Vier vermeende dwelmhandelaars is die afgelope naweek by die Internasionale Lughawe OR Tambo in Johannesburg vasgetrek.
Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, het gesê twee van die verdagtes, onderskeidelik 20 en 35 jaar oud, is in hegtenis geneem waarna hulle na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is. Daar het x-strale getoon dat die verdagtes vreemde voorwerpe gesluk het. “Die verdagtes is heeltyd waargeneem totdat die kondoompakkies, wat dwelms bevat het, verkry is,” het Mogale gesê.
ʼn Derde verdagte is in hegtenis geneem nadat sy bagasie deursoek en kokaïen in die bagasie gevind is, het Mogale gesê.
Die vierde verdagte is vasgetrek danksy inligting wat aan die polisie se misdaadintelligensie-eenheid verskaf is. ʼn Sak is deur doeanebeamptes by die lughawe onderskep en deursoek. Dwelms, vermoedelik kokaïen, is in meer as 20 vrugtehouers in die sak gevind en die eienaar van die sak is in hegtenis geneem.
Die vier verdagtes sou na verwagting Maandag in die Kempton Park-landdroshof verskyn op aanklagte van dwelmbesit en die besit van dwelms met die voorneme om dit te versprei.
“Hierdie inhegtenisnemings en baie ander suksesse is die gevolg van die multi-dissiplinêre taakspan wat op die been gebring is om misdaad by die lughawe hok te slaan. Die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) het ook hul sigbaarheid by die lughawe verhoog om die vloei van verkeer in en uit die lughawe te verbeter. Hulle verseker dat onwettig geparkeerde voertuie weggesleep en verkeersboetes uitgereik word,” het Mogale gesê.
Ek kan nie help om te dink as hulle nou ewe skielik so baie dwelms kry hoeveel is al deur ORT voordat die Polisie se spesiale eenheid aangestel is nie? En hoeveel mense se lewens is verwoes nie.
Ek wil nog altyd weet wat waar en wanneer word die goed vernietig. Wys ons dan weet ons. Ek dink dit word net van hande verwissel. Kan iemand my dalk help daarmee?
Die nes is ‘n goeie aanduiding van die staat van verval van die land.