Vermeende reeksverkragter vas

Een van die vuurwapens waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

ʼn Vermeende reeksverkragter wat ook van gewapende roof en poging tot moord verdink word, is agter tralies.

Lede van die Klipgat- en Hebron-polisie se speurtakke, sigbare polisiëringseenhede en die polisie se taktiese reaksiespan op Brits het Donderdag op die 39-jarige verdagte se huis op Klipgat toegeslaan.

“Die polisie het op die verdagte se huis toegeslaan nadat inligting ontvang is oor ʼn man, in besit van vuurwapens en ammunisie, wat op soek was na ʼn voornemende koper,” sê lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes.

Die verdagtes is tydens die klopjag met ʼn pistool betrap.

Tydens die voorlopige ondersoek van die toneel het dit ook aan die lig gekom dat die man ʼn vermeende reeksverkragter is wat die polisie al twee jaar lank ontduik.

“Die verdagte het glo vroue geteiken en verkrag wat in die vroeë oggendure van tavernes in Klipgat huis toe gestap het. Volgens inligting beroof hy glo ook sy slagoffers van hul persoonlike besittings,” sê Funani.

Opvolgondersoekwerk het die polisie ook na ʼn huis in Mabopane gelei, waar die polisie op ʼn AK47-aanvalsgeweer, ammunisie en magasyne afgekom het.

“Die verdagte staan tereg op verskeie aanklagte van verkragting, poging tot moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.”

Hy sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof op Ga-Rankuwa verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.