moet ‘n bekwame persoon as munisipale bestuurder aangestel word.

“Daar is geen rede om te glo dat die diensleweringsprobleme opgelos gaan word deur ‘n verkiesing nie. Die Mamusa-munisipaliteit is in sy vorige termyn ook ontbind en dit het geen bydrae tot verbeterde dienslewering gelewer nie. Die ontbinding van ‘n stadsraad is veronderstel om net in die mees uitsonderlike gevalle plaas te vind, as ‘n laaste opsie. In hierdie geval word dit duidelik om politieke redes gedoen – die ANC probeer om hul interne twiste in Noordwes op te los.

“Die DA is van mening dat ‘n behoorlike aksieplan en ‘n bevoegde administrateur die verskil is wat die mense van Schweizer-Reneke en omgewing nodig het eerder as verdere mors van geld,” het Visser gesê.

Fanie du Toit, VF Plus-LP, het uitgewys dat die jongste gebeure volg op die aanstel van ‘n administrateur in ʼn poging om die munisipaliteit te stabiliseer en basiese dienslewering te herstel. “Weens deurlopende konflik in die ANC-beheerde raad, asook die feit dat die administrateur aktief deur munisipale amptenare ondermyn is, het hierdie ingryping deur die provinsiale regering nie geslaag nie. Daar kon in die afgelope vier maande geen raadsvergaderings plaasvind nie,” het hy gesê.

“Die ontbinding van die Mamusa-stadsraad is ʼn voortsetting van die ANC se nalatenskap van interne faksiegevegte om die beheer te verkry oor regeringshulpbronne en die gepaardgaande uitdeel van tenders aan ANC-kaders. Hierdie hebsug vernietig gemeenskappe wat reeds met vele sosio-ekonomiese uitdagings gekonfronteer word. Dis ʼn absolute skande dat die ANC-regering toelaat dat hierdie wetteloosheid sonder enige aanspreeklikheid voortduur,” aldus Du Toit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willem Grobler ·

Wat in hierdie geknelde land is nié deur die ANC en sy ontplooide kaders opgefoeter nie?

SjN ·

Dit gaan op alle klein dorpies in noorwes so, nie net op Schweizer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.