Vermeende plaasaanvaller weer in hof ná ontsnapping

Drs. Werner en Mariette Emslie (Foto: Facebook)

Die verhoorafwagtende gevangene Petrus “Small” Moyo (28) het Maandag in die Lephalale-landdroshof verskyn nadat hy weer aangekeer is ná hy uit aanhouding ontsnap het.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Moyo se aansoek om borgtog is afgekeur en sy saak is tot 4 September uitgestel vir verdere ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig Moyo is Vrydag by ga-Mushi in hegtenis geneem, ongeveer 20 km van die toneel waar hy in Marken ontsnap het. “Sy inhegtenisneming het gevolg ná ʼn grootskaalse soektog deur die polisie in Villa Nora buite Lephalale toe twee verhoorafwagtendes vroeg die oggend ontsnap het.”

Die polisie het na bewering gevangenes van Lephalale na Polokwane vervoer. “Die twee het tussen Steilloop en Marken die dak van ʼn bewegende polisievoertuig oopgesny, uitgespring en in die nabygeleë bosse verdwyn. Die plaaslike polisie is ontbied en die soektog is van stapel gestuur.”

Moyo, van Zimbabwe, is in hegtenis geneem in verband met die moord op dr. Werner Emslie en die aanranding van sy vrou tydens ʼn plaasaanval in September 2017. Die 55-jarige Emslie het op 20 September 2017 omstreeks 20:00 buite sy huis op sy plaas buite Lephalale gesit toe vier gewapende mans hom aangeval en doodgeskiet het. Sy 55-jarige vrou Mariëtte, ʼn algemene praktisyn op die dorp, en die egpaar se 19-jarige dogter Barbara is ook aangeval. Mariëtte het ernstige beserings opgedoen. Werner was ʼn geliefde boer en doktor in bedryfsgesondheid.

“Die aanvallers het tydens die voorval twee handwapens gesteel en met dr. Emslie se nuwe wit Toyota-dubbelkajuitbakkie van die toneel gevlug. Die voertuig is later verlate aangetref.”

Moyo is op 18 Oktober 2017 in Frankfort in die Vrystaat in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklag van moord, huisbraak en diefstal en onwettige immigrasie.

Hy het op 13 November 2017 ook uit die Lephalale-polisieselle ontsnap nadat hy die versperring van die sel afgesaag het. Hy is daarna op 15 November weer in hegtenis geneem.

Lees alle vorige berigte oor die Emslie-plaasmoord op Maroela Media.

Die tweede persoon wat uit die bewegende polisievoertuig ontsnap het, is Witness Shimango (33), ook van Zimbabwe, wat in hegtenis geneem is in verband met ʼn reeks huisrooftogte. “Vier verdagtes het op 11 Julie 2018 omstreeks 17:30 by Leadwood-natuurreservaat ingebreek en twee huismaats vasgebind. Hulle het die huis geplunder en by ʼn kluis ingebreek waaruit hulle vuurwapens en ander items gesteel het. Die verdagte en sy drie medepligtiges is kort daarna in hegtenis geneem ná ʼn intensiewe ondersoek. Die beskuldigde word ook verbind met ander sake van huisrooftogte in Lephalale en omgewing.”

Shimango is nog nie weer in hegtenis geneem ná sy ontsnapping nie. Enigiemand met inligting kan ao Oosie Oosthuizen kontak by 082 783 5623.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

IK ·

Ek kan net nie verstaan dat voet(enkel)boeie nie gebruik word. Ook behoort die gevangene aan die voertuig vasgeboei te word of selfs aanmekaar. Dalk luiheid vd SAPD se kant.? Waar kom die skêr vandaan vir die dak se oopsny en waarom het die geregsdienaars hul nie dopgehou met die vervoer maar belangriker is die deursoek vd die gevangenes vóór vervoer.

Yaya ·

Die dankie moet eintlik gaan aan daadie outjie wat hom vieruur die middag uit die bos uit getackle het nadat ‘n span vrywilligers saam met die polissie die spoor gevat het agtuur die oggend. Jy neuk nie hier in die bosveld nie. Hier kan die polisie en vrywilliers spoor vat oor klippe.

verstom ·

Is hierdie Moyo outjie nie familie van die Moyo wat ‘n paar jaar terug ook so dikwels dit reggekry het om uit Maksimum gevangenis in Pretoria te ontsnap ook na hy moorde gepleeg het. Of, is dit dalk dieselfde Moyo?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.