Vermeende kapers met nagemaakte vuurwapens betrap

Die nagemaakte vuurwapens. (Foto: Verskaf)

Weke nadat twee verdagtes glo ʼn man se motor langs die N12 gekaap het, is hulle nie net met die motor en ander gesteelde goedere betrap nie, maar ook met drie nagemaakte vuurwapens wat glo tydens die kaping gebruik is.

Die twee is in hegtenis geneem en het sedertdien in die Emalahleni-landdroshof verskyn op aanklagte van kaping, besit van gesteelde goedere en oortreding van die Immigrasiewet.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê ʼn man se Toyota Corolla is op 25 Junie langs die N12 gekaap toe hy net ʼn oomblik uit sy motor geklim het.

Weke later het lede van die misdaadvoorkomingseenheid in Emalahleni (Witbank) inligting oor die beweerde kaping opgevolg wat hulle tot ʼn huis in Klarinet gelei het.

“Met hul aankoms by die huis het hulle twee verdagtes aangetref wat in besit was van die gekaapte voertuig. Die lede het die huis deursoek en ander gesteelde goedere gekry soos ʼn kettingsaag, waterpomp en drie nagemaakte vuurwapens,” sê Mdhluli.

Die verdagtes, Nelson Mudavanhu (32) en Takuya Jonali (19), is in hegtenis geneem waarna dit aan die lig gekom het dat hulle nie die nodige dokumente het om wettig in Suid-Afrika te wees nie.

Mudavanhu en Jonali het vroeër vandeesweek in die hof verskyn waar die saak tot 20 Augustus uitgestel is vir verdere ondersoek. Die beskuldigdes sal in polisieaanhouding bly tot dan.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het die inhegtenisneming van die verdagtes verwelkom, asook die feit dat die gekaapte motor teruggevind is.

“Ek hoop dat die deurbraak in hierdie saak die polisie sal help om ander soortgelyke voorvalle in Emalahleni en omliggende gebiede op te los.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Janice du Plessis ·

Dagsê Gerrit
Baie dankie vir jou kommentaar.
Daar is inderdaad ‘n groot verskil tussen gewere en pistole.
Die artikel is intussen gewys om enige verdere verwarring te voorkom.
Groetnis,
Janice
nms
Maroela Media

Nommer 7 ·

Enige draagbare vuurwapen kan wel na verwys word as ‘n geweer. In moderne afrikaans is ons nou meer tegnies, en gebruik nou geweer, pistool en rewolwer. Amerikaners gebruik wel nog “rifle” vir ‘n handwapen.

VaalDonkie ·

Die vuurwapenwet seg nogal pertinent dit tel NIE as ‘n vuurwapen nie.

Nommer 7 ·

Vale, ek verstout my om te se^, maar indien ‘n nagemaakte vuurwapen in ‘n misdaad gebruik word, beskou die howe daardie nagemaakte wapen as ‘n werklike vuurwapen.

domheks ·

Alweer onwettige immigrante wat gou hier kom ryk word!
cANCer verwelkom mos die goed.

Miena ·

Ja hierdie Witbank is n Sodom & Gomorra op sy beste. Hier gebeur baie dinge… veral by die taxistaanplekke, oop en bloot in verskeie mall parkerings en by robotte. As mens nie jou eie kop vashou sal hulle hom afkap en nog teruggooi in jou eie gesig in ook – dis hoe dit hier gaan.

Swerwer ·

Mooi man, maak oop die grense nooi die misdadigers in, ons is mos die land van melk en heuning. Die kommuniste sorg mos vir mekaar.

Piet parys ·

So van watter land is hulle dan . Zim , Lesotho , Malawië ,,Botswana Kenia of Mosambiek ?

ES ·

Hierdie nagemaakte pistole moet absoluut net van die mark af verwyder word en dit moet onwettig wees om een te besit.

As ‘n gelisensieerde vuurwapeneienaar kan ek nie glo dat hierdie gemors oor die toonbank gekoop kan word nie. Dit skep ‘n baie gevaarlike situasie waar een of ander vent gaan onnodig geskiet word deur ‘n regte vuurwapen eienaar want mense dink dis baie oulik om dit te besit sonder om hulself wys te maak deur die Wet op Vuurwapenbeheer.

Noudie dag het ‘n mannetjie vreeslik kom spog oor die ding wat soos ‘n regte pistool lyk en klink. My vraag is toe aan hom wat hy gaan maak as ‘n booswig daardie ding sien en dink hy wil dit vir homself afvat want dit lyk dan soos die ware Jakob.

Antonk ·

Met die opskrif se hulle (VERMEENDE)kapers.Die polisie het dan die gekaapte motor by hulle gekry.Dan is hulle mos kapers en dan moet hulle mos dadelik skuldig bevind word om nie geld te mors nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.